Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

BCom (Bestuursrekeningkunde)

Die Baccalaureusgraad in Bestuursrekeningkunde stel die student in staat om die beginsels van bestuursrekeningkunde te verstaan en in die praktyk toe te pas. Dit rus studente toe met kennis en vaardighede in beginsels en praktyk van bestuursrekeningkunde, finansiële bestuur, finansiële rekeningkunde, bedryfsetiek en korporatiewe bestuur.

WAT KAN EK MET BCOM (BESTUURSREKENINGKUNDE) DOEN?

Die Baccalaureusgraad in Bestuursrekeningkunde rus studente toe met kennis en vaardighede in beginsels en praktyk van bestuursrekeningkunde, finansiële bestuur, finansiële rekeningkunde en strategiese bestuur. Hierdie graad is ontwikkel binne die riglyne van die internasionale CIMA (Chartered Institute of Management Accountants)-kwalifikasie.

Indien jy die BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie by Akademia verwerf, ontvang jy ʼn graadkwalifikasie en kan jy ʼn versnelde roete neem om die CIMA-kwalifikasie te voltooi. Jy kan ook roetes volg om ʼn professionele rekenmeester ingevolge SAIPA (The South African Institute of Professional Accountants) en SAIBA (Southern African Institute for Business Accountants) te word.

Studente se tipiese werksrigtings met ’n BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad sluit finansiële bestuursposte of onafhanklike finansiële konsultante in.

WAT BEHELS DIE KWALIFIKASIE?

NKR-vlak 7

380 krediete

SAKO-nommer: 94806

ONDERRIGLEERMODEL: Nauurse afstandsmodel

AKKREDITASIES

Die Chartered Institute for Management Accountants (CIMA) is die wêreld se vooraanstaande en grootste professionele liggaam van bestuursrekenmeesters. Saam met die American Institute of Certified Public Accountants (AICPA) het CIMA in 2012 die Chartered Global Management Accountant (CGMA)-benaming geskep om lede ʼn nuwe vlak van hulpbronne en erkenning te bied.

Die CIMA-kwalifikasie kan verwerf word deur die eksamens by CIMA self af te lê. Jy kan ook vrystelling vir sommige CIMA-eksamens ontvang deur jou kwalifikasie by ʼn CIMA-geakkrediteerde instansie soos Akademia te verwerf. Indien jy die BCom (Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie by Akademia verwerf, ontvang jy ʼn graadkwalifikasie by Akademia wat vrystelling vir agt van die sestien eksamens by CIMA inhou.

Die CIMA-kwalifikasie is opgedeel in vier vlakke. Ná suksesvolle voltooiing van elke vlak ontvang jy ʼn sertifikaat.

  1. Sertifikaatvlak (vier eksamens, naamlik BA1, BA2, BA3 en BA4)
  2. Operasionele vlak (drie eksamens, naamlik E1, P1 en F1, asook ʼn gevallestudie-eksamen)
  3. Bestuursvlak (drie eksamens, naamlik E2, P2 en F2, asook ʼn gevallestudie-eksamen)
  4. Strategiese vlak (drie eksamens, naamlik E3, P3 en F3, asook ʼn gevallestudie-eksamen)

Die vlakke moet chronologies voltooi word, en jy moet eers al die eksamens in ʼn vlak slaag voordat jy die gevallestudie-eksamens van daardie vlak kan aflê. Die gevallestudie-eksamen is ʼn samevatting van al die inhoud in die E-, P- en F-pilare. (E = Enterprise, P = Performance, F = Financial)

Die stappe om jou CIMA-kwalifikasie en professionele CGMA-benaming te ontvang is soos volg:

  1. Voltooi jou BCom (Bestuursrekeningkunde)-graad (dit is ʼn driejaarkwalifikasie).
  2. Registreer as student by CIMA en doen aansoek om vrystellings. Ontvang vrystellings vir BA1, BA2, BA3, BA4, E1, P1, F1 en die operasionele vlak se gevallestudie-eksamen (sertifikaat- en operasionele vlak)
  3. Skryf die bestuurs- en strategiese vlak via CIMA.
  4. Doen drie jaar se praktiese ervaring op. Jy kan jou praktiese ervaring opdoen terwyl jy besig is om te studeer. Volg hierdie skakel vir meer inligting met betrekking tot CIMA se vereistes ten opsigte van praktiese ervaring.
  5. Ontvang jou CIMA-kwalifikasie en word erken as ʼn Chartered Global Management Accountant (CGMA).

Volg hierdie skakel vir verdere inligting oor CIMA.

Die South African Institute of Professional Accountants (SAIPA) is ‘n professionele rekeningkundige organisasie wat daartoe verbind is om die openbare belang te dien en te beskerm. Akademia se BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie is deur SAIPA geakkrediteer. Om lidmaatskap by SAIPA te verkry moet die volgende stappe gevolg word:
  1. Die SAIPA-roete behels dat jy tydens of ná jou BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)- of BCom (Bestuursrekeningkunde)-studies by Akademia, aangestel word as ʼn klerk of vakleerling by ʼn rekeningkundige firma wat as ʼn Approved Training Centre (ATC) by SAIPA geregistreer is.
  2. Jy voltooi dan ʼn driejaarklerkskap by die goedgekeurde rekeningkundige firma (ATC).
  3. Aan die einde van die driejaarklerkskap ondergaan jy ʼn professionele evaluasie-eksamen voordat jy ʼn lid van SAIPA word.
Volg hierdie skakel vir meer inligting met betrekking tot die vereistes om ʼn SAIPA-klerk te word.  

Die Southern African Insititute for Business Accountants (SAIBA) is ʼn erkende beheerliggaam en geregistreerde professionele liggaam vir besigheidsrekenmeesters. SAIBA het ʼn unieke inisiatief saam met Akademia van stapel gestuur, naamlik die SAIBA U²Pro-inisiatief wat studente in staat stel om ʼn professionele rekeningkundige benaming met hul kwalifikasie te behaal wanneer hulle gradueer.

Hoe werk die SAIBA U²Pro-inisiatief:

  1. Registreer by SAIBA as ʼn student vir die U²Pro-inisiatief.
  2. SAIBA laat geakkrediteerde tersiêre onderwysinstellings soos Akademia se graduandi toe om gratis studentetoegang tot die U²Pro-inisiatief te ontvang.
  3. Werkende graduandi: laai hul logboeke of goedgekeurde werkservaring op hul SAIBA-studentprofiele op.
  4. Werksoekende graduandi: doen aansoek om deel te neem aan die SAIBA- virtuele werkgereedheidprogram.
  5. Kwalifiserende graduandi sal eenjaarlidmaatskap en ʼn BA(SA)-benaming by SAIBA ontvang.

 

Volg hierdie skakel vir verdere inligting oor die SAIBA U²Pro-inisiatief.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (Financial Sector Conduct Authority – FSCA), voorheen bekend as die Raad op Finansiële Dienste (Financial Services Board – FSB), is die reguleerder vir die markgedrag van finansiële instellings wat finansiële produkte en dienste voorsien en gelisensieerd is ingevolge finansiëlesektor-wetgewing, insluitende banke, versekeraars, aftreefondse en administrateurs en ander finansiëlemark-infrastrukture. Die FSCA poog om die doeltreffendheid en integriteit van finansiële markte te verbeter en te ondersteun, en om finansiële klante te beskerm deur hul billike behandeling deur finansiële instellings te bevorder, asook om finansiële klante finansiële opvoeding te gee. Die FSCA help verder met die handhawing van finansiële stabiliteit in Suid-Afrika.

Finansiële diensteverskaffers, hulle sleutelpersone, verteenwoordigers en voldoeningsbeamptes moet voldoen aan die geskikte en behoorlike vereistes (fit and proper) volgens die FAIS-wet (Financial Advisory and Intermediary Services Act). Een van die vereistes is ʼn goedgekeurde minimum kwalifikasie wat aan die kandidaat die relevante kennis en vaardighede besorg om verantwoordelikhede ingevolge die FAIS-wet uit te voer. Die registrateur van die FSCA erken verskillende soorte kwalifikasies as toepaslik vir verskillende kategorieë van finansiëlediensteverskaffers, verteenwoordigers en sleutelpersone, asook vir verskillende soorte finansiële dienste en produkte.

Die insluiting van die BCom (Bestuursrekeningkunde) op die lys van erkende kwalifikasies ingevolge die geskikte en behoorlike vereistes, beteken dat studente wat die kwalifikasie voltooi het, voldoen aan die FAIS-wetlike vereiste vir ʼn kategorie I-IV- finansiële diensteverskaffer, verteenwoordiger, sleutelpersoon en voldoeningsbeampte.

Dit stel afgestudeerde studente in staat om in die finansiëledienstebedryf ʼn loopbaan te volg. 

 

FSCA-prent

KWALIFISEER EK OM BCOM (BESTUURSREKENINGKUNDE) TE STUDEER?

MODULES

Hierdie module behandel die basiese tegnieke vir die identifisering en beheer van kostes en kostebestuur. Dit beskryf die konteks van bestuursrekeningkunde in kommersiële en openbare sektor liggame en sy wyer rol in die gemeenskap. Dit identifiseer die posisie van die bestuursrekeningkundige binne organisasies, asook CIMA se rol. Klassifikasie van kostes en kostegedrag verskaf ’n grondslag om die verskeie beskikbare instrumente vir beplanning, beheer en besluitneming te begryp. Begrotingsbeheer noodsaak die vasstel van teikens en standaarde, terwyl die analise van veranderlikes die prestasievlakke binne organisasies demonstreer. Rekeningkundige beheermeganismes word geïdentifiseer en toegepas om bestuurders te help om operasionele effektiwiteit te behaal. Beleggingswaardasies, gelykbreekanalises en winsmaksimalisering word vir lang- en korttermyn besluitneming gebruik.

Hierdie module behandel die voorbereiding van finansiële verslae vir enkel entiteite. Die verslae word binne ’n konseptuele en regulatoriese raamwerk saamgestel, met ’n begrip vir die verskeie alternatiewe wat waardering betref, asook die rol van wetgewing en van rekeningkundige standaarde. Deur rekeningkundige tegnieke en stelsels toe te pas, kan rekeninge vir verskillende bedrywe en vir spesifieke transaksies voorberei word. Die meting van finansiële prestasie deur die berekening van basiese verhoudings word behandel, asook die noodsaaklikheid om die nodige beheermeganismes vir rekeningkundige stelsels te verstaan en toe te pas deur na interne beheer en die aard van foute en bedrog te kyk.

Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met ʼn oorsig van statistiek en die tegnieke vir die aanwending daarvan.

Die module behandel die ekonomiese konteks van sakeondernemings en hoe mededinging, beweging van finansiële markte en regerings se ekonomiese beleid ’n onderneming kan beïnvloed. Dit behandel ook die belangrikste mikro-ekonomiese tegnieke wat onderliggend tot prysvasstellings en winsmaksimaliseringsbesluite is. Die sillabus fokus daarop om aan studente ’n begrip vir die ekonomiese aktiwiteite relevant tot ’n organisasie se besluitneming te bied.

Die module weerspieël die wetlike raamwerk vir sakeondernemings en behandel die grondslag van kommersiële aktiwiteit. Dit sluit wetlike aspekte oor kontrakte en indiensneming in, asook die finansiering, administrasie en bestuur van maatskappye.

Hierdie  module  dek  die  algemene  aspekte  en  beginsels  wat  betrekking  het op ʼn  inleiding  tot sakereg en kontraktereg.

Die module behandel hoofsaaklik die instrumente en tegnieke wat inligting genereer om huidige en voorgenome prestasie te evalueer. Die vooruitskatting van sleutel veranderlikes en die identifisering van onsekerhede rakend toekomstige gebeure is die grondslag vir begrotingsbeplanning. Die begroting word dan saam met kostestelsels gebruik om werklike prestasie te meet. Projekevaluering maak ook op finansiële projeksies staat om die inligting waarop bestuurders verwagte prestasie en werklike resultate kan evalueer, te voorsien. Begrotingsbeplanning en projekevaluering benadruk albei die kritiese belangrikheid daarvan om kontantvloei te optimaliseer. Hierdie tema word ook vanuit die perspektief van bedryfskapitaal en die bestuur daarvan behandel.

Hierdie module fokus op die voorbereiding van ’n volledige stel finansiële state vir ’n enkele maatskappy en die gekonsolideerde finansiële verslae vir ’n klein groep. ’n Wye reeks van internasionale standaarde word gedek. ’n Begrip vir die regulatoriese en etiese konteks van finansiële verslaggewing, wat van groot belang is om te verseker dat finansiële verslae aan gebruikers se behoeftes voldoen, word ook behandel. Belastingbeginsels word bespreek, aangesien dit ’n rol in finansiële verslae speel en om ’n grondslag te vorm vanwaar die rol van belasting in finansiële analises en besluitneming bestudeer kan word.

Hierdie module spreek verskeie funksionele sakekwessies aan en stel studente aan die ekonomiese, maatskaplike en politieke konteks van die internasionale sakewêreld bloot. Die verskillende afdelings behandel inligtingstelsels, bedryfsprosesse, bemarking en menslikehulpbronbestuur, sodat studente bewus is van groot verwikkelinge op die gebied, asook van instrumente en tegnieke wat belangrik is vir elke funksionele sakekwessie.

Die module rus studente toe met kennis oor belasting in die sakewêreld.

Die module bied aan studente die nodige kennis oor ouditkunde om in die sakewêreld toe te pas.

Die wêreld van finansiële bestuur sowel as die bestuur van geld, was en sal altyd ’n integrale deel van ons samelewing wees. Die beginsels en begrippe van finansiële bestuur sal ’n wesenlike invloed op die student se finansiële toekoms as individu en in die sakewêreld hê.

Hierdie module bou voort op die analitiese tema van Bestuursrekeningkunde 2, maar fokus nog meer op die toepassing van inligting in die bestuursprosesse van besluitneming en beheer, om prestasie sodoende te optimaliseer. Die eerste twee afdelings behandel die belangrikste bydraers tot operasionele prestasie – inkomste (besluite oor wat om te vervaardig en teen watter prys) en uitgawes (hoe om dit vir maksimale winsgewendheid te bestuur). Die rol van beheer om prestasie te monitor en verbeter word in die laaste twee afdelings behandel.

Die module brei uit op die inhoud van Finansiële Rekeningkunde 2 met meer gevorderde onderwerpe in finansiële rekeningkunde (voorbereiding van volledige gekonsolideerde finansiële verslae en beginselkwessies in rekeningkundige standaarde wat met meer komplekse areas te doen het) en met verwikkelinge in eksterne verslaggewing. Met die gevorderde vlak van finansiële rekeningkunde en verslaggewing wat in hierdie vak bereik word, word rekeninge in meer diepte geanaliseer en geïnterpreteer.

Hierdie module beweeg weg van die klem op funksionele kennis wat in Ondernemingsbestuur 1 behandel is, om ’n holistiese, geïntegreerde begrip vir bestuur binne ’n organisasie te kweek. Deur op belangrike konsepte in strategiese bestuur te bou, ontwikkel hierdie vak instrumente en tegnieke om belangrike aspekte rakend mededingendheid te identifiseer. Die vaardighede van projekbestuur word ook uitgelig. Die vak behandel die vaardighede wat nodig is om met spanne te werk, dit te bestuur en dit te ontwikkel. Dit sluit die regsaspekte van menslikehulpbronbestuur, asook die sagter elemente van onderhandeling en leierskapsvaardighede in.

Die module behandel die belangrikste elemente in die ontwerp en bestuur van ’n organisasie se finansiële strategie, met die oog daarop om tot die organisasie se doelwitte by te dra, veral met eksterne struikelblokke soos die algemene regulatoriese en beleggingsomgewing in ag genome. Die eienskappe en toepassing van die volle reeks belangrike finansiële instrumente word behandel. ’n Wye reeks van verskillende beleggingsbesluite word ook gedek, met inagneming dat hierdie besluite rekening moet hou met breër strategiese kwessies en die finansiële analise.

ANDER INLIGTING

Die program kan in ’n minimum tydsduur van drie jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is sewe jaar.

Toelatingsvereistes

  • Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudies spesifiseer, asook:
    • Afrikaans 50%
    • Wiskunde 50%
    • Rekeningkunde 50%
  • Rekeningkunde in graad 12 word vereis, maar die onderstaande prestasie word ook oorweeg in gevalle waar studente nie Rekeningkunde as skoolvak geneem het nie:
    • ʼn Minimum van 60% vir Wiskunde sal oorweeg word, mits die voornemende student ʼn algehele goeie akademiese profiel het.
  • Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf (Universiteite Suid-Afrika) indien ʼn ander skoolverlater kwalifikasie as NSS behaal is.
  • ʼn Hoër Sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld.

Programkoste vir 2024

Jaar een: Vanaf R51 360 | Jaar twee: Vanaf R56 000 | Jaar drie: Vanaf R48 000

Handboeklyste word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

Nauurse afstandsmodel: Semester 1

Nauurse afstandsmodel: Semester 2

DOEN NOU AANSOEK OM ‘N BCOM (BESTUURSREKENINGKUNDE)-GRAAD TE STUDEER