Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Internasionale Vertalersdag: Vertaling ontsluier die vele gesigte van menswees

Gepubliseer op: 29 September 2023

Geskryf deur Sarita Blignaut, taalpraktisyn by Akademia.

Internasionale Vertalersdag word op 30 September gevier. Vanjaar se tema, soos toegedig deur die Federasie van Vertalers (FIT) is: “Vertaling ontsluier die vele gesigte van menswees” en dien as’t ware as ʼn viering van gemeenskap en verbondenheid.

Vertalers openbaar ʼn wêreld van menslike ervarings aan ʼn legio ontvangers. Die vertaalproses is ook ʼn wonderlike manier om van ander kulture te leer en terselfdertyd jou eie kultuur met die res van die wêreld te deel. ʼn Goeie voorbeeld, eie aan die Afrikaanse kultuur, is die verhaal van Racheltjie de Beer, wat tans op die stromingsnetwerk, Netflix, in Engels beskikbaar is as The Story of Racheltjie De Beer.

Dwarsoor die wêreld word menswees aan die hand van verskillende tale en kulture beleef. In ʼn meertalige Suid-Afrika is hierdie verskeidenheid nóg groter en daarom is vertalers (en ook tolke) so noodsaaklik. Die vertaling van literatuur, historiese dokumente en tradisionele stories help om te bou aan die bewaring van ʼn kulturele erfenis sodat dit behoue bly vir toekomstige generasies.

Akademia, as onafhanklike hoëronderwysinstelling, is besig om te help bou aan die Afrikaanse erfenis. Die werk wat hier gebesig word, bied aan die jonger geslag die geleentheid om, in ʼn wêreld waar Engels dikwels oorheers, trots te kan wees op ’n eie bestaanservaring.

Akademiese navorsing kan vir die Afrikaanse geslag behoue bly en die vertaling daarvan kan help dat dié noodsaaklike werke selfs ʼn groter gehoor bereik. Daar word onverpoosd gewerk om Afrikaans tot ʼn akademiese taal op te bou en uit te brei en dit is baie belangrik dat daar nie gerieflikheidshalwe toegegee word aan, byvoorbeeld Engels as gestandaardiseerde navorsingstaal nie. Vertaling help om kennis vir enige moedertaalspreker oop te breek.

Die vertaalproses fasiliteer ook groter empatie en verdraagsaamheid tussen verskillende kulture. Vertaling maak dit vir lesers vanuit ander kulture maklik om oor grense heen te leer en te verstaan. Die mensdom is die heeltyd in ʼn wisselwerking met mekaar en in dié proses word leer aangewakker en vergemaklik, mits daar met verdraagsaamheid opgetree word. Die bekende gesegde lui tog waar, almal verdien ʼn plekkie in die son.

Die rol van vertalers dwarsoor die wêreld is van onskatbare waarde en daarom moet hulle gevier word en hulle beroep nie as gering geag word nie. Op Internasionale Vertalersdag lig Akademia sy hoed vir dié professionele beroepslui en is ons dankbaar vir die belangrike werk wat hulle as brugbouers doen.

Sarita Blignaut, taalpraktisyn by Akademia, meen vertalers verteenwoordig nie net ʼn groep uiters bekwame beroepslui nie, maar beskryf diegene ook as dinamiese brugbouers.