Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Top drie vir BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie aangewys

Gepubliseer op: 22 September 2023

Akademia het onlangs die topdriesakeplanne aangewys vir vanjaar se BCom (Ondernemingsbestuur): Sakeplankompetisie. Daar was vanjaar tien inskrywings vir die kompetisie wat onder mekaar meegeding het vir ʼn plek op die podium.

Die topdriefinaliste sal tydens die finale ronde van die Sakeplankompetisie wat op 6 Oktober 2023 plaasvind hul sakeplanne aan ʼn paneel voorlê waar die wenner van die kompetisie aangewys sal word. Die wenner sal ʼn kontantprys van R50 000 geborg deur Solidariteit Jeug, sowel as ander waardevolle pryse, ontvang.

Die topdriesakeplanne vir 2023 is:

Whisper Cafe deur Catherine-May Trollip

Whisper Cafe is ʼn hoogstaande koffiewinkel wat ʼn unieke ervaring bied deur private geraasdempende hokkies te voorsien wat toegerus is met laaipunte en gratis internet sodat kliënte produktief kan werk met die gemak daarvan om in ʼn koffiewinkel te wees.

Perfect Moments deur Abigail Fourie

Dié verlowingsbeplanningsbesigheid, Perfect Moments, is gestig met ʼn duidelike missie in gedagte: om uitsonderlike verlowingsbeplanningsdienste te verskaf. Die besigheid poog om die individualiteit van elke paartjie te verstaan en te vier.

BioYield deur Daren Horne

BioYield is ʼn maatskappy wat spesialiseer in die verskaffing van effektiewe en volhoubare oplossings vir boere en ander verbruikers wat plantvoeding, groei en siektebestuur moet verbeter op ʼn volhoubare manier.

Volgens Monique Visser, programkoördineerder van BCom (Ondernemingsbestuur) by Akademia, het hierdie sakeplanne uitgestaan vanweë hul unieke en innoverende benaderings in hul onderskeie velde. “Die topdriesakeplanne getuig van innovasie, verpersoonliking en ʼn verbintenis tot volhoubaarheid.”

Visser noem dat die kompetisie ook uitstaan bo ander soortgelyke entrepreneurskap-kompetisies weens sy unieke mengsel van hulpbronne, mentorskap en netwerkgeleenthede sowel as omvattende ondersteuning aan die wenners ná afloop van die kompetisie. Sy beklemtoon ook dat die kompetisie elke jaar geleidelik sterkter word weens ʼn groter poel van talentvolle entrepreneurs en ʼn groeiende belangstelling in entrepreneurskap en innovasie.

Die paneel beoordelaars sluit die volgende entrepreneurskapkenners in:

  • Albert van Wyk, Suid-Afrikaanse entrepreneur, eiendomsbelegger, selfgemaakte miljoenêr en gekwalifiseerde bedryfsingenieur.
  • Henk Schalekamp, besturende direkteur van Kanton
  • Danie Marais, streeksbestuurder by ABSA
  • Hennie Bierman, hoof van Solidariteit Netwerkplatform
  • Nikkie Kriel, projekassistent by AfriForum Sakenetwerk
  • Mareli Swanepoel, bestuurder: Projekte by Akademia

Volgens Visser is die BCom (Ondernemingsbestuur)-span opgewonde om die deur na sukses saam met die deelnemers oop te sluit. “Ons het die afgelope twee jaar merkwaardige sukses gesien in die kompetisie en ons sien uit om weer vanjaar ʼn pad saam met die studente te stap,” sluit Visser af.

Akademia wens die drie finaliste alle voorspoed toe met hul voorbereiding vir die finale ronde en ons sien uit om hul by die finaal te sien spog met hul sakeplanne.