Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die impak van gemeenskapsjoernalistiek

Gepubliseer op: 26 September 2023

Geskryf deur André Gouws, dosent in Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia.

Gemeenskapskoerante speel ’n uiters belangrike, maar dikwels onderskatte rol in Suid-Afrika se medialandskap. Gemeenskapskoerante is gedrukte koerante met plaaslike en gemeenskapsnuus, asook advertensies gerig op plaaslike gehore. Hierdie koerante word nie net in kleiner dorpe en stede versprei nie, maar ook in voorstedelike gebiede in groot stede. Dit is die koerante waar mense nuus kry oor gebeure in hul direkte omgewing, sê Tobie van den Berg, redakteur van Middelburg Observer/Daller en direksielid van die Forum van Gemeenskapsjoernaliste (FGJ) in Mpumalanga en Limpopo.

Die ontstaan en groei van nuuswoestyne wêreldwyd bevestig die belangrikheid van gemeenskapskoerante. Nuuswoestyne is waar geen betroubare nuus versprei word nie en dit is dikwels juis in plaaslike gemeenskappe. Suid-Afrikaners is egter nog in die gelukkige posisie dat die meeste van ons wel toegang tot betroubare plaaslike nuus het, maar sonder werklike waardering vir die belangrike rol wat gemeenskapskoerante hierin speel.

Twee groot mediagroepe in die land, Caxton en Media24, publiseer tientalle gemeenskapskoerante. Daar is ook onafhanklike gemeenskapskoerante, en klein gemeenskapskoerante wat dikwels deur net een of twee mense uitgegee word in afgeleë plattelandse gebiede. In baie gevalle is dit die enigste nuusbron vir mense in hierdie gemeenskappe.

Een van die belangrikste kenmerke van gemeenskapsjoernalistiek is dat hierdie joernaliste werklik deel is van die gemeenskappe vir wie hulle skryf en waaroor hulle skryf. “Ons besef dit is ’n voorreg om ons lesers se stories te vertel. Hoewel ons lede van hierdie gemeenskappe is, weet ons ook hoe belangrik dit is om ons beriggewing regverdig, objektief en gebalanseerd te hou,” sê Marietta Lombard, hoofredakteur van Caxton in die Johannesburgse Metro en uitvoerende direkteur van die FGJ.

Maryke Swart, redakteur van Weskus Media (Weslander en WeskusNuus) en Swartland Gazette, sê: “Gemeenskapsjoernaliste is in die bevoorregte posisie om saam met inwoners in dieselfde gemeenskap te woon, te werk en te beweeg en ervaar dikwels plaaslike uitdagings eerstehands. Plaaslike koerante skryf dus vir hul inwoners, nie net oor hulle nie. Ek voel soms gemeenskapsjoernaliste het daarom amper ’n groter verantwoordelikheid om eties, feitlik en objektief te berig want hulle beweeg daagliks tussen die gemeenskap, koop by dieselfde winkels, staan langs dieselfde rugbyveld en sit Sondae saam in die kerkbanke.”

Irma Green, groepredakteur van Caxton Plaaslike Media, sê gemeenskapsjoernalistiek is die voetsoolvlak-hekwagters van demokrasie. “Vir elke Suid-Afrikaner is dít wat in hul gemeenskap gebeur die hoeksteen van hul bestaan. Die bestuur van hul woonbuurt, stad, township en selfs informele nedersetting, speel ’n groot rol in die psige van ons gemeenskappe.”

Lombard sê dat die gemeenskapspers die waghond in hierdie plaaslike gemeenskappe is, met nuus wat werklik van toepassing is op gewone mense in die plekke waar hulle woon. Volgens Green wil plaaslike gemeenskappe ’n geloofwaardige bron soos hul gemeenskapspers raadpleeg wanneer nuusgebeure plaasvind omdat sosiale media wemel van misleidende inligting.

Ben Burger, bestuurder van die redaksionele platform vir Boland Media en WP Media en adjunk- uitvoerende direkteur van die Forum van Gemeenskapsjoernaliste (FGJ), stem saam. “Die belangrikste rol van gemeenskapskoerante is om lesers ingelig te hou en die waarheid van die leuens te onderskei.”

Lombard voeg by: “Hierdie koerante is die platform waarheen inwoners hulle wend wanneer hulle desperaat is vir antwoorde oor swak dienslewering, om ingelig te word oor die nuutste misdaadtendense in hul dorpe, blootgestel te word aan hul onderskeie dorp se maatskaplike euwels en ook hul mensebelangstories wil deel. Hierdie nuusprodukte is deel van gemeenskapsbou en hou die verskillende gemeenskappe van Suid-Afrika ingelig.”

Volgens Van den Bergh het die Covid-pandemie gewys hoe belangrik die gemeenskapspers is. Hy sê fopnuus het tydens die pandemie ’n nuwe laagtepunt bereik en mediese kenners en dokters het plaaslike inwoners deur gemeenskapskoerante ingelig oor die pandemie en oor inentingsveldtogte. Inwoners het ook in plaaslike koerante hulde gebring aan mense wat gesterf het weens Covid.

Dit is nie net tydens groot nuusgebeure soos die pandemie dat gemeenskapskoerante ’n belangrike rol speel nie. Omdat groot mediahuise in die land dikwels nie meer verteenwoordigers op kleiner dorpe het nie, moet die gemeenskapspers juis plaaslike stories van belang oopkrap en daaroor berig. Swart sê die nasionale media kyk wyer na die geheelbeeld, maar die gemeenskapspers kyk werklik na hoe gebeure mense van dag tot dag raak.

Green sê: “Nasionale koerante en hul aanlyn platforms het histories verteenwoordiging gehad in verskillende dorpe en stede. Met die ekonomiese druk op die media-industrie is baie van hierdie hulpbronne afgelê. Dus is gemeenskapsjoernalistiek van groot belang omdat hulle soms die gemeenskap se ‘laaste hoop’ is om sake aan te spreek. Die gemeenskapspers doen ongelooflike werk om toe te sien dat ongerymdhede uitgelig word.”

Swart sê plaaslike kwessies raak gemeenskappe direk, maar dit haal nie die hoofstroommedia nie, hoewel dit ’n geweldige impak of invloed op die lewe van inwoners het. “Deur daaroor te berig, gee dit ’n stem aan hierdie gemeenskappe wat dikwels oorgesien word.”

Plaaslike koerante speel ook ’n baie groot rol om positiewe nuus te deel. Mediaberiggewing in die nasionale media is dikwels negatief en dit is een van die redes waarom al meer mense nuus bloot vermy. In Suid-Afrika het die leserstal van daaglikse en weeklikse koerante tussen 2022 en 2023 met 26% gedaal, en oor die afgelope tien jaar met tussen 70% en 81%.

Daarenteen het die leserstal van plaaslike koerante aan die einde van 2022 gegroei. Teen die einde van 2022 was die totale kopieë van alle koerante wat in Suid-Afrika versprei is, 6 607 939. Daarvan was 5 772 136 gemeenskapskoerante. Die nasionale koerante se sirkulasie het in die geheel geval, terwyl die gemeenskapskoerante gesamentlik gegroei het met 20 933 koerante.

Volgens Green moet gemeenskapskoerante juis positiewe stories in hul gemeenskappe publiseer en vir mense hoop gee. “As ’n jong skoolkind in die plaaslike koerant verskyn, word daardie berig uitgeknip en bewaar totdat dit vergeel het.”

Green sê dit is steeds anders vir mense om in die koerant te verskyn as om op sosiale media te verskyn. “As jy aan ʼn groep die vraag stel of iemand al in die koerant was, sal dié wat die voorreg gehad het, presies kan oproep wanneer en hoekom hulle die eer gehad het. Indien dieselfde vraag gevra word oor sosiale media, sal almal positief reageer maar min sal onthou hoeveel keer en waaroor, wat net weer die waarde van die gedrukte media bevestig.”

Burger beaam dat mense wat gemeenskapskoerante lees, wil weet wat in hul dorp of woonbuurt aangaan. “Van die tannie wat haar 100ste verjaardag gevier het tot watter skool die plaaslike interskole gewen het. Hierdie is die soort nuus wat nie deur groot nasionale koerante gedra word nie.”

Van den Bergh sê gemeenskapsjoernaliste maak werklik ’n verskil op plaaslike vlak. Hy vertel van ’n ma wat by ’n plaaslike koerant aangeklop het omdat haar seun se kunsbeen gehawend was en hy elke dag pyn verduur het. Die plaaslike koerant het daaroor berig. Die koerant het die pad saam met die gesin gestap en hom na ’n liefdadigheidsorganisasie geneem, wat vir hom ’n nuwe kunsbeen gekoop het. Vandag speel hy rolstoeltennis en is gekies om in ’n groot Afrikatoernooi te gaan meeding.

Van den Bergh gee nog ’n voorbeeld: In Middelburg het ’n behuisingsprojek, Koppiesstraat, ontstaan waar 35 haweloses gehuisves word. Dit het direk gevloei uit beriggewing deur ’n gemeenskapsjoernalis oor ’n hawelose gesin wat langs ’n dam gewoon het. Hulle het in die dam visgevang om te oorleef. Hy sê ook dat AfriForum betrokke geraak het by talle private vervolgingsake in plaaslike gemeenskappe danksy beriggewing in plaaslike koerante.

Die gemeenskapspers speel verder ’n baie belangrike rol in die opleiding van joernaliste. “Hierdie sektor dra by tot die bedryf aangesien die meerderheid joernaliste hul loopbane hier begin en hul vaardighede in die nuuskantoor van gemeenskapskoerante slyp,” sê Lombard.

Van den Bergh herfraseer pres. Julius Nyerere van Tanzanië se bekende aanhaling (“Party lande probeer die Maan bereik, ons probeer nedersettings bereik.”) wanneer hy die belangrike rol van gemeenskapskoerante opsom: “Vandag probeer party lande Mars bereik, gemeenskapskoerante probeer om nedersettings te bereik”.

André Gouws is ʼn dosent in Tale en Kultuurwetenskappe by Akademia. Hy is ook die sameroeper van die beoordelaarspaneel (adjudication panel) vir die Forum van Gemeenskapsjoernaliste (FGJ) se jaarlikse uitnemendheidstoekennings. Die FGJ verteenwoordig meer as 320 gemeenskapsjoernaliste in die land. Gouws was in Augustus ’n spreker op die FGJ se jaarlikse seminare (in Middelburg, Mpumalanga, en in Kaapstad). Hy is ook die FGJ se verteenwoordiger op die beregtingspaneel van die Persraad van Suid-Afrika.