Kampusopedag op 10 en 11 Mei is in

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-eerstejaarskampgees bars uit sy nate

Gepubliseer op: 24 Februarie 2022

Die opgewonde eerstejaarstudente van Akademia het op 1 Februarie na Zwartkloof Privaat Natuurreservaat, buite Pretoria, vir die jaarlikse eerstejaarskamp vertrek. Die eerstejaarskamp is bygewoon deur nauurse studente van dwarsoor die land, asook eerstejaarstudente wat voltyds by Akademia se Centurion-kampus studeer.

Ná die afgelope twee jaar se suksesvolle eerstejaarskampe het die belangstelling verdubbel vanaf verlede jaar. ʼn Groottotaal van 183 blinkoog nuwe Fonties het in die busse geklim om bande te bou met medestudente, die studenteraad en personeel.

Die kamp het jaarliks ten doel om die studente aan die instelling se waardes en manier van doen bekend te stel, asook ook om die geleentheid te bied sodat die begin van lewenslange vriendskappe gevestig kan word. Vanjaar was weereens ʼn reusesukses wat betref hierdie institusionele oogmerke.

Die studente het aan verskeie aktiwiteite deelgeneem soos spanbousessies, liedjies om die kampvuur sing, hindernisbaanaktiwiteite, ʼn sokkiedans, ʼn toer om wilde diere te kyk, en vele meer. Die studenteraad (SR) het die lied, Geronimo deur Sheppard gekies en gechoreografeer, waarop die Fonties voor (byna) elke aksie hulle beste danspassies moes wys op die ritme van die musiek. Paul Smit, wat leierskapontwikkeling, lewensafrigting en mentorskap aan Akademia-studente bied, het ook met die Fonties oor leierskap en studentwees gesels – ʼn hoogtepunt op die program.

“Die eerstejaarskamp was vet pret, alhoewel ons lekker moeg was van al die aktiwiteite. Al die terugvoer wat ek van die eerstejaars ontvang het, is besonders en mens kon sien dat elkeen dit regtig geniet het,” sê Myrtle Endley, SR-lid van Akademia wat die kamp bygewoon het.

Eustine du Preez, ʼn eerstejaar in BEd (Intermediêre Fase-onderwys) by Akademia noem dat die kamp almal die kans gegee het om mekaar beter te leer ken en vriende te maak. “Dit was regtig ʼn wonderlike manier om die jaar af te skop. Almal het mekaar bygestaan en die aktiwiteite was baie pret.”

Die jaarlikse eerstejaarskamp is een van vele opwindende aktiwiteite op die studentekalender wat jaarliks groei. Hou hierdie spasie dop, want daar is nog baie studentenuus en -aktiwiteite in die vooruitsig.

Vir meer inligting oor Akademia, besoek www.akademia.ac.za of stuur ʼn WhatsApp na 0861 222 888. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

Die derde opeenvolgende eerstejaarskamp is deur Akademia aangebied waar die gees behoorlik uit sy nate gebars het.
ʼn Rekordgetal studente van 183 het die eerstejaarskamp bygewoon hierdie jaar.
Die nuwe Fonties het verskeie aktiwiteite by die kamp bygewoon om mekaar te leer ken.