Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Nauurse BCom (Bestuursrekeningkunde)-student vertel oor sy studiereis

Gepubliseer op: 3 Mei 2022

Tiaan Herbst is ʼn BCom (Bestuursrekeningkunde)-student by Akademia wat sy passie in die rekeningkunde volg en beoog om later sy CIMA-kwalifikasie te voltooi. Hy vertel dat hy juis besluit het om dié kwalifikasie by Akademia te studeer omdat dit rondom die CIMA-kwalifikasie gebou is. “Ek sal baie graag na afloop van my studies my CIMA-keuring wil volg en Akademia maak dit vir my nie net moontlik nie, maar ook maklik,” vertel Herbst.

In sy agterkop het hy geweet dat as hy dalk in die toekoms ʼn roete in finansiële rekeningkunde wil neem, die deure vir hom sal oopgaan met dié graad by Akademia. Hy noem verder dat ʼn bestuursrekenmeerster steeds finansiële rekeningkunde moet verstaan om sukses te behaal. “Die graad gee jou ʼn goeie oorsig van die wêreld van rekeningkunde as ʼn geheel terwyl die primêre fokus op bestuursrekeningkunde is. Jy kry steeds kennis van ander velde soos finansiële rekeningkunde,” sê hy.

Herbst is ook ʼn nauurse student, wat beteken dat hy voltyds werk en nauurs studeer. Hy noem dat hierdie model vir hom baie voordelig is en dat hy dit geniet om sy studies direk in sy werkspraktyk toe te pas. “Ek kan letterlik sien hoe die kennis wat ek in die klas opdoen net so toegepas word in praktyk. Dit is ongelooflik.”

Hy het Akademia as hoëronderwysinstelling gekies vir verskeie redes. Eerstens aangesien die kwalifikasie die pad tot CIMA vergemaklik. Hy was ook baie beïndruk toe hy die opedag bygewoon het, want hy kon daar sien dat Akademia moedertaal as prioriteit ag. Sy keuse is ook vergemaklik deur die feit dat dié instelling vir studente ʼn veilige omgewing skep waar geen bekommernisse oor Covid-19-leerstakings is nie, vertel hy.

Die feit dat Akademia in Christelike waardes geanker is, was vir Herbst die kersie op die koek en dit het hom finaal laat besluit om Akademia as hoëronderwysinstelling te kies. “By die opedag het die spreker die dag met skriflesing en gebed geopen. Dit was maklik om daarna die besluit te neem om die instelling my studietuiste te maak.”

Hy geniet sy klasse terdeë. “Ek kan enige tyd vir my dosente ʼn boodskap stuur as ek wonder oor iets. Dit is vir my lekker om die vrymoedigheid te hê om dit te kan doen,” sê Herbst.

Die feit dat die dosente teoretiese sowel as praktiese kennis met die studente deel staan vir hom uit. “Die dosente het baie boekekennis en meeste van hulle kom uit die praktyk uit. Dit is wonderlik dat die dosente daardie kennis met die studente deel.” Hy dink ook terug aan sy eerste jaar waar hy in Finansiële Rekeningkunde vir Berrie Stoop as dosent gehad het. “Stoop het gereeld verduidelik hoe die werksplek lyk en praktiese ervaring gedeel met die klas. Dit is van onskatbare waarde vir my as student gewees.”

Ons wens vir Herbst ʼn suksesvolle studiereis toe wat voorlê en ons sien uit om te sien hoe hy in die toekoms groot sukses behaal.

As jy ook aan jou toekoms wil bou, terwyl jy werk en ʼn topgehalte kwalifikasie in Afrikaans voltooi, klik hier om meer uit te vind oor ons nauurse studies. Aansoeke vir studie in 2023 is reeds oop.

Tiaan Herbst is ʼn BCom (Bestuursrekeningkunde)-student van Akademia. Hy beoog om sy drome na te jaag deur om ná sy studies die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde by die instelling te voltooi, aangesien dié kwalifikasie ideaal is vir CIMA-voorbereiding.