Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

’n Teologie van rus

Gepubliseer op: 21 September 2023

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia

In die professionele werksomgewing word frases soos “hurry sickness”, “fast life”, “consuming life”, “unending workdays”, “turbo capitalism”, “overwork”, “the urgent now”, “speed, stuff and stress” en “burnouts” deel van die alledaagse woordeskat. Dit is verder geen geheim dat die meeste studies oor die fenomeen van uitbranding aantoon dat dit jaarliks en wêreldwyd aan die toeneem is nie. Die meerderheid mense wat byvoorbeeld vir vyf jaar al by ’n bepaalde maatskappy werk, stel dat hul stres en werkslading elke jaar aan die toeneem is soos wat verwagtinge om te presteer ook toeneem.

In The Guardian het daar ’n artikel verskyn wat gebaseer is op ’n onderhoud met Elon Musk, hoof- uitvoerende beampte van Tesla. In die artikel noem Musk dat sy werksweek uit ongeveer honderd-en-twintig uur bestaan. Vir perspektief is dit die moeite werd om te noem dat ’n week slegs honderd-agt-en-sestig uur in totaal het. Musk brei verder uit deur te verduidelik dat hy op sy sewe-en-veertigste verjaarsdag stoksielalleen in sy kantoor was, besig om te werk met geen vriende in die omtrek nie. In sy eie woorde: “All night – no friends, nothing”.

Daar is natuurlik verskeie redes vir hierdie wêreldwye neiging in die professionele werksplek. Die feit dat aanstellings nie altyd permanent is nie en dat werksgeleenthede nie altyd volop is nie sorg daarvoor dat iemand bereid is om meer ure te werk as wat werklik nodig is en hoër prestasiedoelwitte te stel as wat werklik haalbaar is. Daar is boonop ook ’n groot skuif wat betref die faktore waarin moderne mense hul identiteit vind. Waar mense gewoonlik eerder hul hoofidentiteit in hul deelname aan hul gemeenskappe (huwelike, gesinne, ens.) gevind het, vind die moderne mens sy identiteit veel eerder in status, mag, geld en professie as individu. Selfs die vooruitgang in tegnologie het heel ironies bygedra tot samelewings waar ons as mense nie minder nie, maar meer werk. Tegnologie het as’t ware die huisgesin binnegedring deur mense se slaapkamers in kantore te verander. Meer nog, die groei van ʼn masjienagtige verbruikerswese en verbruikerskultuur funksioneer as die dryfveer vir die ononderhandelbare en onmiddellike vervulling van die begeertes van die individu.

Soos wat die wêreld met die opkoms van modernisme en sekularisme in hierdie konstante poging tot opwaartse mobiliteit ingedompel is, veroorsaak dit egter ook ʼn konstante konflik met tyd.

Tyd is nie die eenvoudigste ding om van sin te maak nie. Dit voel soms asof die konsep van tyd tot ’n ander wêreld behoort omdat ons in vele opsigte ’n verlies het aan die nodige en korrekte kategorieë om dit te verwerk. Selfs al het die mensdom ’n toestel ontwerp wat rondom jou gewrig pas waarmee die spesifieke tyd van die dag gelees kan word, is die ervaring van tyd, anders as ruimte en materie, steeds in vele opsigte ontasbaar vir die mens.

Die probleem in die alledaagse lewe is dat hoe meer die mens fokus op sy horlosie om sy gewrig (of deesdae eerder die slimfoon in sy sak), hoe meer voel die mens asof daar nie meer genoeg tyd is vir alles wat nog vermag moet word in sy professionele loopbaan nie. Die feit dat tyd enigsins verstaan word as iets waarmee ons in konstante konflik staan verklap egter net die mate waartoe die wêreld vandag ingekoop het in ’n moderne opvatting van tyd. Tyd word nie meer in ’n dieper metafisiese sin as die aktualisering van potensialitiet beskou nie, maar word eerder bloot net tot horlosietyd waarteen ons konstant moet kompeteer gereduseer.

Die Joodse filosoof, Abraham Heschel, verwoord in sy boek oor die Sabbat die probleem soos volg: “Man transcends space, but time transcends man.” Alhoewel die mensdom, in ’n sekere sin, ruimte en materie oorwin het, bly die mens se oorwinning oor tyd steeds onmoontlik. Selfs die horlosie is slegs ʼn poging om tyd tot ruimte en materie te reduseer, aangesien ruimte wat deur materie beslaan word meer hanteerbaar is. Die sosioloog, Os Guinness, verwoord die probleem soos volg:

We may have conquered space … but we have not conquered time, and our time saving has turned into our time slaving… in our restless haste we have also obliterated the gap between one thing and the next thing so that our breaking news, our emails, our phone calls, our texts and our to-do-lists come faster and more crowded than ever … The boundaries between work and leisure, public and private, are dissolving, so that we have no rest and we are all forced to be time jugglers and multitaskers … We are all overwhelmed by all we have to do, and we struggle with priorities to remember and agendas to keep under control. Time slaves under an unforgiven master, we are Darwinians now, living under the daily threat of ‘the survival of the fastest.’

Hierdié mededinging met tyd veroorsaak ook dat mense nie weet hoe om in die fisiese wêreld te leef en tegelyk onafhanklik van die fisiese wêreld te bly nie. Alhoewel mense dus hulself letterlik in sekere voordele op politiese en sosiale vlakke ingewerk het, is bitter min mense nie verslaaf aan dinge nie. Meer nog, dit is vir baie mense in die professionele werksplek moeilik om te ontken dat hulle slawe van hul horlosies, en per implikasie, hul dagboeke is.

Hierdie konstante konflik met tyd waar ’n lewe alleen deur ’n horlosie dikteer word, speel direk in op die modernistiese poging tot aanhoudende opwaartse mobiliteit. Dit sorg daarvoor dat mense dikwels nie meer ware rus ervaar nie. Omdat ware sielsrus in beginsel oop moet wees vir die transendente, het die modernisme en sekularisme (wat vanuit die staanspoor nie die bonatuurlike kan akkommodeer nie) verseker dat die moderne mens afgesny is van “die dinge daarbo”. Charles Taylor, Kanadeese filosoof, beskryf daarom die sekulêre persoon as ’n “beskutte self”, dit wil sê ’n self wat nie oop is vir die transendente nie. Dit is daarom nie ’n geval waar mense bloot net nie meer ware rus ervaar nie, dit is eerder ’n geval waar die mens vergeet het hoe om te rus.

Die mens het natuurlik sy alledaagse professionele werk wat hom besig hou in die lewe. Maar daar is by elkeen ook ’n werk wat diep in die siel gesetel is. ’n Werk onder die oppervlakte van ons alledaagse werk. Hierdie dieper vorm van werk kan anders lyk van mens tot mens, maar dit wil voorkom of die mens homself aanhoudend aan homself en ander mense wil bewys. Onder die oppervlak het die mens ’n behoefte om erken en aanvaar te word wat op hierdie manier ’n dieper motivering vir dinge is en ook geweldige druk op mense plaas. Hiérdie dieper motivering is uiteindelik die werk wat oor die lang termyn nie net fisies uitputtend is nie, maar ook geestelik. Dit veroorsaak ’n diepliggende sielrusteloosheid wat nie deur fisiese rus en ontspanning weggeneem kan word nie. Dit verduidelik hoekom blote fisiese rus en ontspanning nie kan kwalifiseer as ware sielsrus nie. Om waarlik te rus van werk moet ’n mens dus van beide jou alledaagse werk, asook die werk onder die werk, rus.

Tim Keller, Amerikaanse predikant, verduidelik die konsep by wyse van ’n analogie met REM-slaap (rapid eye movement-slaap). Om jouself heeltemal oornag te herstel vir die volgende dag se werk kort ’n mens nie net ’n spesifieke aantal uur se slaap nie, maar ook die nodige diepte van slaap. Hierdie nodige diepte van slaap word REM-slaap genoem, en word eers ná so paar uur se slaap volkome bereik. Iemand kan dus nie byvoorbeeld agt keer ’n een uur slaap neem en verwag hy gaan volkome uitgerus wees nie. Die moegheid gaan steeds die volgende dag inskop ten spyte daarvan dat hy tegnies agt ure lank geslaap het. Dit is uit die aard van die saak nie net die aantal uur slaap wat ’n mens nodig het nie, maar ook die diepte van slaap.

Net so gaan ware sielsrus nie net oor fisiese rus en ontspanning nie, maar ook oor die diepte van rus. Die kerkvader Augustinus het iets hiervan verstaan toe hy tot God gebid het met die woorde: “Ons siele is rusteloos totdat hulle in U rus vind.” Hierdie kort sinnetjie van Augustinus dien hieronder as ’n inleiding tot ’n teologie van rus. Die alternatief op die kondisie van die moderne wêreld se aanhoudende pogings tot opwaartse mobiliteit, konstante konflik met tyd, en die verlies aan die vermoë om ware sielsrus te bekom word effektief vervat in ’n behoorlik geformuleerde teologie van rus. Hierdie teologie maak steeds erns met die Sabbat sonder dat dit oorspoel na wettisisme toe.

Die Sabbat opsigself is ’n unieke verskynsel in die Ou Testament. Dit is byvoorbeeld die eerste ding wat God in die Bybel heilig verklaar (Gen. 2:3). Die ander hoogtepunte in Israel se geskiedenis soos die tabernakel, tempel of beloofde land kom nie in die opsig van uniekheid naby aan hierdie Sabbatsinstelling van God nie. Die feit dat God dit heilig verklaar het, impliseer ook dat selfs al onderhou niemand die Sabbat nie dit steeds heilig bly. Meer nog, die Sabbat is nie soos die tempel en die beloofde land ’n plek wat materiële ruimte beslaan nie, maar eerder ’n heilige oomblik in tyd. Alhoewel die Israeliete byvoorbeeld hulle tempel en land verloor het en weggevoer is in ballingskap, het hulle nooit hul Sabbat as ’n heilige instelling van God verloor nie.

Vir die Jode van ouds was die Sabbat, as ’n heilige instelling, by uitstek gesien as ’n tipe eksodus uit hul werksomgewing en ’n ingang in ’n tyd van sielsrus. Let wel, die sabbatsrus het steeds binne tyd plaasgevind en het dus nie in konflik met tyd gestaan nie, maar eerder in harmonie daarmee gestalte gekry. As ’n heilige oomblik in tyd was die Sabbat ’n geleentheid om in God, die bron van lewe en alles wat bestaan, rus te vind.

Die enigste manier om die moderne uitdaging van tyd te oorbrug, is nie om tyd as die vyand te probeer “wen” asof ons in ’n resies met die horlosie om ons gewrig is nie, maar om eerder die heiligmaking van tyd te soek deur ware sielsrus in tyd te vind. Sedert mense sowel kreatiewe as geskape wesens is, is die Sabbat ’n tyd om te rus van ons eie kreatiwiteit en erkenning te gee aan die Een wat ons as skepsels met kosmiese kreatiwiteit aan mekaar geweef het. Die Sabbat is ’n tyd om op te hou doen en te weet dat ons as gevolg van God lewe, beweeg en bestaan (vlg. Hand. 17:28). Johannes Calvyn, die Franse Hervormer, het klem geplaas op die feit dat die instelling en heiliging van die Sabbat nie bedoel is sodat die mens elke sewende dag vakansie kan hou “asof [God] behae het in [die mens] se traagheid nie, maar eerder dat hulle, vrygestel van alle ander sake, hulle gedagtes des te meer op die Skepper van die wêreld kan rig” om in Hom alleen hul sielsrus te vind.

Natuurlik sal enige teologie van rus onvolledig wees as daar nie melding gemaak word van Jesus Christus, die Here oor die Sabbat, vir ’n Nuwe Testamentiese inslag nie. In Lukas 6:1-5 word vertel van ’n keer toe Jesus en sy dissipels “deur gesaaides geloop” het. Die dissipels het toe van die are gepluk en daarvan geëet. Onmiddellik het die Fariseërs die dissipels beskuldig van iets wat hulle nie op die Sabbat mag doen nie. Jesus het toe op die klag van die Fariseërs gereageer deur hulle geheue te verfris met ’n gebeurtenis wat in 1 Samuel 21 afgespeel het.

1 Samuel 21 was die geval waar Dawid moes vlug vir sy lewe weens die wraak wat Saul op hom wou neem. Hy en sy manne het toe op die Sabbat by die tempel ingegaan en van die offerbrode, wat slegs vir die priesters bedoel was, geneem en daarvan geëet. Alhoewel dit nie toelaatbaar was volgens die seremoniële wet nie, het dit hier gegaan oor die feit dat Dawid God se gesalfde koning was en dat hy en sy volgelinge daarom in hul toestand van hongerte van die offerbrode mag geëet het. Die feit dat Jesus hierdie stukkie geskiedenis na vore gebring het, impliseer dat Dawid en sy manne op daardie Sabbat niks verkeerds gedoen het nie en Jesus se dissipels ook daarom niks verkeerds gedoen het nie. Die seremoniële wette van die Ou Testament was slegs ’n voorlopige reëling wat met die koms van Jesus Christus as die finale gesalfde koning tot vervulling gebring is. Op hierdie manier het Jesus die ware betekenis van die wet bevry van die kettings waarmee die Fariseërs dit wou beheer volgens hul eie planne en behoeftes.

In Lukas 6:5 sluit Jesus juis sy reaksie op die Fariseërs se klag met geweldige gewigtige woorde af: “Die Seun van die mens is Here oor die Sabbat.” “Die Seun van die mens” is ’n Messiaanse titel wat reguit vanuit die Ou Testament nie net Jesus se menslike natuur beklemtoon nie, maar ook sy hemelse herkoms en heerlikheid (sien Dan. 7:9-14). As die “Seun van die mens” is Jesus Christus dan juis ook “Here oor die Sabbat.” Dit is dus ’n sterk aanspraak op Jesus se Goddelike natuur wat terselfdertyd heenwys na die blywende betekenis van die vierde gebod. Aangesien die Sabbat nie deur mense nie maar deur God self ingestel is, sê Jesus hiermee dat Hy die einste God is wat die Sabbat aan die begin by die skepping ingestel het en Hy het nie die Sabbat kom vervang nie, maar dit in die diepste sin van die woord kom vervul.

Met die woorde: “Die Seun van die mens is Here oor die Sabbat,” is dit asof Jesus ons uitnooi om die volle implikasies van die Sabbat deeglik te moet verreken. In wese maak Jesus verder aanspraak daarop dat Hy die Here van rus is. Ware en diepe sielsrus is daarom net by die persoon en die werk van Jesus Christus beskikbaar. Dit is natuurlik ’n uiters eksklusiewe aanspraak om te maak, maar tog is daar ’n uiters goeie rede hoekom Hy die gesag het om dit te kan maak. Omdat Jesus Christus die vereniging van God en mens in een persoon is, is Hy die enigste persoon in wie die immateriële, ruimtelose, en tydlose (God) op ’n onuitspreeklike en onbeskryflike wyse materie, ruimte, en tyd (mens) tegemoet kom. Meer nog, Hy ervaar ’n kosmiese rusteloosheid aan die kruis, en ten spyte daarvan sorg Hy dat sy werk volbring word. Dit beteken dat die mens slegs in Hom as rusgewende persoon, asook in sy ewig genoegsame werk ware sielsrus kan vind. By Hom is dit immers nie nodig om op jou eie diepliggende en sielsdodende werk staat te maak vir aanvaarding en erkenning nie omdat sy werk reeds genoeg is.

Soos wat God in Genesis tevrede is met sy skepping deur die woorde “dit is baie goed” te uiter, so kan volgelinge van Jesus Christus tevrede wees in sy persoon en werk. Die heiligmaking van tyd deur ware sielsrus in tyd te vind geskied dus deur ’n ontmoeting met die “Die Seun van die mens” as “Here oor die Sabbat.” Alhoewel fisiese rus, ontspanning saam met vriende en vakansie baie goed vir jou kan wees, gaan ware sielsrus slegs moontlik gemaak word deur die Een wat vir jou ’n heilige oomblik in tyd kan skep. Jesus se uitnodiging is daarom om deelnemers aan God se rus te word om nie net die nodige hoeveelheid rus te kry nie, maar ook die nodige diepte van rus. As daar geen beywering hiervoor is nie, is die vraag wat gevra moet word: Waarvan is die mens nog ’n slaaf? In Deuteronomium 5:15 word die Sabbat immers gegrond in die Israeliete se bevryding uit hul slawerny in Egipte. Hulle was slawe wat elke dag onder genadelose mense gewerk het. Indien iemand nie tyd maak vir ware sielsrus by Jesus Christus nie, is die enigste vraag om dus te vra: Waarvan is hy in sy lewe nog ’n slaaf?

Terwyl daar dus ’n rusteloosheid heers onder die moderne mens en sekulêre atmosfeer, bly Augustinus se premoderne woorde steeds relevant: “Ons siele is rusteloos totdat hulle in U rus vind.”

Dr. Daniël Maritz is die bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia.