Die
NP VAN WYK LOUW-SENTRUM
Die doel van die NP van Wyk Louw-sentrum is om toe te sien dat die klassieke universiteitsidee (die vormingsideaal) aan Akademia gevestig, uitgebou en ook aan die breër wêreld uitgedra word.
Die hoogste ideale van die klassieke universiteitswese is in die Christelike geloof en die uitgangspunte van die Westerse kultuur gegrond. Anders verwoord, Akademia is gegrond in ‘Jerusalem’ (die oorsprong van ons geloof); ‘Athene’ (die oorsprong van ons denke) en ‘Rome’ (die oorsprong van ons sin vir orde en reg).
“Vanuit sy Christelike en klassieke gronde is Akademia verbind tot die strewe na die ware, die skone en die goeie.”
– prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia

Vanaf hul vroegste oomblikke is die klassieke universiteitswese vanuit genoemde ideale daartoe verbind om die denke en karakter van studente te vorm; om hul vir ʼn uitnemende beroepslewe asook vir ʼn volwaardige burgerskap in hul kultuur en gemeenskap voor te berei.
ʼn Sentrale kenmerk van hedendaagse universiteitswese is om die strewe na die ware, die skone en die goeie met materialistiese, relatiwistiese, pragmatiese en individualistiese oogmerke te vervang. Met sy verbintenis tot die hoogste ideale van die klassieke universiteitswese bied die NP van Wyk Louw-sentrum ʼn rigtinggewende antwoord op die hedendaagse universiteitswese.
Verken die NP van Wyk Louw-sentrum se ideeforum
Wat is die
KLASSIEKE UNIVERSITEITSIDEE?
Die wese van die klassieke universiteitsidee (ook as die “vormingsideaal” bekend) word saamgevat in die strewe na insig in die waarheid, goedheid en skoonheid van die skepping. In en deur dié strewe kom die “akademiese lewe” tot sy reg.
Ter wille van helderheid kan tussen die teoretiese en praktiese dimensies van die “vormingsideaal” onderskei word. Akademia gaan uit van die standpunt dat sowel die teoretiese as die praktiese dimensies belangrik is.

Akademia het ten doel om studente op te lewer wat deur sowel ʼn uitnemende kennis van hul onderskeie dissiplines as deur insig in die samehang tussen die verskillende dissiplines gekenmerk word. Geformuleer met behulp van die oerou onderskeid tussen die ‘dele en die geheel’: Ná die voltooiing van hul studies beskik studente nie net oor uitstaande kennis van ʼn deelaspek van die geheel nie, maar ook oor insig in die geheel self.
Akademia is by wyse van die vormingsideaal ook tot die praktiese vorming van die karakter van studente verbind.
Vanweë die fragmentasie van die Christelik-Westerse wêreld in ʼn veelheid van botsende lewens- en wêreldbeskouings is universiteite vandag nie meer tot karaktervorming verbind nie. In die plek van karaktervorming word eensydig klem gelê op die individuele regte van die onverbonde student/verbruiker.
Akademia gaan uit van die standpunt dat karaktervorming in ʼn tyd van fragmentasie ʼn rigtinggewende ideaal vir die hedendaagse student verteenwoordig. Deur middel van karaktervorming kom studente ‘tuis’ in ʼn wêreld wat deur ʼn sin vir heelheid eerder as deur fragmentasie gekenmerk word.
Hoekom juis die
NP VAN WYK LOUW-SENTRUM?
NP van Wyk Louw verteenwoordig in die geskiedenis van die Afrikaanse kulturele lewe ʼn intellektuele hoogtepunt. Louw het homself in sy werk (onder meer in Liberale nasionalisme) tot bogenoemde drie ‘stede’; die strewe na waarheid, goedheid en skoonheid, asook die sentrale klem op die belangrikheid van insig in die geheel verbind. Met die naam ‘NP van Wyk Louw-sentrum’ verbind Akademia homself tot ʼn erkenning en uitbouing van die intellektuele hoogtepunte wat Louw in die Afrikaanse intellektuele landskap verteenwoordig.
Watter sake val onder
DIE SENTRUM?
Die NP van Wyk Louw-sentrum is verantwoordelik vir die volgende oorhoofse funksies:
Die sentrum sien toe dat die personeel van Akademia op ʼn deurlopende grondslag in die vormingsideaal geskool word. Lesings, aanbiedings, besprekings, ensovoorts, word aan sowel ‘ou as nuwe’ personeel aangebied.
Die sentrum sien toe dat die dosente van Akademia die vormingsideaal in hul onderskeie dissiplines integreer.
Die sentrum sien toe dat dosente verslag oor hul vordering m.b.t. die integrering van die vormingsideaal lewer.
Die sentrum ondersteun die integrering van die vormingsideaal in die studentelewe (sport, kultuur, ensovoorts).
Die sentrum ondersteun die integrering van die vormingsideaal in die algemene kultuur op kampus. Eiesoortige universitêre rituele (gradeplegtighede, verdediging van proefskrifte, akademiese prosessies, ensovoorts), openbare byeenkomste (lesings, gesprekke, ensovoorts) en simbole (eie estetika, beelde en metafore) op kampus gee konkrete uitdrukking aan die vormingsideaal.
Die sentrum word die “ideeforum” van Akademia. Deur middel van die sentrum word navorsing oor grondliggende idees gedoen (die historiese oorspronge van die hedendaagse ideekrisis; die hedendaagse ‘stryd om idees’ en rigtinggewende antwoorde).
Die sentrum sien toe dat die vormingsideaal by wyse van onder meer openbare lesings en die media in die algemeen met die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap gekommunikeer en dit van die grootsheid en rigtinggewende aard daarvan oortuig word.
Die sentrum sien toe dat Akademia met universiteite, denkforums en akademici in die internasionale wêreld skakel wat tot die vormingsideaal verbind is. Sodanige skakeling geskied by wyse van wedersydse besoeke, lesings, onderhoude, ensovoorts.
Sedert 2021 verwelkom Akademia vir Carel Boshoff as die eerste bekleër van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel in kultuurkritiek.
Die sentrum is verantwoordelik vir die bestuur van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel in Kultuurstudies (die reël van erelesings op gereelde grondslag, publikasies vanuit die ereleerstoel, ensovoorts).
LEESSTOF

Hoekom is sogenaamde “liberale” opvoeding en opleiding, soos wat ons by Akademia nastreef enigsins noodsaaklik? Die skrywer, Mark Kalthoff, gee ʼn kort en kragtige antwoord op hierdie vraag soos wat hy ons weer terugwys na die bronne toe. Die taak van studie moet nie nagejaag word vir sy eie onthalwe en bybedoelings nie, want slegs dan kan dit die siel oriënteer na die ware, goeie en skone toe.

Thomas Howe deel in hierdie artikel sy waarnemings oor die impak van postmodernisme op verskeie aspekte van die samelewing en menswees. Hy fokus onder andere op postmodernisme se invloed op die wetenskap, waarheid, en rede. Uiteindelik wys hy die inherente teenstrydighede van postmodernisme uit op ʼn produktiewe en sinvolle manier, en doen dit vanuit die bronne van die Christendom en gesonde rede.

Die konsep “wêreldbeskouing” word gereeld deur veral teoloë, sosioloë en filosowe gebruik. Die vraag wat presies ʼn wêreldbeskouing is, word egter nie altyd krities oor nagedink nie. Daniël Maritz en Karnu van Heerden pak hierdie vraag op ʼn genuanseerde manier aan. As dit verkeerd verstaan word, kan die konsep van “wêreldbeskouing” eerder afbreuk doen aan die werklikheid en ons deelname daarin. Solank as wat die werklikheid dus behoue bly binne die raamwerk van metafisiese realisme, kan die konsep “wêreldbeskouing” vrugtevol gebruik word.
KONTAK ONS
Kontak gerus die NP van Wyk Louw-sentrum by npvw@akademia.ac.za of skakel 0861 222 888.
REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE