Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

BSc (Wiskundige Wetenskappe)

Die doel van die BSc (Wiskundige Wetenskappe)-graad is om studente toe te rus met ʼn soliede grondslag in die wiskundige, toegepaste wiskundige en wiskundige statistiek. In die derde studiejaar het die student die keuse om te spesialiseer in twee van die laasgenoemde wetenskappe. Daarbenewens word ook ʼn goeie basis vir die rekenaarwetenskappe in die eerste studiejaar gelê. Studente verwerf die vaardighede om praktiese probleme in wiskundige terme te interpreteer. Die kwalifikasie bied aan studente ʼn sterk basis om voor te berei vir ʼn loopbaan in onder andere die onderwys, wiskundige wetenskappe, analitiese sosiale- en natuurwetenskappe, sowel as in die finansiële bedryf .

WAT KAN EK MET DIE BSC (WISKUNDIGE WETENSKAPPE) DOEN?

Graduandi van hierdie program sal in staat wees om:

  • data krities, opeenvolgend en logies te analiseer en kwantitatiewe probleme op te los;
  • die teorieë, beginsels, en tegnieke van die wiskundige wetenskappe vaardig te gebruik;
  • toepaslike gevolgtrekkings te maak deur die stelselmatige identifisering van die relevante teorieë en konsepte, verwante metodologieë en bewyse; en
  • wiskundige en statistiese resultate duidelik te kommunikeer.

WAT BEHELS DIE KWALIFIKASIE?

NKR-vlak 7

400 krediete

SAKO-nommer: 112505

ONDERRIGLEERMODEL: Voltydse kampusmodel

KWALIFISEER EK OM BSC (WISKUNDIGE WETENSKAPPE) TE STUDEER?

MODULES

Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met die fundamentele kennis van differensiaal- en integraalrekene. Die resultate van kalkulus het oor jare geblyk om besonder nuttig te wees onder andere vir fisika en ingenieurswese.

Die begrip vektor is besonder nuttig met vele toepassings in Wiskunde en Toegepaste Wiskunde. Soos met getalle, word bewerkings gedefinieer wat dan vektoralgebra tot gevolg het. ʼn Baie belangrike toepassing is ʼn alternatiewe formulering van Euklidiese meetkunde wat gebruik kan word om posisie in die ruimte en vorms van voorwerpe te beskryf.

Die doel van die module is om studente bekend te stel aan statistiek as ʼn versameling van metodes om inligting vanuit ʼn groot datastel te verkry. Die student sal metodes aanleer om groot datastelle te beskryf en bewerings te toets en ook hoe om die element van onsekerheid in gevolgtrekkings te beskryf.

Hierdie module bied ʼn inleiding tot die prosesse wat gevolg moet word in programontwerp en analise deur gebruik te maak van C++. Geen vorige kennis van rekenaarwetenskap word vereis nie. Elementêre programmeringskonsepte soos invoer/uitvoer, basiese datatipes, uitdrukkings, kontrolestrukture, reekse, funksies en parameteroordrag word behandel. Studente word ook bekend gestel aan programmeringvloeidiagramme wat betekenis gee aan meer gevorderde programmering. Klem word later gelê op die ontwikkeling van duidelike, kragtige en voortydig-effektiewe kodering.

Die doel van die module is om aan studente ʼn goeie grondslag te gee rakende ʼn wye spektrum van wiskundige idees, tegnieke en gereedskap wat studente sodoende toerus vir die tweede- en derdejaar van die program. Die module-inhoud sit die opleiding wat in die eerste semester in Calculus begin is, voort deur integrasietegnieke te behandel en fokus verder op spesifieke gebiede van wiskunde wat onder meer komplekse getalle, matrikse, lineêre vergelykings en lineêre transformasies insluit.

Dinamika en statika vorm saam ʼn grondslag vir meganika. Hierdie module is ʼn inleiding tot Newton se bewegingswette (met toepassings) wat die effek van kragte op die beweging van liggame modelleer.

Die doel van die module is om die student bloot te stel aan wiskundige modelle van werklikheidsituasies in terme van verskilvergelykings asook die kwantitatiewe ontleding daarvan. Die student sal ook blootgestel word aan numeriese metodes om oplossings van probleme wat nie eksak opgelos kan word nie, te benader.

Die doel van die module is om ʼn wiskundige en aksiomatiese benadering tot die beskrywing van waarskynlikhede te behandel. Aandag word gegee aan verskillende patrone en metodes van beskrywing van veranderlikes in data asook die gebruik van rekenaarsagteware om resultate te regverdig.

Die doel van die module is om die student se kennis wat gedurende die eerste jaar in Calculus opgedoen is te verbreed na vektorfunksies, skalaarvelde en vektorvelde. Daar sal van studente verwag word om die teorie van meer gevorderde calculus – wat vektoranalise, meerveranderlike funksies, lynintegrale en oppervlakintegrale insluit – te verstaan en op te los.

Die doel van die module is om die studie van lineêre algebra uit te brei na die studie van algemene vektorruimtes, eiewaardes en eievektore, diagonalisering, inprodukruimtes en lineêre transformasies op algemene vektorruimtes. Studente word gelei om algebraïese bewysvoering te bemeester en om probleme te analiseer en op te los. Verder word die studente gelei om ʼn belangstelling en waardering vir wiskunde te ontwikkel en om ʼn selfstandige houding teenoor leer en die gebruik van toepaslike idees te ontwikkel.

Die doel van die module is om studente toe te rus met fundamentele kennis rakende waarskynlikheidsverdelings, funksies van willekeurige veranderlikes, steekproefverdelings en beramings. Aspekte soos steekproefteorieë, die beraming van parameters, die sentraal limietstelling, asook t-, χ2– en F-verspreidings word aangespreek.

Die doel van die module is om die student bloot te stel aan differensiaalvergelykings en eenvoudige toepassings daarvan.

In die module word ʼn streng wiskundige formulering van Newton se bewegingswette gegee. Met hierdie formulering as grondslag word ʼn streng wiskundige teorie ontwikkel vir die beweging (en ewewig) van starre en vervormbare liggame.

Die doel van die module is om studente toe te rus met fundamentele kennis rakende inferensiële tegnieke soos hipotesetoetsing, puntberaming en vertrouensintervalle. Aspekte soos die onderskeidingsvermoë van ʼn toets, die skoenlusmetode, Bayes-inferensie, asook t- en χ2-toetse word aangespreek.

Kies twee groepe

Reële Analise

Die doel van die module is om die student se kennis van calculus as vakgebied van ʼn fundamentele en teoreties uitkyk te verdiep. Die vertrekpunt is die aksiomas van die reële getallestelsel.

Diskrete Wiskunde

n hierdie module word die student bekend gestel aan diskrete wiskunde met die oog op algoritmiese probleemoplossing en wiskundige logika. Verder sal die gebruik van telmetodes, in besonder om probleme in waarskynlikheid aan te pak, ook bestudeer word. Die kursus sluit af met ʼn inleiding tot grafiekteorie.

Abstrakte Algebra

Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met fundamentele kennis omtrent die algebra van abstrakte strukture soos groepe, ringe en liggame, asook met die vaardigheid om algebraïese bewysvoering te bemeester en die teorie toe te pas op wiskundige en meetkundige probleme. Studente word gelei om ʼn belangstelling en waardering vir wiskunde aan te kweek en om ʼn selfstandige houding teenoor leer en die gebruik van toepaslike idees te ontwikkel.

Reële en Komplekse Analise

Die doel van hierdie module is enersyds om die teorie van reële analise uit te brei na die n-dimensionale Euklidiese ruimte. Verder word komplekse analise gedoen wat gedeeltelik oorvleuel met 2-dimensionale analise maar die krag van komplekse analise is geleë in die komplekse produk wat resultate gee wat nie bereikbaar is in die geval van reële funksies nie.

Veelvoudige Regressie

Die doel van die module is om studente in te lei en bloot te stel aan die mees algemene en fundamentele metodes wat gebruik word vir die ontleding van lineêre verbande in data van ontwerpte eksperimente en ondersoekende studies. Dit stel die student in staat om toegerus te wees om soortgelyke uitdagings in die toekoms die hoof te bied.

Algemene Liniêre Modelle   

Die doel van die module is om uit te brei op die veelvoudige regressie module-inhoud en om studente sodoende in te lei tot die toepassing van verskillende vorms van lineêre regressie deur die gebruik van alternatiewe foutverspreiding, gekoppelde funksie of variansiefunksie benaderings op deursnitdata. Praktiese ontledings sal verseker dat studente bedryfsrelevante ondervinding opdoen.

Tydreeksontleding

Hierdie module is ontwerp om studente toe te rus met al die nodige vaardighede om tydreekse te beraam, te evalueer en te voorspel. Dit word gedoen teen die agtergrond dat sulke tydreekse ʼn verskeidenheid kompleksiteite mag uitbeeld, insluitende siklusse; neigings; nie-vaste, outoregressiewe en bewegende gemiddelde eienskappe; asook spektrale komponente en verdere patrone van komplikasie in die residu.

Stogastiese Prosesse

ʼn Studie van statistiese modelle wat verskillende tipes waarskynlikheidsituasies beskryf. In elke model word die situasie wiskundig geformuleer en afgelei deur gebruik te maak van die aannames wat gemaak word.

Dinamika 3

Die doel van hierdie module is om die student bloot te stel aan gevorderde konsepte van dinamika, en veral aan die metodes vir analitiese dinamika. Die hoofdoel sal wees om die student in staat te stel om wiskundige modelle te ontwikkel wat die dinamika van stelsels van vaste liggame beskryf.

Optimering

Die doel van hierdie module is om studente in staat te stel om probleme vanuit die velde van besigheid en industrie te ondersoek en op te los. Oplosmetodes sluit die gebruik van lineêre programmering, neurale netwerke en genetiese algoritmes in. Daar sal klem gelê word op die gebruik van rekenaars om oplossings te vind.

Numeriese Analise

Die doel van hierdie module is om numeriese metodes te leer waarmee probleme in die praktyk opgelos kan word. Beperkte voorbeelde is stelsels gewone vergelykings, integrale en stelsels differensiaalvergelykings wat in toepassings voorkom. ʼn Numeriese metode lewer ʼn benadering vir die gewenste oplossing en daarom is analise van foute belangrik. Die analise van ʼn metode lewer ook voorwaardes vir die konvergensie van die benaderde oplossing.

Parsiële Differensiaalvergelykings

Die doel van hierdie module is om die student ʼn inleiding te gee tot oplosmetodes vir parsiële differensiaalvergelykings met die nodige teoretiese regverdiging, meer spesifiek reeksoplossings, D’Alembert se metode en ʼn numeriese metode. Die hittevergelyking, golfvergelyking en Laplace se vergelyking en verwante probleme word behandel. Die onderliggende teorie is van uiterste belang en die konvergensie van reekse van funksies geniet die nodige aandag.

 

ANDER INLIGTING

Die program kan in ’n minimum tydsduur van drie jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is sewe jaar.

Toelatingsvereistes

  • Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudies spesifiseer, asook:
    • Afrikaans 50%
    • Wiskunde 60%
  • Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf indien ʼn ander skoolverlater kwalifikasie as NSS behaal is
  • OF ʼn Hoër Sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld

Programkoste vir 2024

Jaar een: Vanaf R59 280 | Jaar twee: Vanaf R59 280 | Jaar drie: Vanaf R79 040

Handboeklyste word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

DOEN NOU AANSOEK OM BSC (WISKUNDIGE WETENSKAPPE) TE STUDEER