STUDENTWEES IS MEER AS
net jou studies
Om ʼn Fontie te wees by Akademia
By Akademia noem ons ons studente Fonties. Om ʼn Fontie te wees beteken dat jy nie net akademies presteer nie, maar ook ʼn opwindende studentelewe het. Dit beteken om hoflik te wees en respek vir mekaar te hê. Dis om in Afrikaans en binne ʼn Christelike konteks jou jeug te geniet en jou talente te ontwikkel en te gebruik tot voordeel van die ander studente en die gemeenskap. Fontiewees is die kodewoord vir ʼn bruisende studentelewe en lewenslange vriendskappe. Só vertel Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, hoor om ʼn Fontie te wees.
“Hier fokus ons op akademie. Hier fokus ons op Afrikaans. Jy kan hier in jou moedertaal studeer.”
– Gerhard Labuschagne, ʼn student in BA (Kommunikasie en Joernalistiek).
Akademia het vanjaar 2 367 studente – jy kan nommer 2 368 wees!
Hoe lyk die studentelewe?
Die gebeure wat buite die klaskamer plaasvind, is ʼn integrale deel van die opleidings- en opvoedingservaring van ʼn student by Akademia. Die instelling is daartoe verbind om studente op te voed wat nie net in verskillende deelaspekte van die werklikheid opgelei is nie, maar wat ook deur ʼn begrip vir die geheel (of vir die onderlinge samehang tussen die dele) gekenmerk word. Volgens die klassieke opvoedingsuniversiteite beskik sodanige studente nie net oor gespesialiseerde kennis nie, maar betree hulle so ook die lewenslange weg van wysheid.
Die buitemuurse studentelewe aan Akademia word dus gerig deur die vormingsideaal wat die instelling vir haar studente nastreef. Die studentelewe aan Akademia ondersteun deugde soos karaktervorming, integriteit, wysheid, vriendskap en die sin vir gemeenskap, wat weer die instelling se verbintenis tot opvoeding en vorming ondersteun en versterk.
Jy kan uitsien na sport- en studentefeesgeleenthede. Daar is iets vir boekwurms, spiertiere, koffiefynproewers, debatteerders, sangers, toneelspelers, joernaliste, filosowe, partytjiediere en studente wat gemeenskapswerk wil doen. Daar wag ʼn studentelewe propvol tradisies en lekkertes op jou!
Hier is enkele aksies waaraan kampusstudente en nauurse studente wat naby kampus woon kan deelneem:
Koor
Wynvereniging
Skaakklub
Debatvereniging
Dramavereniging
Eerstejaarskamp
Stapklub
Sportdag
Aksiesport (krieket en netbal)
Valentynsokkie
Gemeenskapsprojekte
Boeke-en-boneklub
Rugby
Fotografieklub
Direkteursdinee
Cantus
Ontmoet die SR vir 2021/2022
Die Studenteraad (SR) verteenwoordig studente en bestuur die studentelewe saam met die studentesakebestuurder. Julle sal hulle oral raakloop en leer ken op kampus en by die studiesentrums.
Die portefeuljes vir SR 2021-2022 is as volg toegeken:
Daniël Visser
Voorsitter
“Ek het my lewe lank, tot ʼn mate teen my wil, hier in die groot stad groot geword. Ek was op Afrikaanse Hoër Seunskool en het baie gehou van rugby, spiesgooi en swem, want die akademie het lyk my nie te veel van my gehou nie. Ek is soos meeste Pretoriaanse ‘ek-bly-‘n-boer’ seuns mal oor die natuur, en sal wat gee om een keer ʼn jaar bietjie in die bosveld te kom. (maar die see is darem ook nie te sleg nie) By Akademia studeer ek tans BSocSci (Politiek, Filosofie en Ekonomie).”
Megan Meyer
Adjunkvoorsitter (Kampus)
“Ek is verantwoordelik vir interne dissipline sowel as reël van sosiale geleenthede. Studente kan uitsien na die gees van SR-funksies omdat ons elkeen werklik die jaar met ʼn passie en met ʼn groot liefde vir die Here aanpak. Ek studeer tans BCom (Ekonomie en Regte) by Akademia.”
Wilu Wessels
Adjunkvoorsitter (Nauurs)
“Ek verteenwoordig die nauurse studente op die studenteraad en wil graag ʼn positiewe bydrae lewer tot Akademia se studentelewe. Ek studeer tans BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde). Ek wil studente uitnooi om deel te raak van die Akademia-familie. Jy sal nie spyt wees nie!”
Robyn Visagie
Sekretaresse
“Ek studeer tans by Akademia BCom (Ondernemingsbestuur) want ek stel baie belang in die korporatiewe besigheidswêreld. Ek is mal oor dans en leer in my vrye tyd Koreaans. Ek wil pionierskap onder die res van die studente help stig en daarom het ek myself as SR-lid verkiesbaar gemaak.”
Dylan Wagner
Tesourier
“Ek wil ʼn voorbeeld stel vir my mede-studente en dit is ʼn groot eer om deel te wees van Akademia se geskiedenis. Ek wil spore laat vir toekomstige studente om te kan volg. Ek studeer BCom (Ondernemingsbestuur) met die droom om eendag my eie onderneming te bestuur.”
Myrtle Endley
Kultuur, taal en erfenis
“As SR-lid vir kultuur, taal en erfenis het ek die geleentheid om te kan werk aan aktiwiteite waar ons meer oor wie ons is, kan leer. Ek wil meer leer oor die wêreld rondom my en myself, daarom studeer ek BSocSci (Politiek, Ekonomie en Filosofie) by Akademia.”
Marisha Hermann
Koshuisraad
“Ek studeer BA (Kommunikasie en Joernalistiek) want skryf is my asemhaal. Ek wil help bou aan die toekoms van Akademia en ek wil graag ʼn huis-atmosfeer in elke koshuis skep. Ons gaan fantastiese en opwindende tradisies bou, kom doen dit saam met ons!”
Vian van Schalkwyk
Sport
“Ek is ʼn mens wat baie omgee vir ander, ʼn tipiese mense-mens, ek hou ook nie van enige vorm van konflik nie en sal ook nooit wegkyk wanneer iemand hulp nodig het nie. My plan is om nog baie sportspanne op die been te bring in my termyn. Ek studeer BCom (Ondernemingsbestuur) met die beplanning om eendag die familiebesigheid oor te neem.”
Kara Durie
Gemeenskap
“Ek glo dat ʼn mens net jouself moet wees want jy is geroep vir ʼn tyd soos nou. Ek wil ʼn verskil maak in die lewens van jongmense in my gemeenskap en het daarom myself verkiesbaar gestel as SR-lid vir gemeenskap. Ek studeer tans BCom (Ondernemingsbestuur) want ek glo dit is ʼn goeie fondasie vir die besigheidswêreld.”
Raino Botha
Bemarking
“Ek het van kleins af ‘n voorliefde gehad om my vas te nael voor die kassie om in te skakel by die nuus om 7. Die nuuswêreld het my dadelik ingetrek en toe al geweet, dìs wat ek wil doen! Daarom studeer ek BA (Kommunikasie en Joernalistiek). Ek kan hare kleur, kook en skryf baie graag! My raad is: Leer hard, sosialiseer genoeg en maak baie vriende, want dis die vriende wat jou gaan vorm en bystaan in jou toekoms.”
Jenna-Bleu Heystek
Kommunikasie en media
“Ek is deel van die studenteraad want ek wil ʼn stem vir die stemloos wees. Ek wil ook seker maak dat studente se tyd by Akademia iets is om vir altyd te onthou! Ek wil eendag my eie besigheid bestuur en daarom studeer ek BCom (Ondernemingsbestuur). Kom wees deel en maak saam met ons geskiedenis.”
Deidré Fischer
Akademie
“Ek studeer BCom (Ondernemingsbestuur) by Akademia omdat besigheid deur my are vloei en my passie is. Ek sien baie uit om nuwe vaste tradisies saam my mede-studente te kan skep. Ek nooi nuwe Fonties om met ʼn oop gemoed na Akademia toe te kom en saam met ons in verwondering te kom staan. By Akademia is ons ʼn familie.”
Is daar geleentheid vir leierskapsontwikkeling?
Akademia bied ook uitstekende geleenthede vir leierskapsontwikkeling. Hier kan jy leierskapsposisies beklee deur op die studenteraad te dien of op een van die subkomitees van die studenteraad. Almal in leierskapsposisies kry intensiewe opleiding en geleenthede om as mentors te kan optree en mentorskap te ontvang. Hierdeur word daar vir jou die geleentheid gebied om ʼn aktiewe rol te speel in die ontwikkeling en bestuur van die studentelewe.
“Akademia maak my kinderlik opgewonde oor my toekoms. Daar is soveel tradisies, kultuur en omgeemense. Akademia sit elke dag ʼn groot glimlag op my gesig.” – Carami van der Vyver, BCom (Ondernemingsbestuur)-student.
JY IS MEER AS NET ’N STUDENTENOMMER
Hoe lyk studenteondersteuning?
Hoe lyk studenteondersteuning?
“Akademia, ʼn besluit wat ek nooit sal berou nie. ʼn Plek waar medestudente familie word en dosente uit hul pad gaan om studente tegemoet te kom. Dit is ʼn instansie waar ek in my moedertaal kan studeer en floreer. Voornemende studente, julle sal nie spyt wees nie.”
– Eugene Schmidt, BCom (Bestuursrekeningkunde)-student
Wat van werksgeleenthede?
Akademia is passievol oor ons studente. Daarom het ons ʼn studenteposteportaal geskep waar werknemers Akademia-studente kan werf of selfs net internskappe aan hulle beskikbaar stel. Deur hier te klik, kan werknemers poste aan studente adverteer.
So sê werkgewers van Akademia-studente
“Ons het een van julle studente aangestel en is tot dusver baie tevrede met haar. Baie dankie!” – Zelda Visagie, Dr. PI Ackermann
“Ek kon ʼn maand terug ʼn ander pos hier vul met ʼn student van Akademia. Ons het dus tans drie Akademia-studente by ons. Dankie vir die advertensie!” – Eloise Grobler, Icon Insolvency Practitioners
“Ons is so tevrede met ons aanstelling dat ons nog ʼn Akademia-student wil aanstel.” – Susan van Greuning, Automated Credit Provider Administration System (ACPAS)