Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

NP van Wyk Louw-sentrum skop die jaar af met eerste ereleerstoellesing

Gepubliseer op: 5 Maart 2024

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum

Op Donderdag 29 Februarie het die NP Van Wyk Louw-sentrum sy eerste openbare lesing vir die jaar by die Gerhardstraat-kampus in Centurion aangebied. Carel Boshoff, die bekleër van die NP van Wyk Louw-sentrum se ereleerstoel, het soos verlede jaar weer ’n uitstekende lesing gelewer. Die lesing het gaste, insluitende lede van die publiek en vriende, personeel en studente van Akademia oor dieper dinge laat nadink.

Boshoff het die gehoor ingelig oor die belangrike rol wat kardinale deugde, in teorie asook praktyk, veronderstel is om in ons gemeenskappe en ook by Akademia self te speel. Deugde soos dapperheid en vriendskap kan nie agtergelaat word wanneer daar oor die doel van die lewe bepeins word nie. Alhoewel die sogenaamde deugde-etiek sy oorsprong in die heidense wêreld van ouds het, het die klassieke Christelike wêreld in die Middeleeue baie kreatief die samehang tussen die heidense deugde en teologiese deugde suksesvol opgesoek, en belangrik, geleef.

Die herwinning van die deugde is uiteraard by Akademia onvermydelik, gegewe ons toewyding aan die klassieke bronne. Boshoff het juis ook uitgewys hoe belangrik dit vir Akademia, as gemeenskapshoëronderwysinstelling, is om selfs nog ten grondslag van die deugde, roeping- of doelgeoriënteerd te dink en te leef.

Hierdie ereleerstoellesing was die eerste van verskeie wat vanjaar op die NP van Wyk Louw-sentrum se program is. Daar word beplan om vanaf Maart tot September maandelikse openbare lesings asook die jaarlikse Teologie en Filosofie-konferensie aan te bied. Daar word ook uitgesien na die jaarlikse Krisis in die Weste-konferensie. Om op hoogte van die NP van Wyk Louw-sentrum se nuus en gebeure te bly – hou gerus Akademia se sosiale media dop of kontak die sentrum by npvw@akademia.ac.za.

Carel Boshoff, bekleër van die ereleerstoel by die NP van Wyk Louw-sentrum, het sy jaarlikse openbare lesing aangebied.
Dr. Daniël Maritz, bestuurder: NP van Wyk Louw-sentrum, saam met Carel Boshoff, prof. Danie Goosen, uitvoerende hoof: Akademie by Akademia, en Daan Goosen, spesialis: Vormingsideaal.