Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-posteportaal: Hier ontmoet Fonties en werkgewers mekaar

Gepubliseer op: 3 Oktober 2023

Daar is ʼn gesegde in die wêreld van werk wat lui dat ʼn persoon se professionele netwerk sy of haar netto waarde in die korporatiewe sektor verteenwoordig. Nêrens is dié insig meer van toepassing as in die loopbaanontwikkeling van ʼn student of jong gegradueerde se beroepsreis nie. Die vraag wat egter deurgaans deur werkgewers gevra word, is: “Hoe kom ek in aanraking met goed opgeleide jong professionele beroepslui?” In dieselfde asem wonder studente wat die einde van hul studies nader of wat pas gegradueer het waar hulle, hulle soektog na werk moet begin.

Die Akademia-posteportaal verteenwoordig sedert 2022 ʼn dinamiese aanlyn ontmoetingsplek waar werkgewers en studente, as toekomstige werknemers, met mekaar in verbinding kan tree en netwerkgeleenthede in die praktyk kan ontgin. Hierdie platform omarm ʼn groot verskeidenheid loopbaanmoontlikhede van dwarsoor Suid-Afrika en selfs die buiteland. Hierdie geleenthede is beskikbaar vir beide voltydse en deeltydse studente.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder van Projekte by Akademia, het die portaal dit voorts ten doel om werkgewers bewus te maak van die talent, vaardighede en begronding waaroor Akademia-studente beskik. “Dit is vir ons, as ʼn hoëronderwysinstelling, lekker om met vertroue vir die werksmag te kan sê dat ons afgeronde Afrikaanse studente aan gemeenskappe lewer. Studente wat werksgereed en -fiks is en wat toegerus is met die nodige vaardighede vir die toekoms,” verduidelik Swanepoel.

As dit kom by studente, het die platform dit ten doel om studente bloot te stel aan die wêreld van werk deur hulle nie net bewus te maak van beskikbare werksgeleenthede nie, maar ook aan verskillende loopbaanroetes wat hulle met ʼn bepaalde kwalifikasies kan betree. Omdat die portaal ook op internskappe, klerkskappe en vakansiewerk fokus word Fonties verder die geleentheid gebied om praktiese ervaring in verskeie beroepe op te doen alvorens hul afstudeer. Volgens Swanepoel help hierdie blootstelling studente om hul professionele passie te ontsluit en op dié manier te verseker dat hulle reeds vroeg in hul onderskeie loopbane ʼn impak op die werksmag sal maak. Die portaal word op ʼn daaglikse basis hersien soos wat nuwe werksgeleenthede beskikbaar raak en studente kan via die Spens-platform toegang verkry.

Indien jy graag werksgeleenthede aan Akademia-studente wil bied, klik gerus hier om jou poste te adverteer. Maak vandag nog ʼn verskil in die lewe van ʼn Fontie.

Mareli Swanepoel, bestuurder van Projekte by Akademia, meen die Akademia-posteportaal verteenwoordig ʼn dinamiese ontmoetingsplek tussen werkgewers en studente, as toekomstige werknemers.