Kampusopedag 10 en 11 Mei 2024

Search
Close this search box.

Π bring wiskundevreugde na Centurion-kampus

Gepubliseer op: 11 Maart 2022

Geskryf deur prof. Hannes Rautenbach, dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe by Akademia.

Daar is min konstante getalle wat ʼn mens meer bewus maak van wiskunde as juis die getal pi (π), en daarom het die fisikus Larry Shaw in 1988 besluit om pi-dag as ʼn jaarlikse instelling te begin vier.

Die getal pi verteenwoordig die verhouding tussen ʼn sirkel se omtrek teenoor sy deursnee (omtrek gedeel deur deursnee), en is tot twee desimale gelyk aan 3,14. Dit is hierdie waarde wat aanleiding gegee het tot die keuse van ʼn datum vir pi-dag. Omdat Maart die derde maand van die jaar is, gevolg deur veertien dae vanaf die begin van Maart, word pi-dag eerskomende Maandag op 14 Maart 2022 gevier.

Na beraming was die getal pi alreeds 4 000 jaar gelede bekend onder die antieke Babiloniërs, waartydens die waarde gemeet is as 3,0. Daarna het die Egiptenare tydens 1650 voor Christus (v.C.) die waarde van pi meer akkuraat gemeet as 3,16, waarna die Griekse wiskundige Archimedes gedurende 250 v.C. die eerste berekening uitgevoer het en tot die slotsom gekom het dat pi eintlik ʼn waarde van ongeveer 3,14 moet hê. Die werklike waarde van pi in wiskunde is egter eers in die 1700’s bevestig toe William Jones, ʼn Walliese wiskundige, die simbool π daaraan toegeken het, en waartydens die Switserse wiskundige, Leonhard Euler, die toepassing van pi meer populêr gemaak het in die uitgebreide wiskunde.

Ons weet egter vandag nog nie wat die presiese waarde van pi is nie, omdat die getal uit ʼn oneindige hoeveelheid desimale mag bestaan. In 2021 het Switserse wetenskaplikes daarin geslaag om met behulp van ʼn superrekenaar pi te bereken tot ʼn waarde van 26,8 triljoen desimale. Dit het die rekenaar 108 dae geneem om hierdie berekening uit te voer. Daarbenewens kon die 25-jarige Indiër Rajveer Meena daarin slaag om 70 000 desimale van pi te memoriseer, wat dan ook vir hom ʼn plek in die Guinness Book of Records besorg het.

By Akademia word Maandag 14 Maart 2022 dan ook as pi-dag deur ons BSc (Wiskundige Wetenskappe)-studente gevier, ter herinnering aan die ryk geskiedkundige groei van wiskunde, en ook aan die waarde wat wiskunde toevoeg tot ons daaglikse lewe.

Akademia-studente vier vandag Wêreld-pi-dag by die Centurion-kampus en elke BSc (Wiskundige Wetenskappe)-student ontvang ʼn potlood, pasteitjie en die boonste grafika ter viering van hierdie spesiale dag.