BESTAANSREDE
Akademia is ʼn Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling
vanuit en vir Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.
VISIE
Akademia streef daarna om ʼn akademiese tuiste te bied waar sowel die denke
as die hart gevorm word met die oog op ʼn betekenisvolle en vrye toekoms.
Akademia is ʼn universitêre ruimte waar die vrug van die Christelike geloof uitgeleef word deur liefde vir God en medemens. Die geloof in God Drie-enig bied hoop op ʼn beter lewe nou en tot in ewigheid.
Ons bou voort op wat ons vanuit die verlede ontvang het om dit in ʼn beter toestand aan die geslag wat kom oor te gee.
Akademia word gekenmerk deur die deurlopende pionierswerk wat deur die studente en personeel van die instelling gelewer word.
Akademia is verbonde aan die gemeenskappe. Dit is ʼn verbondenheid wat deur vriendskap en geregtigheid, in die konteks van elke individu wat tot sy of haar reg kom, gekenmerk word.
Akademia strewe na die uitbouing van kennis en wysheid. Die strewe na kennis en wysheid word nie afgesluit nie, maar dui in aansluiting by die klassieke universiteitswese op ʼn eindelose avontuur en opgawe.
Terwyl Akademia ’n moderne, toekomsgerigte hoëronderwysinstelling is
sluit ons tegelyk by die klassieke universiteitswese en die opvoedingsideale ten grondslag daarvan aan.
’n Christelike hoëronderwysinstelling
Akademia speel op ’n oop, onbevange en kritiese wyse ’n leidinggewende rol binne die hedendaagse universiteitswese.
Vanuit Christelike vertrekpunte aanvaar Akademia dat daar nie ’n onoorbrugbare kloof tussen geloof en rede bestaan nie. Sonder geloof verskraal die rede tot ’n blote instrument van kontrole en magsuitoefening (terwyl die geloof sonder die denke tot ’n irrasionele saak verskraal word).
In positiewe terme geformuleer: Met sy ankers in die geloof word die rede in staat gestel om na die aard van die ganse skeppingswerklikheid in sy onpeilbare goedheid, waarheid en skoonheid te vra.
Klassieke universiteitswese
Akademia is tot die ideale van die klassieke universiteitswese verbind soos wat dit vanuit ou Griekeland en die Middeleeue gevorm en binne die moderne Europese universiteitswese gestalte gekry het.
Tot die wese van die klassieke universiteitswese staan die gedagte dat die denke tot sy reg kom wanneer dit a). oopstaan vir die wonder van die werklikheid as geheel en dit b). op ’n krities-dialogiese wyse na die aard en wese daarvan vra.
Afrikaans
Gemeenskapsinstelling
Akademia is ’n gemeenskapsinstelling wat, in aansluiting by die voorbeeld van vooraanstaande gemeenskapsuniversiteite elders in die wêreld, daarop gerig is om die universitêre ideale van ’n spesifieke taal- en kultuurgemeenskap te dien.
As gemeenskapsinstelling strewe Akademia tegelyk goeie verhoudinge en wedersydse samewerking met universiteite in Suid-Afrika en elders in die universitêre wêreld na. Die terme “gemeenskap” en “globaal” staan nie by Akademia in spanning met mekaar nie. Inteendeel, die spesifieke gemeenskap en die globale wêreld word by Akademia eerder in onderlinge samehang raakgesien.
Privaat hoëronderwysinstelling
Uitnemende professionele en beroepsgerigte opleiding
Akademia is daartoe verbind om op ’n uitnemende wyse aan die behoefte van professionele opleiding te voorsien. Akademia sien toe dat Afrikaanse studente die arbeidsmark in sy veelheid van segmente suksesvol betree.
Ten grondslag van Akademia se verbintenis tot uitnemende opleiding staan sy roepingsbesef – en in die besonder die ideaal dat studente ook in en deur die beroepslewe geroepe sal wees om ’n Bybelse “lig vir die wêreld” te wees.
Die klassieke ideaal van opvoeding
Akademia is eweneens verbind tot die klassieke ideaal van opvoeding soos wat dit in tradisionele universiteitswese na vore getree het.
In die hart van die klassieke opvoedingsideaal staan die gedagte dat studente nie net spesialiste binne ’n bepaalde dissipline sal wees nie, maar dat hulle tegelyk insig in die geheel van dinge sal hê. Ingevolge die klassieke opvoedingsideaal word dié insig met die strewe na wysheid geïdentifiseer.
Akademia stel ondersoek in na wyses waarop die sogenaamde “groot boeke-tradisie” uit die Westerse kultuurgeskiedenis (onder meer die groot boeke in die letterkunde, die geskiedenis, die teologie, die filosofie, die ekonomie, die wiskunde, die fisika en chemie) ’n integrale plek in sy taak as opvoedingsuniversiteit sal inneem.
Laasgenoemde vooruitsig word onderlê deur die verwagting dat opleiding en opvoeding vanaf die grondfase gelyktydig en met toenemende klem op spesialisering en beroepsgerigtheid sal geskied.
Net soos met sy verbintenis tot opleiding word Akademia se verbintenis tot uitstaande opvoeding gemotiveer deur die roeping om ’n “lig vir die wêreld” te wees.
Navorsing en dosering
Universiteite wêreldwyd word deur ’n spanning tussen navorsing (die teoretiese werk van universiteite) en dosering (die praktiese werk van universiteite) gekenmerk. Navorsing word toenemend ’n selfstandige rol toegeken, met die gevolg dat dosering ten koste van die studente ’n mindere waarde toegeken word. So kom teorie en praktyk op ’n ekstrinsieke grondslag los van mekaar te staan.
Akademia is nie net tot uitnemende navorsing en dosering verbind nie, maar ook tot die noodsaak om beide in hul intrinsieke samehang uit te bou en te ontwikkel. By Akademia ondersteun die belangrike werk van navorsing die ewe belangrike werk van dosering.
Kultuur van openheid en die rol van die vraag
Ondanks die aansprake van bestaande universiteite dat hulle forums van openheid, verdraagsaamheid en kritiese gesprek is, word hulle ironies genoeg toenemend deur politiek-korrekte voorskrifte en ideologies gedrewe programme gekenmerk.
Akademia verstaan homself as ’n forum wat ’n onbevange en kritiese gesprek bemiddel en moontlik maak. In die hart van dié oogmerk staan die sentrale rol wat Akademia en die dosente aan die ‘vraag’ in hul dosering toeken. In aansluiting by gemeenskapsuniversiteite in die VSA soos Baylor Universiteit en Hillsdale Kollege gaan Akademia uit van die gedagte dat die sentrale plek wat die vraag in die dosering beklee ’n belangrike rede is waarom laasgenoemde deur ’n jeugdige lewenskragtigheid, ’n sin vir die eksperiment en die avontuurlike soeke na die waarheid gekenmerk word.
Kortom, in en deur die sentrale plek wat die vraag beklee en die gesprek wat dit uitlok, oefen die dosering aan Akademia ’n magnetiese krag op die studente uit.
Universiteitsargitektuur
Akademia gaan uit van die standpunt dat die wyse waarop sy in die universiteitsargitektuur beliggaam word, nie maar net ’n sekondêre verskynsel is wat as ’n blote aanhangsel tot die wese van die universiteit self gesien kan word nie.
Inteendeel, net soos wat daar tussen teorie (navorsing) en praktyk (dosering) ’n onbreekbare band bestaan, net so is daar ook ’n onbreekbare band tussen die innerlike (die wese van die universiteit) en die uiterlike (onder meer versinnebeeld deur die argitektuur van die universiteitswese).
Akademia strewe daarna om in die toekoms sy Christelike en klassieke aard in die beste moontlike praktyke van die universiteitsargitektuur te beliggaam.
Akademia verwelkom dr. André Van Zyl van die Universiteit van Johannesburg (UJ) om die NP Van Wyk Louw-sentrum se maandelikse openbare lesing te lewer.
Die Fakulteit Opvoedkunde aan Akademia bied ʼn openbare lesing deur prof. Tobie van Dyk, ʼn kenner op die gebied van Toegepaste Taalkunde en Akademiese Geletterdheid, aan.
Akademia Uitgewery stel opnuut met trots die boek Middeleeuse filosofie bekend as deel van ʼn opwindende ooptoegangsinisiatief.
Akademia se studenteraad (SR) vir die 2023/2024-termyn is amptelik ingehuldig op die instelling se Centurion-kampus.
Ariana Venus Behr-Greeff is ʼn eerstejaar BSc (Rekenaarwetenskappe)-student wat onlangs aangewys is as deel van die top 24-deelnemers van Die Kontrak.
Die NP van Wyk Louw-sentrum ontvang vir prof. Johann Rossouw van die Universiteit van die Vrystaat (UV) om ʼn openbare lesing te lewer.
Akademia se eerste internasionale Teologie en Filosofie-konferensie het vanjaar vanaf 13 tot 15 Julie in Centurion plaasgevind.
Akademia het onlangs ʼn loopbaanskou op die Centurion-kampus aangebied waar verskeie instellings die kans gehad om hul loopbaangeleenthede aan Akademia-studente, oftewel Fonties, te bemark.
Fonties op die Centurion-kampus het deelgeneem aan Omgeeweek waar nie-bederfbare voedselprodukte, huishoudelike items en méér as 312 kg se voorheen geliefde klerasie ook ingesamel is.
Mariska Wannenburg, ʼn dosent in Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia, was een van slegs 22 akademici wêreldwyd wat die geleentheid gebied is om ʼn referaat te lewer tydens die tweejaarlikse internasionale konferensie van die Suider-Afrikaanse Rekeningkundige Vereniging (SAAA) wat vanaf 28 tot 30 Junie by Sun City aangebied is.
Johann Smith, bied ʼn werkswinkel aan oor verhoudings vir Hoërskool Zwartkop in Centurion se beraderspan.
Akademia-dosent, dr. Nic de Jager, is een van sestien kenners wat Multimodaliteit-kollokwium bywoon.
Akademia vier Wêreldakkreditasiedag met antwoorde op gereelde vrae rakende akkreditasie en erkenning van kwalifikasies wat aan die instelling gerig word.
Die Afrikaanse vertaling vanuit Grieks van die boek, Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates, is onlangs bespreek by ʼn Akademia-paneelgesprek.
Eerste openbare lesing vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum deur prof. Reitze Rodseth vind plaas.
Akademia vereer studente en personeel se uitnemende prestasies by akademiese prestigefunksie.
Akademia-konferensie bespreek uitwerking van nuwe energiebelange op die Suid-Afrikaanse staat.
Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates verskyn by die Akademia Uitgewery.
Akademia se eerste honneurskwalifikasie in Ondernemingsbestuur word bekendgestel vir 2023.
Akademia se navorsingsweek wat by Leriba in Centurion plaasgevind het was nog ʼn hoogtepunt tydens die instelling se tiende jaar van klasgee.
Die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia het as gasheer opgetree vir die 21ste jaarlikse studentesimposium vir die natuurwetenskappe van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK).
Die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia het die tweede WL Grant-gedenklesing in die Hemingways-lokaal by Leriba in Centurion, aangebied.
Akademia het op 18 Oktober 2022 tydens ʼn bekendstellingsfunksie by Leriba in Centurion die nuus bekendgemaak dat die instelling ʼn opwindende kortkursusplatform genaamd Akademia et al. van stapel stuur.
Die Akademia-gedenkboek is op 10 Oktober 2022 amptelik aan Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, oorhandig.
Tydens Akademia se prestige-tienjaarfunksie wat op 10 Oktober 2022 gehou is, is die universiteitslied van dié instelling vir die eerste maal deur die Akademia-koor gesing.
Akademia het op die tiende dag van die tiende maand (10 Oktober) tien jaar van klasgee gevier tydens ʼn glansfunksie wat by die Sol-Tech-kampus in Pretoria gehou is.
Akademia se Fakulteit Regsgeleerdheid is op 5 Oktober bekendgestel by die instelling se Centurion-kampus.
Akademia stel Die Pionier, ʼn spesiale ontbytkoffiemengsel, bekend ter viering van ʼn dekade se pionierswerk.
Akademia hou Bestuurswetenskappe-simposium ter voorbereiding van vyfde industriële revolusie.
Carami van der Vyver en haar besigheid, Heart of Courage, is aangewys as die 2022-wenner van die BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie.
Akademia stuur op 28 Julie 2022 ʼn navorsingsveldtog genaamd #Studentelewe van stapel om ʼn nasionale gesprek te begin oor hoe ʼn gesonde en gebalanseerde studentelewe behoort te lyk.
Akademia het aangekondig dat professor Hermie Coetzee, gesoute akademikus en toegelate prokureur, as die dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid aangestel is.
Akademia stel op 20 Julie Loopbaanlens bekend om skoliere, studente en werkendes te help met onsekerheid oor vak- en loopbaankeuses.
André Pienaar, stigter en voorsitter van C5 Capital, het op 19 Julie ʼn gaslesing by Akademia se Centurion-kampus vir Akademia-studente en personeel aangebied.
Solidariteit Finansiële Dienste (SFD) het op 7 Julie ʼn praatjie vir Akademia se Fonties aangebied waar praktiese spaarwenke met die studente gedeel is ter viering van Spaarmaand.
Akademia het op Donderdag 30 Junie amptelik die instelling se Fakulteit Natuurwetenskappe tydens ʼn spoggeleentheid by die WNNR in Pretoria bekendgestel.
Akademia het die skenking van die N. P. Van Wyk Louw-versameling, bekendgestel wat deur Peter Louw, seun van hierdie bekende Afrikaanse digter en filosoof, aan Akademia geskenk is.
Akademia het ʼn heel eerste koorfees aangebied en dié geleentheid was ʼn reusesukses. Die koorfees het uit vyf kore bestaan: Die Hoërskool Menlopark, Hoërskool Eldoraigne, Hoërskool Zwartkop, Hoërskool Garsfontein en die Akademia-koor.
Akademia het die nuus aangekondig dat LLB vanaf 2023 ook voltyds via die kampusmodel by die Centurion-kampus aangebied gaan word.
Een van Akademia se BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-student, Raino Botha, is as ʼn ambassadeur van Solidariteit Jeug se #StudenteStem-veldtog by die Solidariteit-hoofkantoor aangewys.
Akademia ken die meeste kwalifikasies nog toe tydens die jaarlikse kwalifikasieplegtigheid. ʼn Totaal van 339 kwalifikasies is by die Atterbury Teater in Pretoria toegeken.
Die Fakulteit Opvoedkunde het by koshuis@Leriba ʼn onderwysleierskapsimposium aangebied met die tema “Terug na die toekoms”.
Akademia se Departement Regsgeleerdheid het ʼn simposium gehou oor regsvaardighede in die LLB-kurrikulum.
Die drie koshuise, Huis Valorem, Huis Hennops en Huis Strelitzia, se handelsmerke is amptelik bekendgestel.
Die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe hou ʼn begrotingsrede-funksie waar kenners die 2022-begrotingsrede bespreek.
Die eerste taalkonferensie met die tema – Afrikaans, ʼn taal met ʼn toekoms – vind by koshuis@Leriba plaas.
Splinternuwe privaat studenteverblyf is bekendgestel vir Akademia-studente, genaamd koshuis@Leriba.
Akademia het die nuus aangekondig dat ʼn BEd (Grondslagfase-onderwys)-program vanaf 2022 voltyds by die Gerhardstraatkampus in Centurion aangebied gaan word.
Akademia het op Wêreldonderwysersdag die Fakulteit Opvoedkunde amptelik by die AfriForum Teater bekendgestel.
Die splinternuwe studenteraad (SR) vir 2021/2022 is op die Centurion-kampus tydens ʼn spoggeleentheid ingehuldig.
Akademia bied eerste groot kampusopedag aan sowel as suksesvolle Elite-Fontiedag op die Centurion-kampus.
Akademia het onlangs ʼn splinternuwe podsendingsreeks oor neutvars nuustemas bekendgestel met die naam #KennersPraat
Akademia kondig aan dat BEd (Intermediêre Fase-onderwys) vanaf 2022 by die Centurion-kampus voltyds deur topakademici aangebied gaan word.
Akademia het ʼn suksesvolle eerste groot gholfdag gehou en R80 000 is vir die Akademia Skenkingsfonds ingesamel.
Akademia het op 28 April die netbalspan ingehuldig, waar die spanlede, gaste en borge mekaar kon leer ken en bande kon smee.
Helpende Hand het ʼn nasionale tak vir Akademia-studente, genaamd die Akademia Helde, gestig en die dagbestuur is ook aangekondig.
Akademia ken welverdiende kwalifikasies in absentia toe. Hierdie kwalifikasietoekennings is die meeste wat Akademia nóg toegeken het!
Akademia verwelkom eerstejaarstudente in BA (Kommunikasie en Joernalistiek) en BSc (Wiskundige Wetenskappe) tydens die oriëntering wat op die Centurion-kampus plaasvind.
Akademia verwelkom eerstejaarstudente in BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde) tydens die oriëntering wat op die Centurion-kampus plaasvind.
Akademia kondig met trots aan dat die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe versterk het met die aanstelling van dr. Rachel Maritz.
Die instelling kondig aan dat ʼn CIMA-toekenning vir onderriguitnemendheid tydens ʼn virtuele toekenningsplegtigheid ontvang is.
Akademia verwelkom die eerste studente vir die nagraadse diplomas in onderskeidelik Belasting en Bestuursrekeningkunde tydens hulle oriëntering.
Eerste studente in die Fakulteit Opvoedkunde word tydens oriëntering verwelkom. Die Nagraadse Onderwyssertifikaat (Senior Fase- en VOO-onderwys) word vanaf 2021 vir die eerste keer aangebied.
ʼn Opwindende nuwe kwalifikasie, BA (Kommunikasie en Joernalistiek), word tydens ʼn spoggeleentheid bekendgestel.
Akademia publiseer sy eerste oorspronklike werk, opgevolg met ʼn monumentale boek oor die Middeleeuse filosofie.
Akademia kondig aan dat BSc (Wiskundige Wetenskappe), ʼn eerste in die Fakulteit Natuurwetenskappe, vanaf 2021 op die Centurion-kampus aangebied gaan word.
Akademia het ʼn baanbrekersprestasie behaal met die publikasie van sy eerste oorspronklike boek, Knooppunte: Opstelle vir en oor Danie Goosen.
Akademia stel ʼn voltydse kampusmodel aanlyn bekend. Studente sal bedags kan klas draf op die Centurion-kampus.
Akademia maak bekend dat die instelling se eerste nagraadse kwalifikasies, en ʼn eerste programaanbod vanuit die Fakulteit Opvoedkunde, vanaf 2021 op die nauurse afstandmodel aangebied sal word.
Een en veertig eerstejaarstudente reis van heinde en verre om Akademia se heel eerste eerstejaarskamp by Camp Discovery, buite Pretoria, by te woon.
Akademia se eerste Prestige-aand word gehou, waar die eerste Futurum-toekenning oorhandig word.
Akademia publiseer sy eerste boek, ’n Afrikaanse vertaling van Plato se Verdediging van Sokrates.
Akademia kondig die aanstellings van die akademiese hoof en drie dekane aan. Die dekane is getaak met die oprigting van fakulteite in die Geesteswetenskappe, Natuurwetenskappe en Opvoedkundige Wetenskappe.
Akademia ontvang die nuus dat die BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie deur CIMA (Chartered Institute of Management Accountants) erken word – boonop met die grootste vrystelling van CIMA-eksamens in Suid-Afrika.
Akademia word ten volle as hoëronderwysinstelling deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHET) geakkrediteer.
In April het Akademia by sy vyfde jaarlikse plegtigheid vir die eerste maal grade toegeken, toe dertien studente wat in 2014 ingeskryf het hulle grade in BCom (Ondernemingsbestuur) ontvang het.
Akademia verwelkom eerste studente by die studiesentrums in Bloemfontein, George en Paarl, asook die eerste studente vir BCom (Ekonomie en Regte) en BCom (Finansiële Beplanning).
Akademia stel die nuwe kwalifikasie, BCom (Ekonomie en Regte) tydens ’n dinee in Pretoria bekend. Hierdie graad word vanaf 2017 aangebied.
Akademia ontvang die literêre versameling van die digter, vertaler, letterkundige en radioman dr. Daniel Hugo tydens ’n spesiale dinee.
Akademia se eerste BCom (Bestuursrekeningkunde)-studente word tydens oriëntering verwelkom.
Akademia se eerste BCom (Ondernemingsbestuur)-studente word tydens oriëntering verwelkom.
Akademia stel ses onderrigleersentrums (Boksburg, Centurion, Die Moot, Roodepoort, Stellenbosch en Vanderbijlpark) regoor Suid-Afrika bekend.
Akademia verwelkom 42 studente in vyf programme tydens die instelling se eerste kontaksessies.
Ontvang die nuus dat Akademia as hoëronderwysinstelling geregistreer is. Die instelling word op 19 Januarie 2012 aan media en akademici bekendgestel.
REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE
Akademia MSW (Maatskappyregistrasienommer: 2005/024616/08) is by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding as privaat hoëronderwysinstelling geregistreer ingevolge die Wet op Hoër Onderwys, 1997 • Registrasienommer: 2011/HE08/005 | © Kopiereg 2023 – Akademia – Alle Regte Voorbehou
Privaatheidbeleid | Vrywaring | HelpDesk tool provider: HelpDesk | Chat provider: LiveChat