Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Akademia-student wenner van die eerste #StudenteStem

Gepubliseer op: 10 Mei 2022

Op Vrydag 6 Mei is die ambassadeurs van Solidariteit Jeug se #StudenteStem-veldtog by die Solidariteit-hoofkantoor bekendgestel. Sewe uit die tien ambassadeursfinaliste was Akademia-studente, oftewel Fonties, en die wenner van die mansafdeling is Raino Botha, BA (Kommunikasie en Joernalistiek)-student van die instelling. Die wenner van die damesafdeling is Zoné Oberholzer, ʼn BEd-student by Aros.

“Akademia trots is op al die Fonties wat deelgeneem het en veral trots dat sewe van die tien plekke aan Fonties aangewys is. Dit is vir ons lekker om te sien hoe ons studente stemme is vir ander studente,” sê Paul Vogel, bedryfshoof van Akademia.

Mareli Bothma, hoof van Solidariteit Jeug, het die byeenkoms van die ambassadeursaankondiging geopen en meer vertel oor hoekom dié organisasie se #StudenteStem-veldtog belangrik is. “Daar is nie ʼn beter mens waarmee studente kan vereenselwig as studente self nie. Daarom is dié studente-ambassadeurs van #StudenteStem uiters belangrik sodat jongmense eweknieë kan hê wat noodsaaklike en relevante gesprekke onder mekaar kan begin,” sê Bothma.

Die #StudenteStem-veldtog is van stapel gestuur om studente-ambassadeurs te vind. “Ons was op soek na twee trots Afrikaanse studente wat vir hulle land en hulle taal lief is, om ons 2022-ambassadeurs van Solidariteit Jeug te wees,” sê Bothma.

Volgens Rika Nieuwoudt, aanbieder van die #StudenteStem-byeenkoms, gaan die nuwe ambassadeurs van die #StudenteStem belangrike studentesake en gemeenskapsake aanpak in ʼn taal wat studente verstaan.

Die res van die ambassadeur-finaliste van die #StudenteStem-veldtog was as volg: Kara Durie (Akademia-student); Hanri Noëth (Akademia-student); Marisha Hermann (Akademia-student); Robyn Visagie (Akademia-student); Aldin van Beest (Sol-Tech-student); Charl Coetzer (Sol-Tech-student); en Vian van Schalkwyk (Akademia-student). Solidariteit Jeug beoog om vir dié klomp jong finaliste vaardighede aan te leer wat hulle kan gebruik om leiers in die gemeenskap te wees.

Die wenners van die #StudenteStem moes voldoen aan streng kriteria. Elke kandidaat moes tussen die ouderdom van 18 en 24 wees, ʼn ingeskrewe student wees en ʼn lid van Solidariteit Jeug wees. Verder moes dié kandidate ʼn klomp take uitvoer en dit op sosiale media plaas. Elke student moet ook ʼn algehele netjiese voorkoms en sosialemediaplatform handhaaf en ondervinding toon in openbare spraak. Die kandidate moes aan al hierdie voorvereistes voldoen gedurende die kompetisietyd wat vanaf Maart tot April oop was.

Elk van die nuwe #StudenteStem-ambassadeurs ontvang ʼn geskenkpak ter waarde van R250 elk. Oberholzer ontvang ʼn geskenkbewys van Miekeraai ter waarde van R500 en Botha ontvang ʼn geskenkbewys ter waarde van R500 van Boerboel Wear. “Verder ontvang die twee ambassadeurs ʼn klomp geskenkbewyse, ondervinding en opleiding, geborg deur Solidariteit Jeug van ʼn gesamentlike waarde van R70 000 elk,” vertel Nieuwoudt.

“Ek is opgewonde om ʼn verskil te maak in studente se lewens en om op te staan vir dit waarin ek glo,” sê Botha. Kyk gerus ook sy video hier:

Van die Akademia-studente wat die #StudenteStem-funksie bygewoon het, was Hanri Noëth, Vian van Schalkwyk, Robyn Visagie, Raino Botha en Kara Durie. Akademia is trots op elkeen van julle.
Die nuwe ambassadeurs van Solidariteit Jeug se #StudenteStemme, Raino Botha (Akademia-student) en Zoné Oberholzer (Aros-student), ontvang hulle toekennings.