Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Aansoek om krediete

’n Student wat reeds vir ’n kwalifikasie by ’n ander hoëronderwysinstelling ingeskryf was en van die modules geslaag het, mag moontlik vir die oordrag van akademiese krediete kwalifiseer. Dit beteken dat, sou die akademiese krediete wel toegestaan word, die student vrystelling van die soortgelyke modules by Akademia kry.

Wanneer aansoek gedoen word vir die erkenning van krediete vir geslaagde modules, is dit belangrik dat soveel moontlike inligting oor die modules wat reeds geslaag is aan Akademia verskaf word.

Proses om aansoek te doen vir akademiese krediete

Alle inligting moet elektronies verskaf word

Stap 1: Doen aanlyn aansoek vir studies by www.akademia.ac.za en voltooi die “Aansoek om krediete”-afdeling. Let asb. daarop dat geen versoeke vir krediete oorweeg sal word indien dit nie in die aanlyn aansoek aangedui is nie.

’n Amptelike puntestaat op die briefhoof van die betrokke hoëronderwysinstelling moet tydens die aansoek ingedien word. Die volgende inligting moet op die puntestaat verskyn, anders sal die aansoek nie verwerk kan word nie:

  • Die modules wat geslaag is;
  • Die NKR-vlak van die modules;
  • Die kredietwaarde van die modules; en
  • ’n Fooi van R500 per module sal gehef word alvorens die kredietaansoek oorweeg sal word.

Stap 2: Jou aansoek sal tydens die keuringsproses oorweeg word en verdere inligting – insluitende die handboeke gebruik, en module-uitkomste en -uiteensetting – kan van jou versoek word.

Let op die volgende by die aansoek om krediete
  • Die krediete moet vir ’n module wees wat geslaag is as deel van ’n geakkrediteerde program aan ’n geregistreerde privaat hoëronderwysinstelling of ’n openbare universiteit.
  • Krediete kan slegs erken word as dit vir jaarmodules met ’n kredietgewig van 20 of meer is. In spesiale gevalle sal semestermodules se krediete wel erken word mits dit dieselfde module is wat in twee opeenvolgende semesters geneem is en die akkumulatiewe kredietgewig 20 krediete of meer is.
  • Modules waarvoor om krediete aansoek gedoen word moet direkte ooreenstemming met die ter sake modules in die Akademia-kurrikulum toon. Klik hier om Akademia se modulebeskrywers te besigtig. Neem asb. kennis dat geen krediete vir uittreemodules (finalejaarmodules) toegestaan sal word nie.
  • Krediete verwerf in ’n program kan slegs erken word binne ’n soortgelyke program. Hoërsertifikaatkrediete kan dus aangebied word vir erkenning in ’n soortgelyke hoër sertifikaat. Dieselfde geld vir diploma- en graadmodulekrediete.
  • Krediete waarvoor reeds erkenning by Akademia of enige ander instelling ontvang is, kan nie weer toegeken word nie.
  • Leeruitkomste is ʼn beskrywing van die leerinhoud van die betrokke module wat jy voltooi het. Die inligting moet vanaf die instelling verkry word waar jy die module voltooi het en by die aansoek aangeheg word. Dit word deur die keuringspaneel benodig om te bepaal of die inhoud van die leerinhoud wat jy voltooi het ten minste 80% met Akademia s’n ooreenstem.
  • Let daarop dat kredietaansoeke slegs oorweeg sal word indien dit in die aanlyn aansoek aangedui word, en alle nodige inligting verskaf word. Geen versoeke vir krediete sal oorweeg word indien dit nie in die aanlyn aansoek aangedui is nie.
Wanneer kwalifiseer jy nie vir krediete nie

Krediete vir modules wat langer as ses jaar voorafgaande die kredietaansoek geneem is, sal nie vir erkenning oorweeg word nie.

’n Kortkursus (korter as een jaar) of die bywoning van seminare en konferensies, sal nie vir krediete in aanmerking geneem word nie.

SETA-geakkrediteerde kwalifikasies kwalifiseer nie vir krediete nie.

REGISTREER VIR ONS NUUSBRIEF EN BLY OP HOOGTE MET AKADEMIA SE NUUS EN GEBEURE