Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia hou sentrumopedae in Bloemfontein en George

Gepubliseer op: 3 Oktober 2023

Akademia skep deur die jaar verskeie geleenthede vir voornemende studente om meer inligting oor beskikbare studierigtings te bekom, om personeel te ontmoet, kwelvrae te opper én eerstehands te ervaar wat studentwees aan dié onafhanklike hoëronderwysinstelling behels. Gedurende Oktober neem dié geleentheid die vorm van ʼn sentrumopedag in onderskeidelik Bloemfontein en George aan.

Dié opedae, wat op Saterdag 14 Oktober plaasvind, is die ideale geleentheid vir skoolverlaters wat kopkrap oor wat hulle ná afloop van graad 12 wil doen. Dieselfde geld vir werkende persone wat hul loopbaanmoontlikhede wil verbreed en wat meer wil uitvind oor die programme wat hulle aan Akademia kan voltooi.

Elk van die sentrumopedae word voorafgegaan deur ʼn netwerkgeleentheid op 13 Oktober waartydens Akademia-kenners belangstellendes sal toespreek. In Bloemfontein sal Salomien Boshoff, ʼn kenner in Ondernemingsbestuur, die tema: “Wat is 90% van jou bemarkingsukses?” bespreek terwyl Christine Terblanche, ʼn kenner in Voorsieningskettingbestuur, in George die antwoord op die volgende vraag sal deel: “Wil jy jou besigheid se operasionele strategie bemeester?”. Beide hierdie netwerkgeleenthede begin om 12:00 en die koste beloop R100 per persoon. Die netwerkgeleenthede word ook by die Akademia-sentrums in George en Bloemfontein aangebied.

Akademia se landswye netwerk van sentrums verteenwoordig ʼn belangrike ondersteuningstruktuur vir studente wat hul studie via die nauurse afstandsmodel aanpak. Dié interaktiewe sentrums is toegerus met gratis internettoegang ten einde studente toegang te bied tot die mediasentrum, asook die Spens, Akademia se unieke aanlyn ondersteuningstelsel.

Volgens Lizán Maree, bestuurder: Studentewerwing, het die sentrumopedae dit ten doel om voornemende studente toe te rus met die nodige inligting ten einde ʼn ingeligte besluit oor hul studieloopbaan te neem. “Of jy nou inligting verlang oor Akademia se voltydse kampusmodel wat op die Centurion-kampus aangebied word, óf belangstel in die nauurse afstandmodel wat via e-leer of oor ʼn landswye netwerk van sentrums aangebied word, die sentrumopedae is jou eenstopbron van inligting,” sê Maree. Sy voeg by dat kundige personeel by elke sentrum beskikbaar sal wees om vrae te beantwoord oor onder meer roosteropsies vir werkende studente, beskikbare dienste en produkte asook studenteondersteuning en studentelewe.

Besoekers aan die sentrumopedae is welkom om op 14 Oktober enige tyd tussen 10:00 en 13:00 by óf die Akademia-sentrum in Bloemfontein (The Towers-winkelsentrum) of die Akademia-sentrum in George (Joubert-plaza) aan te klop. Indien jy studie in 2024 oorweeg, besoek die Akademia-webblad en bespreek vroegtydig jou plek vir die sentrumopedae. Akademia sien uit daarna om jou te ontmoet!

Die Akademia-sentrumopedae vind op 14 Oktober in Bloemfontein en George plaas.