Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-studente verkies tot huiskomitees

Gepubliseer op: 23 Februarie 2022

Tien van Akademia se eie studente is verkies tot die huiskomitees (HK) van die twee splinternuwe koshuise op koshuis@Leriba sowel as die daghuis Huis Valorem op die instelling se Centurion-kampus.

Volgens Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, is die grootste rol van die HK om voorbeelde te wees en leiding te neem by die koshuise. Die instelling se waardes moet elke Fontie na aan die hart lê en die HK sal die koshuisinwoners help om hierdie waardes te verstaan en uit te leef. Die HK sal ook verantwoordelik wees vir die reël van koshuisaktiwiteite sowel as die skep van tradisies wat as fondament die weg vorentoe sal baan.

“Die HK is ʼn besonderse span wat drome en idees prakties gaan moet uitvoer. Hulle is kreatief en verstaan Akademia se visie asook die verantwoordelikheid wat hulle dra om Akademia se studentelewe te help verwesenlik,” sê Visser.

Tinus Dodds, koshuisouer, noem dat die HK van hierdie koshuise se sterkste eienskap is en dat elkeen ʼn unieke persoonlikheid en ʼn stel vaardighede het wat mekaar aanvul om van hulle ʼn gedugte span te maak. Die Dodds-egpaar wat huisouers van die koshuise is, het reeds saam met die HK ʼn intreevergadering gehad om hul welkom te heet as jong leiers van Akademia.

“Die koshuise is ʼn klein studentedorpie in die hart van die groot stad en soos enige dorpie moet daar reëls nagekom word om orde te verseker sodat studente optimaal kan funksioneer op akademiese en emosionele vlak,” vertel hy.

Studente wat in hierdie koshuise inwoon, kan ʼn verskeidenheid aktiwiteite verwag, soos sport- en kultuuraktiwiteite sowel as ontspanningsgeleenthede soos braai en informele vasvrakompetisies. Die HK gaan ook baie nou saam met die studenteraad, oftewel SR, werk om ʼn sukses van die instelling se studentelewe te maak.

Visser glo dat daar oor ʼn tydperk van vyf jaar groot groei gaan plaasvind wat die koshuise, en dus die huiskomitees, betref. Die aktiwiteite gaan op ʼn baie groter skaal plaasvind en die tradisies wat nou geskep word, gaan oor vyf jaar in die studente se karakter gevestig wees. Die leierskapeienskappe wat nou gevorm word sal ook jaar na jaar oorspoel na die volgende jong leiers.

Visser se kort boodskap aan die splinternuwe HK is om nie te veel aan te pak nie, alhoewel hulle groot ambisie het. Dit wat hulle wel besluit om te doen moet hulle met uitnemendheid doen, maar steeds onthou om studentwees ten volle te geniet en nie te veel druk op hulself te plaas nie.

Huis Valorem

Huis Valorem was die eerste koshuis van Akademia en is nou die daghuis op die instelling se Centurion-kampus waar enige Fontie kan inskakel sonder om self in die koshuis te woon. Hierdie naam is deur 2021 se inwoners gekies en dit beteken “van waarde”.

Primaria en akademie: Elisma van der Watt
Onderprimaria, studentebelange en ondersteuning: Caylin du Plooy
Tesourier en sekretaresse: Danielle Badenhorst
Sport en instandhouding: Martin Potgieter
Kunste en kultuur asook skakeling en sosiaal: Tharien de Klerk

Huis Strelitzia

Huis Strelitzia is die dameskoshuis op koshuis@Leriba wat na die sterk en mooi blom vernoem is wat welig op die perseel groei.

Primaria en sport: Alicia Bennett
Onderprimaria, sekretaresse, en kunste en kultuur: Ilne van Heerden
Sosiaal en skakeling: Chanri Booysen

Huis Hennops

Die manskoshuis by koshuis@Leriba staan tans bekend as Huis Hennops wat vernoem is na die Hennopsrivier wat verby die perseel vloei en sy oorsprong het van die sterk Olifantsrivier

Primarius en tesourier: Jandré du Plessis
Sekretaris en bemarking asook instandhouding: Gerhard Labuschagne

Dit is vir Akademia ʼn groot eer en hoogtepunt om die studente as deel van die eerste HK wat op koshuis@Leriba dien te kan aankondig. Hierdie studente is ʼn groot deel van die instelling se jong leierkorps wat met ambisie en passie lewe in die studentelewe van Akademia blaas. Akademia sien uit om te kyk wat hierdie jong leiers in die jaar wat voorlê vermag.

Die huiskomitees van Huis Hennops, Huis Strelitzia en Huis Valorem saam met Paul Vogel, bedryfshoof van Akademia, sowel as Mareli Swanepoel, bestuurder van Projekte, en die Dodds-egpaar, huisouers van die koshuise.