Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die

TAALSENTRUM

“Akademia verteenwoordig ’n hoopgewende alternatief vir Afrikaanssprekendes binne die Suid-Afrikaanse universiteitswese.”

Akademia word toenemend ’n baken as ’n Afrikaanse hoëronderwysinstelling – nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook op die internasionale verhoog. Die instelling se begrondingsdokument is ook ’n inherente opdrag aan Akademia-akademici en -personeel om Afrikaans op alle vlakke uit te bou.  

Akademia se nuutgestigde Taalsentrum het ten doel om Akademia juis in hierdie taak te ondersteun deur Afrikaans as akademiese, algemene en vreemde taal uit te bou. Die Taalsentrum, wat gehuisves word in die Fakulteit Geesteswetenskappe se Departement Tale en Kultuurwetenskappe, is in hierdie stadium getaak met die volgende:

  • Om Afrikaans as vreemde taal te bevorder – plaaslik en in die buiteland;
  • Om die akademiese taalvaardigheid van Akademia-studente tot op die hoogste vlak uit te bou, sodat hulle met groot sukses hul studies en beroepe in die werkplek kan voltooi en beoefen; en
  • Om Afrikaans as akademiese taal te bevorder deur aan Akademia-personeel ondersteuning te bied met navorsing en onderrig-en-leeraktiwiteite.

PROJEKTE

Die Taalsentrum is verantwoordelik vir die volgende projekte:

Akademiese taalvaardigheid

Die Raad op Hoër Onderwys se studie wat in die verslag Vital Stats Public Higher Education (2010–2019) gepubliseer is, bevind dat studente nié gerat is vir die akademiese geletterdheidseise aan tersiêre instellings nie. Goeie taalvaardigheid staan uiteindelik sentraal tot akademiese geletterdheid, uitnemende onderrig en die suksesvolle aflewering van graduandi. Dit handel oor meer as bloot basiese lees- en skryfvaardighede, maar omvat ook kritiese denke, navorsingsvaardighede en die vermoë om met komplekse akademiese tekste om te gaan.

Akademia – in samewerking met die Inter-institusionele Sentrum vir Taalontwikkeling en Assessering (ICELDA) – toets om hierdie rede vanaf 2024 alle eerstejaarstudente aan die instelling se akademiese taalvaardigheid om te bepaal of hulle gerat is vir die eise van die hoëronderwysomgewing. Studente wie se taalvaardighede nie op die gepaste vlak is nie, ontvang ondersteuning deur middel van ’n aanlyn kortkursus in akademiese taalvaardigheid. Die kursus word ontwikkel in samewerking met die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Digitale Taalhulpbronne (SADiLaR) se Write It-projek.

Benewens die toetse en kortkursus op eerstejaarsvlak, beplan die Taalsentrum boonop aan ’n gevorderde taalvaardigheidskursus in Afrikaans en ’n Engels in Praktyk-kursus vir senior studente. Met hierdie kursusse wil die Taalsentrum die instelling se alumni nie net toerus om Afrikaans se hoë funksies by uitstek te gebruik nie, maar ook om met sukses in Engelstalige werksomgewings te funksioneer.  

Afrikaans word reeds by verskeie sentra en taalskole in Europa en elders in die wêreld aangebied en Akademia sal voortaan die instansie wees wat die gehalte van die proses en die sertifisering daarvan bestuur. Vanaf 2025 sal Akademia taalsertifikate uitreik aan diegene wat taalbevoegdheidseksamens in Afrikaans suksesvol aflê. Die sertifisering is geskoei op die Europese Raamwerk vir Tale (oftewel die Common European Framework of Reference for Lanugages) wat van kommunikasievlak (A1 en A2) tot by akademiese vlak (C1 en C2) strek. Ander bekendse instansies wat taalvaardigheidsertifikate uitreik wat op hierdie raamwerk geskoei is, is die Alliance Francaise en die Goethe-instituut.

Met hierdie projek, sal Akademia Afrikaans as vreemde taal op die volgende wyses bevorder:

  • Akademia is die hoofsentrum waar taalbevoegdheid in Afrikaans volgens die internasionale raamwerk getoets word.
  • Akademia bied aan belangstellendes die geleentheid om Afrikaans as vreemde taal aan te leer deur middel van aanlyn kursusse.
  • Akademia lei mense op om Afrikaans as vreemde taal aan te bied. (Dit vergelyk met die TEFL-sertifikate in die Engelse konteks.)

Met hierdie projek dra die Taalsentrum verder by tot die instelling se sukses met uitruilprogramme en die uitbou van internasionale netwerke, omdat uitruilstudente en gasdosente die geleentheid kry om Afrikaans as vreemde taal te bemeester tot op ’n bepaalde vlak voordat hulle by Akademia aansluit.

Akademia is een van die weinige hoëronderwysinstellings wat hulle toespits op navorsing en onderrig en leer in uitsluitlik Afrikaans. Daarom is dit noodsaaklik dat die instelling via die Taalsentrum ook aan akademiese personeel genoegsame ondersteuning bied om juis hierdie take in uitstekende akademiese Afrikaans te verrig.

Met hierdie projek werk die Taalsentrum nou met die onderskeie fakulteite om onder meer behoeftebepalings te doen, vak- en navorsingsterminologielyste te ontwikkel, ondersteuning te bied met die vertaling van terme en konsepte met die oog op onderrig en leer, asook taaladvies vir navorsing wat in Afrikaans gedoen word.

PERSONEEL

DR. ALÉ STEYN

Koördineerder: Taalsentrum

Departementshoof: Tale en Kultuurstudies

Programkoördineerder: BA (Kommunikasie en Joernalistiek)

DR. ANNELISE DE VRIES

Koördineerder: Akademiese taalvaardigheid

Dosent: Professionele Studies

Karien Brits

Koördineerder: Afrikaans as vreemde taal

Senior taalpraktisyn

Medewerkers

Dr. Rina Loader

Voorheen dosent: Taalkunde aan die Universiteit van Wene

Prof. Tobie van Dyk

Koördineerder: Write It-projek by SADiLaR

Prof. Albert Weideman

Voorsitter: ICELDA

DJ Cloete

Dosent: Professionele Studies aan Akademia

Sarita Blignaut

Taalpraktisyn: Akademia

Dr. Nic de Jager

Dosent: Professionele studies aan Akademia

NAVRAE

Enige navrae oor die Taalsentrum kan gestuur word na taalsentrum@akademia.ac.za.

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE