Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Onderwysstudente ervaar eerstehands verskillende skoolkontekste

Gepubliseer op: 11 Maart 2022

Die eerstejaarsgroep van die BEd-programme, onderskeidelik BE  d (Intermediêre Fase-onderwys) en BEd (Grondslagfase-onderwys), het vier topskole besoek tydens ʼn uitstappie op 9 Maart vanjaar.

Elkeen van die skole wat die groep Fonties besoek het, verteenwoordig ʼn bepaalde skoolkonteks. “Dit is belangrik om ons studenteonderwysers aan verskillende skoolkontekste bloot te stel sodat hul voorbereid sal wees om in enige skoolkonteks onderrig te kan gee,” vertel dr. Maretha Steyn, programkoördineerder van beide die BEd-programme.

Die skole wat die studente besoek het, is:

  • Laerskool Hennopspark: ʼn Afrikaansmediumskool met ʼn groot aantal leerders
  • Laerskool Bergsig: ʼn Parallelmediumskool met minder as 1 000 leerders
  • Sonitus Skool vir Gehoorgestremdes: ʼn Spesiale skool met leerders wat bepaalde behoeftes het
  • Maragon Olympus: ʼn Privaat skool

 

Volgens Steyn leer die toekomstige onderwysers in hul eerste jaar van studie by Akademia van praktyk en kry hul geleentheid om krities te reflekteer oor hul eie aannames en oortuigings om sodoende hul eie identiteit as onderwyser te vorm. “Gedurende hierdie praktiese onderwysdagbesoek is daar van studente verwag om die onderrig-leeromgewing te beleef en waar te neem om sodoende die inligting wat hul reeds in verskeie modules geleer het te kan integreer.”

Hierdie soort skoolbesoeke is beslis waardevol volgens Steyn. “Dit bied aan die studenteonderwysers van Akademia die geleentheid om by verskillende skoolkontekste betrokke te raak, om ervaring op te doen en om daaroor te reflekteer asook om hoë standaarde van professionele en etiese praktyk te vestig.” Sy noem verder dat skoolbesoeke tot Akademia se opvoedingsideaal bydra aangesien dit kennis en wysheid uitbou, sowel as onderwysstudente insig gee in die geheel van die onderwysberoep.

Daar is tans 42 studente gesamentlik in die BEd-programme by Akademia en 40 van hierdie studente het aan die uitstappie deelgeneem. Een van hierdie studente, Jani Hattingh, vertel dat die dag haar weer bewys het dat mens baie geduld met die leerders moet hê, asook baie aandag aan elkeen moet spandeer. ʼn Ander student, Iné Pieterse, vertel: “Verhoudings in onderwys is baie belangrik, asook om verskillende strategieë te gebruik om die inligting aan leerders oor te dra.”

Volgens Steyn is hierdie studente baanbrekers aangesien hulle die eerste groep BEd-studente by Akademia is. “Hierdie studente is besonders aangesien hul die geleentheid kry om in hul moedertaal onderrig te word en dit bring die hart en denke bymekaar.”

Veertig van Akademia se eerstejaaronderwysstudente het op 9 Maart vier skole van verskillende kontekste besoek.
Die studente kon tydens die uitstappie die onderrigomgewing beleef en met hul studies integreer.