Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Internasionale Wiskundedag: Wiskundestudent deel haar passie vir probleemoplossing

Gepubliseer op: 15 Maart 2022

Bianca van Wyk, eerstejaarstudent in die program BSc (Wiskundige Wetenskappe) vier vanjaar saam met Akademia op 14 Maart Internasionale Wiskundedag. Sy glo dat dit belangrik is om hierdie dag te vier aangesien dit die belangrike rol wat Wiskunde deur die jare tot hedendaagse probleemoplossing bygedra het, beklemtoon.

Sy het besluit om BSc (Wiskundige Wetenskappe) te studeer aangesien sy van uitdagings hou en om waarde te kan toevoeg met wat sy doen. “Dit is ʼn graad wat internasionaal gesog is en waarna daar ʼn groot aanvraag is,” vertel sy. Sy beklemtoon ook dat die graad deure oopmaak in die tegnologiese gevorderde wêreld van vandag.

Wiskunde is nie almal se koppie tee nie, maar die vakgebied het Van Wyk, weens haar liefde vir uitdagings nog altyd geprikkel. Hierdie liefde vir Wiskunde help haar ook tydens haar studies om uitdagings, soos sperdatums, te oorkom met goeie tydsbestuur. “Dit is ʼn groot stap vanaf skoolkind tot onafhanklike student. Ek is egter gelukkig dat die dosente my bystaan met enige navrae en probleme wat ek teëgekom het.”

Daar was verskeie redes waarom sy Akademia bo ander instellings gekies het. Een rede is die gereelde kontak tussen haar en die instelling wat sy ontvang, nog ʼn rede is die feit dat sy nooit onseker was oor wat haar studies gaan behels nie. Sy noem ook dat die Akademia-opedag wat sy bygwoon het haar finaal oortuig het om Wiskunde as studierigting te oorweeg. Sy het besef dat sy as individu by Akademia raakgesien word, en dat sy nie bloot as deel van ʼn groter massa sal verdwyn nie.

Sy geniet haar studies terdeë, sowel as die studenteaktiwiteite wat Akademia vir haar bied. “Dit is wonderlik om deel te wees van ʼn gemeenskap waar almal jou ondersteun, vanaf medestudente tot jou dosente. Die aktiwiteite bied ook die geleentheid om alle studente as ʼn eenheid betrek en die druk van studies te verlig.”

Die BSc (Wiskundige Wetenskappe)-kwalifikasie laat haar hart vinniger klop omdat mens Wiskunde in soveel ander rigtings ook kan toepas. “Die graad stel jou in staat om die veel groter prentjie te sien en nie net die probleem voor jou nie, daarom raai ek die kwalifikasie aan vir mense wat ten doel het om probleme op te los.”

Haar groot droom is om die kennis wat sy by Akademia opdoen te kan deel op internasionale vlak by ʼn maatskappy. Sy hoop ook om eendag haar eie besigheid op die been te bring waar sy weer in haar gemeenskap kan waarde toevoeg.

“Dit is vir my ʼn voorreg om ʼn Fontie by Akademia te wees en in my moedertaal te kan studeer en te kommunikeer. Dit alles dra by tot die verbetering van myself. Ek glo dat Akademia in die nabye toekoms sal groei tot die universiteit van keuse en die aansien sal kry wat hulle toekom.” Akademia hou haar ambisie en drome met ʼn fyn oog dop en wens haar alle voorspoed toe met haar studies en toekomsplanne.

As jy ook ʼn passie vir Wiskunde het en dit oorweeg om hierdie kwalifikasie te studeer, besoek gerus die webblad vir meer inligting. Studieaansoeke vir 2023 open op 4 April. Akademia, jou Afrikaanse studietuiste!

Bianca van Wyk is ʼn BSc (Wiskundige Wetenskappe)-student wat voltyds by Akademia se Centurion-kampus studeer.