Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Eerstejaar in Kantooradministrasie spog met topmatriekuitslae

Gepubliseer op: 14 Maart 2022

Een van Akademia se eie Fonties, Anaïs Herman, was verlede jaar ʼn toppresteerder in matriek, met nege onderskeidings en ʼn 90,5%-gemiddeld op haar Nasionale Senior Sertifikaat. Vanjaar studeer dié student die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie, deel van Akademia se nauurse onderrigmodel, terwyl sy voltyds in Somerset-Wes werk.

Dié studierigting neem slegs een jaar om te voltooi en dit gee vir Herman die geleentheid om haar brein aan die gang te hou. “Ek hou van administratiewe sake en die jaar by Akademia gee my ʼn kans om nog te besluit oor verdere studierigtings, aangesien ek nog nie seker is oor watter loopbaan ek wil volg nie,” vertel sy.

Toe die tyd vir haar aanbreek om ʼn universiteit te kies, het sy en haar ouers daaroor gebid en vir die Here gevra om duidelikheid oor die keuse van instelling te gee. “Ons het gebid dat die Here vir my rustigheid oor my besluit sal gee,” vertel Herman. “Akademia was die regte besluit.”

Herman vertel dat Akademia se waardes en beginsels ooreenstem met dié waarna sy streef en daarom het sy dié hoëronderwysinstelling as haar studietuiste gekies. Sy noem ook dat dit vir haar ʼn groot voorreg is om in haar moedertaal onderrig te ontvang. “Dit laat my onmiddellik tuis voel,” vertel sy.

Akademia se deurlopende assesserings en kontaksessies hou vir Herman op haar tone en stel haar in staat om die werk vinnig onder die knie te kry. “Die Spens is baie gerieflik en help dat ek ingelig en op datum bly en die dosente maak seker dat ons alles het wat ons benodig.”

Die feit dat Akademia hierdie jaar die tiende jaar van klasgee vier en reeds so ʼn groot impak op die gemeenskap gemaak het, is wat vir Herman uitstaan van die instelling. Weens die feit dat sy in die Kaap woon, moes sy kreatief raak om saam te kon feesvier. “Ek vier Akademia se tiende jaar van klasgee deur vir mense wat tans besluite oor universiteite moet maak, oor Akademia in te lig en hulle aan te moedig om meer van hierdie loopbaantuiste uit te vind,” sê sy.

As jong student is Herman nog onseker oor wat die toekoms vir haar inhou, maar sy weet dat sy verder wil studeer. Sy beoog om binne die volgende paar maande navorsing oor verskeie ander studierigtings te doen terwyl sy die Hoër Sertifikaat in Kantooradministrasie voltooi. Sy hoop ook om oor vyf jaar terug te kan kyk op haar studentelewe en gelukkig te wees met waar sy haarself nou bevind. Akademia hou met opwinding haar toekoms dop en sien uit om te sien wat sy alles gaan bereik.

Indien jy belangstel in studies by Akademia, besoek Akademia se webblad hier en kyk watter studiemoontlikhede op jou wag. Aansoeke vir studies in 2023 open op 4 April. Akademia – jou loopbaanreis begin hier!

Anaïs Herman
Anaïs Herman saam met haar Fontie-vriendinne, Ané Jansen, Tamryn McCall, Chloe Morrow en Cara Kamfe, op die Akademia-eerstejaarskamp.