Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Internasionale Dag van Geluk: Kies om gelukkig te wees, studente!

Gepubliseer op: 16 Maart 2022

Geskryf deur Michelle van Niekerk, studenteondersteuningskoördineerder by Akademia

Die wêreld is geneig om op al die negatiewe en swaar dinge van die lewe te fokus. Daarom is dit nodig en goed om ten minste een dag per jaar te hê waarop mens doelbewus kies om te fokus op “geluk”, of dit wat jou gelukkig maak. Daarom vier ons by Akademia Internasionale Dag van Geluk op 20 Maart.

Om werklik gelukkig te wees beteken om tevrede te wees met dit wat jy het (en met wie jy is) en om nie altyd wat jy nie het nie na te jaag nie. Dit beteken nie dat jy nie drome mag hê, of na “beter” mag strewe nie, maar wat ek wel sê is om nie toe te laat dat dit wat jy nie het nie, ʼn negatiewe emosie by jou agterlaat nie.

ʼn Student wat glimlag en die studentweesfase geniet, sal ek beskryf as gelukkig. Dit is ʼn student wat ten spyte van al die sosiale en akademiese druk dit steeds regkry om die lewe te geniet en alles voluit aan te pak. Covid-19 het egter ʼn groot impak op studente se algehele welstand en geluk gehad. Studente was vir byna twee jaar geïsoleer en het baie min sosiale interaksie met medestudente gehad. Baie dinge wat vir hulle belangrik is, is ook van hulle af weggeneem, bv. vriende, sport en kultuur, dalk hulle matriekjaar en alles wat dit inhou (soos matriekafskeid). Die impak van Covid-19 was groter as wat ons noodwendig besef. Dit het soveel te meer rede gegee om alles nou voluit te geniet en aan te pak, want mens weet nou hoe dit voel om dit nie te hê nie.

Daar is natuurlik verskeie voordele daaraan om gelukkig te wees. Dit laat jou eerstens toe om die lewe te geniet en jouself nie te beperk of te weerhou van pret nie. Dit laat jou ook ligter en vry voel en help om gesonde vriendskappe en verhoudinge op te bou. Verder hou dit ook verskeie gesondheidsvoordele in en verminder ʼn gevoel van stres of angs binne jou.

Om geluk in jou lewe te verhoog is ʼn binnesaak, met ander woorde, jy bepaal jou eie geluk. Verhoog jou eie geluk deur jouself toe te laat om pret te hê tussendeur die studies en die verantwoordelikheid wat daarmee gepaard gaan. Omhels hierdie fase waarin jy is en gryp dit met albei hande aan – neem deel aan soveel studentelewe en -aktiwiteite as moontlik, bou nuwe vriendskappe op en ontwikkel nuwe vaardighede. Kies verder ook doelbewus om die lekker en mooi van die lewe raak te sien en daarop te fokus – ten spyte van die negatiewe dinge wat die media en die wêreld dikwels uitwys.

Nog ʼn wenk is om vas te stel wat jou eie behoeftes op verskeie vlakke is, en ʼn plan bymekaar te sit om by daardie behoeftes/doelwitte uit te kom (onthou net dat dit realisties moet wees). Probeer verder ook om nie opgewerk of ontsteld te raak oor die onbenullige en onbelangrike dinge in die lewe nie. Besluit wat werklik saak maak, en kies self wat jy gaan toelaat om ʼn impak op jouself en jou lewe te hê.

Michelle van Niekerk is die studenteondersteuningskoördineerder by Akademia wat studente in moeilike tye bystaan.