Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Op reis met Afrikaans

Gepubliseer op: 8 Mei 2022

Op 8 Mei vier ons Afrikaans se 97ste verjaarsdag as ʼn amptelike taal van Suid-Afrika en vanjaar val dit saam met Moedersdag wat op Sondag gevier word. Oor drie jaar is Afrikaans amptelik honderd jaar oud, maar ons moedertaal is eintlik al vir amper vier eeue deel van Afrika. Die invloed van Afrikaans is nie net beperk tot die kontinent waar sy naam vandaan kom nie. As ons na die drie suile van die Taalmonument in die Paarl kyk, word ons herinner aan die verskillende invloede van dwarsoor die wêreld wat in een taal bymekaarkom.

Kom ons reis ʼn bietjie met ons taal deur die wêreld op hierdie Sondag. Kom ons stop eers in Suidoos-Asië, sommer in Maleisië en Singapoer, terwyl ons saam met ons moeders ʼn koppie tee sit en drink so met die piering in die ander hand. Dit is nou nadat ons ʼn heerlike bobotie met blatjang en piesang geëet het. En wat is ʼn Sondagmiddagete sonder sagopoeding? Dit is mos baie lekker. ʼn Kuiertjie met ons moeders is soms net die doepa wat ons nodig het om weer die lewe aan te durf.

Ons volgende uitstappie is saam met die Portugese seelui. Ons moet net eers die tamaai kombers op die katel gaan haal. Kry sommer ook die springmielies reg, want ons gaan nou na die TV-reeks kyk waar iemand uit die tronk probeer ontsnap. Ek sou hier graag meer woorde wou deel, maar hulle sê nie verniet iemand vloek soos ʼn matroos nie – sulke maaifoedies!

Afrikaans verbind ons natuurlik ook met die Nederlandssprekendes van die Lae Lande. Ons deel voorvaders wat op VOC-skepe by die Kaap aangedoen het op hulle handelsroete tussen Europa en die Ooste. Daarom praat ons vandag nog van ʼn kombuis en ʼn kooi wat uit hierdie skeepstaal kom. Ons gedeelde voorvaders het natuurlik nie net na die Ooste gevaar nie, maar hulle het ook in Suid-Amerika (in Suriname) anker gegooi. Dit beteken dat ons met ons Afrikaans in Suriname kan gaan kuier en goed oor die weg kan kom.

Kom ons keer weer saam met die eerste inwoners van Suid-Afrika, die Khoisan, terug na ons ma-hulle wat ons geabba het in ʼn karos. Hulle het ons altyd getroos as die gogga vir baba bang maak. Ons hou met ons erfgoed uit die Afrikatale saam met ons moeders makietie, want hulle bly die fundi’s van die lewe.

Bronne:

https://www.taaloord.co.za/Enkele_Oosterse_woorde_in_Afrikaans.pdf

https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/238-ag-ma-hulle-is-afrikaanser-as-koeksisters

Karien Brits is die taalpraktisyn by Akademia met ʼn liefde vir tale en die stories wat die tale oordra.