Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Enkele gedagtes oor vryheid van spraak

Gepubliseer op: 3 Mei 2022

Wêreldwyd gons dit oor die begrip ‘vryheid van spraak.’ Op die sosiale media, aan universiteite, in parlemente, in die vergadersale van groot besighede – orals word oor vryheid van spraak geargumenteer. Vryheid van spraak het ʼn brandende kwessie geword.

ʼn Onlangse voorbeeld van die ‘groot strydgesprek’ blyk uit die uitsprake van Elon Musk, die rykste mens op aarde. Musk het ʼn aanbod van etlike biljoene dollar aan Twitter vir die volle beheer van dié maatskappy gemaak. Volgens Musk voldoen Twitter nie meer aan die beginsel van vryheid van spraak nie. Musk wil dit regstel deur Twitter weer vir ʼn wye verskeidenheid van standpunte oop te stel.

Die reaksie op Musk se aanbod wissel van ontsteld tot verheug. Die ontsteldes vrees dat Musk Twitter weer gaan oopstel en dat talle mense dié mediaplatform vir hul twyfelagtige politieke agendas gaan misbruik. Die verheugdes sien daarin ʼn geleentheid om met die ideologiese vooroordele weg te doen wat die afgelope jare die vryheid van spraak op onder meer ‘progressiewe’ kampusse verdring het. Op Twitter sal uiteindelik weer ʼn ‘oop gesprek’ gevoer kan word, sê die verheugdes.

Hoe moet oor hierdie brandende kwessie gedink word? Ek wissel slegs enkele gedagtes daaroor.

Eerstens moet beklemtoon word dat verskeie Westerse universiteite vandag inderdaad vanweë sogenaamde progressiewe opvattinge deur ʼn atmosfeer van sensuur, beheer en kontrole gekenmerk word. Opvattinge wat nie daarmee strook nie word by voorbaat as onaanvaarbaar beskou. Geen student of dosent mag hulle byvoorbeeld aan konserwatiewe opvattinge skuldig maak nie. Uitnodigings aan dosente om lesings te hou word summier teruggetrek as dit sou blyk dat hulle dié opvattinge huldig.

ʼn Bekende voorbeeld is die Universiteit van Harvard. In ʼn opname van die Harvard Crimson uit 2020 blyk dit dat 38% van die professore aan Harvard hulself as “baie liberaal” beskou en 41% as “liberaal”, terwyl slegs 1% van die professore hulself as “konserwatief” beskou. Tydens verkiesings stem meer as 90% van die professore vir sogenaamde progressiewe standpunte. Harvard kan kwalik daarop aanspraak maak om ʼn plek te wees waar ʼn “oop gesprek” moontlik is.

Maar, en dit bring ons by die tweede punt, hoe word vandag op die ideologiese voorskriftelikheid aan universiteite geantwoord? Dit is hier waar die standpunt van iemand soos Musk ter sprake kom. Verreweg die mees prominente antwoord is om die belangrikheid van vryheid van spraak te beklemtoon.

Nou, daar is ʼn verstaanbare antwoord. Vryheid van spraak kan inderdaad help om die spinnerakke van ideologiese vooroordele weg te trek. Maar is dié antwoord sonder probleme? Vryheid van spraak is ʼn belangrike erfenis, maar kan dit ons van ideologiese vooroordele vrywaar? Word die beroep op vryheid van spraak nie self, ironies genoeg, deur ideologiese vooroordele gekenmerk nie?

In ʼn poging om op hierdie vrae te antwoord, bring ons ʼn kwessie ter sprake wat nie dikwels gehoor word nie. Wanneer vir vryheid van spraak aan universiteite ingetree word, word veronderstel dat hulle “neutrale” ruimtes is waar radikaal verskillende en selfs botsende lewensbeskouings gehoor moet kan word. Volgens die veronderstelling is universiteite nie self tot enige lewensbeskouing verbind nie. Indien universiteite tot die Christelike lewensbeskouing verbind is, word gesê, sal hulle vryheid van spraak in gedrang bring. Een lewensbeskouing word dan ʼn voorkeur bo ander lewensbeskouings gegee, en volgens die opvatting mag dit nie gebeur nie.

Vandag weet ons egter dat dit ʼn problematiese veronderstelling is. Inderwaarheid is geen universiteit werklik neutraal ten opsigte van lewensbeskouings nie. Ondanks die feit dat universiteite dikwels daarop aanspraak maak om neutraal te wees, is hulle inderwaarheid tot bepaalde lewensbeskouings verbind.

Hierdie waarheid blyk in die eerste plek uit die voorbeeld van die sogenaamde progressiewe universiteite. Lewensbeskoulik gesproke is hulle geensins neutraal nie. Inteendeel, hulle is onder meer lewensbeskoulik verbind tot die idee van onbeperkte vooruitgang; tot die idee dat daar geen vaste waarhede is nie (‘alles is die gevolg van ons konstruksies’); tot die afskaffing van tradisionele grense tussen geslagte, gelowe en kulture; tot die kriminalisering van die Westerse verlede (‘die Weste is Boos, die Res is Goed’); die afskaffing van ou gemeenskappe en die onbeperkte keusevryheid van die individu. Hier is nie sprake van lewensbeskoulike neutraliteit nie.

Maar wat van diegene wat hulle op vryheid van spraak beroep? Is hulle, soos wat die idee van vryheid van spraak veronderstel, neutraal? ʼn Reuse-ironie is hier in die agtergrond aanwesig. Inderwaarheid word die beroep op vryheid van spraak ook meestal deur lewensbeskoulike opvattings voorafgegaan.

Patrick Deneen, ʼn bekende politieke denker van die Universiteit van Notre Dame, voer onlangs met oortuiging aan dat die beroep op vryheid van spraak dikwels deur politieke groeperinge gebruik word om progressiewe politieke agendas te bevorder. Vanaf die begin van die twintigste eeu, skryf Deneen, word vryheid van spraak deur progressiewe ideoloë gebruik om die lewensbeskoulike uitgangspunte van tradisionele Christelike en klassieke universiteite te bevraagteken. En dit met progressiewe uitgangspunte te vervang. Anders as wat dikwels gedink word, is die beroep op vryheid van spraak histories gesproke nie ʼn wapen teen progressiewe ideologieë nie, maar ironies genoeg juis ʼn wapen van progressiewe ideologieë.

Volgens Deneen was die historiese gevolge hiervan verwoestend. ʼn Groot aantal universiteite in die VSA, wat voorheen na hulself as ‘Christelik’ en ‘klassiek’ verwys het, het tydens die afgelope dekades universiteite met ʼn diepgaande verbintenis tot progressiewe opvattinge geword.

Nou, as bogenoemde beredenering korrek is, beteken dat die hedendaagse poging om by wyse van vryheid van spraak ʼn teenwig teen die heerskappy van progressiewe ideologieë te wees gedoem is om te misluk.

Bogenoemde bring ons by die laaste vraag. Hoe gemaak? Ek sluit met ʼn gedagte oor die verhouding tussen universiteite se eie lewensbeskouings en die kwessie van vryheid van spraak. Hoe kan hierdie verhouding vandag aan universiteite bedink word? Groot verstandigheid word vandag van ons gevra.

Enersyds is lewensbeskoulike gronde onvermydelik. Universiteite wat voorgee om neutraal te wees behoort dit te erken. Andersyds is vryheid van spraak (ondanks wat hierbo gesê is) ʼn belangrike erfenis uit die Westerse geestesgeskiedenis. Sonder die vryheid om na die waarheid, die goedheid en skoonheid van die skepping te vra, sal universiteite veel armer wees.

Hoe dus gemaak? Dikwels word die verhouding tussen lewensbeskoulike verbintenisse en vryheid van spraak op die spits gedryf. Talle kies vir óf die een óf die ander. Dit is egter ʼn valse keuse. Beide moet in hul intieme samehang bedink word. Verskeie Christelike en klassieke universiteite slaag vandag nog daarin. Vanuit hul eie lewensbeskoulike vertrekpunte (of binne die grense wat dit neerlê) skep hulle die ruimte waarbinne ʼn vrye akademiese gesprek kan plaasvind.

Akademia sluit hierby aan. Vanuit Akademia se Christelike en klassieke verbintenis tot dinge soos die waarheid, goedheid en skoonheid van die skepping skep dit die ruimte waarbinne dosente en studente opnuut (altyd weer) op ʼn onbevange, oop en ontvanklike wyse na die betekenis daarvan vir ons eie tyd kan vra. Akademia se lewensbeskoulike vertrekpunte staan nie in spanning met die vryheid van sy dosente en studente nie. Nee, dit skep die ruimte waarbinne ons vryheid om te kan dink en te kan verbeel tot sy reg kan kom.

Vanuit hierdie gesigspunte beoordeel verteenwoordig Akademia, saam met ander Christelike en klassieke universiteite, ʼn glanspunt in die universitêre wêreld.

Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, deel enkele gedagtes oor vryheid van spraak. Hy is kenner op die gebied van hedendaagse sowel as Middeleeuse filosofie.