Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-student spog met CIMA-vrystellings

Gepubliseer op: 11 Mei 2022

Om uiteindelik die titel as ʼn globale geoktrooieerde bestuursrekenmeester (CGMA, oftewel ʼn chartered global management accountant) te ontvang moet jy aan twee vereistes voldoen. Eerstens moet jy praktiese ervaring opdoen en tweedens aan sekere akademiese vereistes voldoen. Die akademiese sy kan deur die Geoktrooieerde Instituut vir Bestuursrekenmeesters (CIMA) self gedoen word, of via ʼn akademiese instelling, soos Akademia, wat vrystelling by CIMA geniet.

Om by CIMA ʼn akademiese kwalifikasie te ontvang moet jy in totaal sestien eksamens aflê. Indien ʼn instelling vrystelling by CIMA geniet, beteken dit dat jy vir van daardie eksamens vrystelling ontvang. Jy het dan eintlik ʼn versnelde roete tot die CIMA-kwalifikasie, waar jy ʼn graadkwalifikasie en professionele kwalifikasie kan behaal.

Akademia se BCom (Bestuursrekeningkunde) en BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-programme ontvang vrystelling vir agt van die sestien CIMA-eksamens. Die instelling se Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde ontvang op sy beurt weer vrystelling vir elf van die sestien eksamens.

“Die bogenoemde kwalifikasies by Akademia, sowel as die CIMA-kwalifikasie, leer studente hoe om met syfers te werk, maar sal ook jou kritieke kennis en vaardighede ontwikkel waarna werkgewers wêreldwyd op soek is,” vertel Rika Nieuwoudt, die departementshoof van Ekonomiese en Finansiële Wetenskappe by Akademia. “Ek is dankbaar dat studente voortgaan om hulle CIMA-kwalifikasie te voltooi. Dit sal vir hulle loopbaan baie deure oopmaak en dit maak my hart baie bly om te weet dat Akademia ʼn deel daarvan kan vorm. Ek glo dat ons studente by Akademia oplei om uiteindelik die CIMA-eksamens suksesvol te kan voltooi.”

Eugene Schmidt is ʼn Akademia-student wat onlangs BCom (Bestuursrekeningkunde) voltooi het. Hy noem dat die versnelde roete tot die CIMA-erkenning vir hom as kortpad dien om ʼn professionele loopbaan te volg en tot sy voordeel tel in Suid-Afrika, sowel as in die buiteland. “Ek wil die CIMA-kwalifikasie voltooi om internasionale deure te kan open en kan ek dus dan die geleentheid aangryp om internasionaal my aspirasies uit te leef, terwyl ek die wêreld sien. Dit is ook belonend om eendag te kan werk met ʼn titel agter jou naam wat niemand van jou af weg kan neem nie.”

Schmidt het van jongs af ʼn liefde gehad om met geld te werk en het op laerskool al plakkers verkoop waar hy ʼn kombinasie van entrepreneurskap en finansies ontwikkel het. “Die dag toe ek rekeningkunde ontdek het in die hoërskool, was ek vas oortuig dat dit is wat ek vir die res van my lewe gaan doen.”

Sy besluit het op BCom (Bestuursrekeningkunde) neergekom aangesien dit hom in staat stel om bestuursposte te kan volstaan, sowel as om ʼn maatskappy se finansiële toekoms vooruit te beplan. Boonop sal hy ook finansies, projekte en risiko’s kan bestuur. “Die vrystelling van die CIMA-eksamens was beslis baie aanloklik toe ek as matrikulant die besluit moes neem oor wat en waar ek wil studeer.”

Hy het besluit om sy studies by Akademia aan te pak aangesien hy in sy moedertaal wou studeer en ook weens die geleentheid om nauurs te kon studeer. Dit was ook vir hom ʼn goeie keuse weens die feit dat Akademia baie hoë CIMA-vrystellings het. “Aanvanklik het ek kwalifikasies opgeweeg en die voordele van elke instelling vergelyk en Akademia het beslis myle ver gewen. ʼn Graad wat SAIPA-erkenning en CIMA-erkenning het met vrystellings van verskeie raadeksamens. Wie sal dan nie vir hierdie roete wil gaan nie?”

Schmidt noem dat hy ʼn uiters positiewe ervaring van nauurse studies het. “Ek het waardevolle vriendskappe gebou met medestudente van alle ouderdomme en ek het die geleentheid gekry om my studies prakties in die werkplek te kon toepas.” Hy noem ook dat hy gevind het dat die korporatiewe wêreld van jong werknemers vereis om oor die nodige kwalifikasies te beskik, maar werkgewers verkies as graduandi werkservaring ook onder die knie het.

Schmidt het ook besluit om verder aan ʼn Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde te studeer om sy loopbaan te bevorder. “Ek het besluit om die nagraadse kwalifikasie te voltooi, nie net vir die bystand wat dit sal lewer vir die verdere voltooiing van die CIMA-raadeksamens nie, maar dit sal my ook bevoordeel wanneer ek aansoek doen vir verdere studies in internasionale belasting of finansiële verslaggewing.”

Sy raad aan toekomstige BCom (Bestuursrekeningkunde)-studente is om effektiewe studiegroepe te vorm waar idees uitgeruil kan word en hulle mekaar kan ondersteun. Hy raai toekomstige studente ook aan om werklik aktief aan die klas deel te neem en hulle opinie te deel, al voel dit aanvanklik vreemd.

Hy hoop om as geoktrooieerde rekenmeester te kwalifiseer en ervaring op te doen in die veld van belasting, ouditkunde en later selfs forensiese rekeningkunde. Sy groot droom is om eendag in ʼn vennootskap te kan tree en saam met ander professionele rekenmeesters ʼn geïntegreerde firma in regte en finansies te kan stig. Akademia hou sy toekoms stip dop en sien uit na wat sy loopbaan vir hom inhou.

Indien jy graag ʼn loopbaan in bestuursrekeningkunde wil volg en graag CIMA-vrystellings wil ontvang, lees hier meer oor Akademia se BCom (Bestuursrekeningkunde) of BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasies. Indien jy selfs verder wil studeer aan ʼn nagraadse kwalifikasie, klik hier vir meer inligting oor die Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde. Studieaansoeke vir 2023 is reeds oop. Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

Eugene Schmidt het pas aan sy BCom (Bestuursrekeningkunde) afstudeer en studeer nou verder aan ʼn Nagraadse Diploma in Bestuursrekeningkunde by Akademia. Hy het ook CIMA-vrystellings ontvang na afloop van sy kwalifikasie.