Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Ekonomiese gevolge van die oorlog op die oliepryse

Gepubliseer op: 14 Maart 2022

Geskryf deur dr. Sandra Adendorff, dosent in Ekonomie en Internasionale Handel aan Akademia.

Ons is almal diep bekommerd en geskok deur die oorlog wat Rusland in Oekraïne geïnisieer het. Ongelukkig is dit ʼn gebeurtenis wat ons almal diep raak op verskeie maniere, maar veral ook op ekonomiese gebied. Uiteindelik sal dit almal beïnvloed en indien die oorlog uitgerek word, kan dit die menslike en ekonomiese tragedie verder vererger.

Die narratief is een van toenemende swaarkry vir al ons almal; iets wat ons in die huidige ekonomiese klimaat swaarlik kan bekostig. Rusland is benewens die VSA en Saoedi-Arabië die derde grootste verskaffer van olie in die wêreld. Daarbenewens verskaf Rusland ongeveer 40 persent van die natuurlike gas aan Europa. Die Opul-kartel* het tot dusver ook nie meer as die normale kwota geproduseer nie wat beteken dat die aanbod ook beperk is. Dit, gepaardgaande met sanksies teen Rusland se olie en gasuitvoere, sal nog verdere druk op pryse plaas om te verhoog.

Ongelukkig is energiebronne ʼn belangrike inset vir alle produsente en sal pryse van baie produkte verhoog. Vervoerkoste beslaan byna 15% van die inflasiemandjie op sigself. Daarbenewens sal die petrolprys ook die meeste ander items in die inflasieberekening beïnvloed. Dit beteken dat die inflasiekoers wat teen 5,7% in Januarie alreeds naby die boonste punt van die teikenband van 3-6% was, nog verder sal verhoog – veral indien die oorlog ʼn uitgerekte gebeurtenis is.

Die Reserwebank sal dan genoop word om rentekoerse weereens te verhoog; ook in ooreenstemming met ander sentrale banke in die wêreld. Dit sal ieder en elk in Suid-Afrika se finansiële posisie raak en verbruikers wat nou meer vir brandstof betaal, sal dan genoop word om hoër rentekoste op hul skuld te moet betaal. Die staat wat ook in ʼn benarde fiskale posisie is, sal ook meer op staatskuld moet vereffen wat ook verdere druk op staatsfinansies sal beteken.

Die groeikoers in reële terme vir die hele jaar (2021) was 4,9% en in die laaste kwartaal van 2021 was dit maar 1,2% in reële terme (d.w.s. ná inflasie). Die probleem is dat dit te min is om ons uit die verknorsing van toenemende armoede en werkloosheid te help. Addisionele risiko’s soos strukturele probleme in die ekonomie; veral die gebrek aan volhoubare energie vererger die dilemma.

Ons moet steeds hoopvol wees en bid dat die oorlog spoedig beëindig sal word sodat ons daadwerklik kan werk aan ons land en ons gemeenskap kan opbou. Suid-Afrika het nog glad nie herstel van die sosio-maatskaplike en menslike tragedie van die Covid-19-pandemie nie. Ons kan net vertrou dat die tragedie van die dreigende wêreldoorlog nie sal verwesenlik nie.

Skematies kan die transmissie van ekonomiese gebeure soos volg uitgebeeld word:

*Opul is die Organisasie van Petroleumuitvoerlande. Die Opul-kartel bestaan uit: Algerië, Angola, Ekwatoriaal-Guinee, Gaboen, Iran, Irak, Koeweit, Libië, Nigerië, die Republiek van die Kongo, Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Venezuela. Rusland word as addisionele lid gereken in Opul+.

Verwysing:

2022; Joint IMF-World Bank Group Statement on the war in Ukraine. March 1, 2022. https://www.worldbank.org/en/news/statement/2022/03/01/joint-imf-wbg-statement-on-the-war-in-ukraine.

Dr. Sandra Adendorff is ʼn passievolle dosent by Akademia en ʼn kenner op die gebied van ekonomie en internasionale handel.