Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-kundige: Maak persoonlike finansiële beplanning ʼn prioriteit

Gepubliseer op: 4 Oktober 2023

Geskryf deur Mariska Wannenburg, programkoördineerder vir BCom (Finansiële Beplanning) aan Akademia.

Wêrelddag vir Finansiële Beplanning word op 4 Oktober gevier. Hoewel dié dag nie tradisioneel met ʼn groot ophef gepaard gaan nie, is dit die ideale geleentheid om opnuut en met ʼn vars oog na jou geldsake te kyk.

Gegewe die onvoorspelbare aard van die lewe en die wispelturigheid van die plaaslike ekonomiese omgewing is dit belangrik om finansiële beplanning, vroeër eerder as later, ʼn prioriteit te maak. Ekonomiese uitdagings soos die hoë werkloosheidsyfer, stygende rentekoerse, die dalende koopkrag van die rand, en die langer lewensverwagting van Suid-Afrikaners is van die redes wat deeglike beplanning en finansiële bestuur noodsaak. Dit is belangrik om voorts tot die besef te kom dat finansiële welstand nie ʼn oorweging is wat slegs van toepassing is op middeljariges nie, dit is ʼn dringende en daadwerklike wekroep vir almal insluitende jong volwassenes soos studente. Hierdie wekroep word nie beïnvloed deur individue se huidige inkomstevlakke en persoonlike rykdom nie.

Finansiële beplanning kan beskryf word as ʼn gestruktureerde benadering wat gevolg word om ʼn persoon in staat te stel om sy of haar lewensdoelwitte te bereik. Op die keper beskou is die doel van só ʼn plan om as ʼn bestuursriglyn te dien om beheer van jou inkomstes, uitgawes en beleggings te neem. Beplanning maak dit daarom nie net moontlik om jou langtermyndoelwitte te bereik nie, maar ook om geld op die regte tydstip in jou lewensreis beskikbaar te hê.

Deur ʼn hand op jou geldsake te hou, verskans jy jouself teen uitdagings soos stygende inflasie en kan jy op ʼn proaktiewe manier verseker dat jou spaargeld, byvoorbeeld, nie opgeslurp word nie. ʼn Effektiewe en weldeurdagte plan kan jou help om die negatiewe gevolge van inflasie te bekamp deur onder meer beleggings aan te gaan wat beter opbrengste oor tyd lewer. Nóg ʼn voordeel van goeie beplanning is die ontwikkeling van ʼn noodfonds vir daardie tye wanneer jy kwesbaar gelaat word deur byvoorbeeld afleggings of onverwagse mediese onkostes. So ʼn noodfonds dien dan as ʼn buffer om jou teen finansiële insinking te beskerm. Finansiële adviseurs raai beleggers aan om ʼn noodfonds gelykstaande aan ses maande se salaris op te bou, wat in ʼn likiede fonds belê word. Laasgenoemde sal verseker dat jy vinnig toegang tot dié geld kan kry.

Alhoewel die bestuur van ʼn mens se finansies belangrik en selfs voor die hand liggend is, is dit kommerwekkend hoe baie individue, insluitend die jeug, nie hul persoonlike finansies na behore beplan en bestuur nie. In Suid-Afrika kan minder as een uit elke tien individue gemaklik aftree. Die blaam vir hierdie tragiese realiteit word voor die deur van onkunde gelê. ʼn Gebrek aan finansiële kennis en die gepaardgaande finansiële beplanningsproses gee gevolglik aanleiding tot swak en oningeligte finansiële besluitneming.

Navorsing dui aan dat daar tussen twee groepe mense onderskei kan word as dit kom by finansiële beplanning. Die eerste groep se sienswyse is dat hulle nie op die oomblik oor genoeg geld beskik om vir die toekoms te beplan nie. Redenasies wat deur dié groep geopper word sluit in:

  • Ek beplan nie, want ek weet wat my uitgawes en inkomstes per jaar is.
  • Ek sal beplan wanneer ek sonder skuld is.
  • Ek het nie tyd om aan finansiële beplanning te bestee nie.
  • Ek beplan nie, want ek weet nie waar om te begin nie.
  • Ek (oor)leef van salaris tot salaris.
  • Ek wil nie noodwendig hard werk om rykdom op te bou nie.

Die tweede groep mense opper die siening dat:

  • Hulle bang of lui is om hard te werk ten einde rykdom op te bou.
  • Hulle nie eintlik weet waarom hulle nie tyd aan beplanning spandeer nie, alhoewel hulle die waarde daarvan insien.
  • Hulle is onkundig oor die proses.

Op Wêrelddag vir Finansiële Beplanning is die vraag wat jy jouself met erns moet afvra: “Wat is die rede(s) wat ek aanvoer vir my apatiese houding teenoor finansiële beplanning?”

Vandag is ook die ideale geleentheid vir jong werkendes en afgestudeerdes om die besluit te neem om ʼn sterk grondslag vir hul toekoms te lê. Die eerste stap in die realisering van dié doelwit is om ʼn gedetailleerde begroting op te stel, gevolg deur die daarstelling van duidelike en realistiese finansiële doelwitte en ʼn haalbare spaarplan. Hierdie stappe dien almal as belangrike rigtingwysers op die pad na finansiële sukses en onafhanklikheid. Méér nog, dié stappe baan die weg na die verwesenliking van groot lewensdoelwitte soos om ʼn huis te koop, ʼn gesin te begin of om verder te studeer.

ʼn Weldeurdagte plan rus jong mense voorts toe om die skuldstrik te vermy en om van salaris tot salaris te oorleef deurdat hulle ʼn goeie begrip het van finansiële geleenthede en uitdagings. Deur byvoorbeeld tred te hou met jou uitgawes, inkomstes en skuld kan individue geleenthede identifiseer waar hulle aanpassings kan maak en onnodige besteding kan verminder. Hierdie selfbewustheid gee aanleiding tot groter persoonlike beheer en daarom kan slimmer omgegaan word met finansiële keuses. Sonder behoorlike beplanning loop jong volwassenes die risiko om in ongesonde bestedingsgewoontes te verval wat hul finansiële groei op langtermyn kan belemmer.

Onthou dat ʼn gesonde kredietrekord jou toegang verleen tot beter leenvoorwaardes en laer rentekoerse vanaf banke en finansiële instellings. Dit ontsluit ook ander voordele soos laer versekeringskoerse, toegang tot beter kredietkaarte en groter opsies vir die huur van huise of woonstelle.

Die volgende praktiese wenke kan handig te pas kom vir jong mense wat voor groot finansiële keuses staan, soos byvoorbeeld die afbetaling van studieskuld of die aankoop van vaste eiendom:

  • Stel ʼn begroting op

ʼn Begroting is ʼn instrument om jou inkomste te optimaliseer en goeie spaargewoontes te kweek. Om boek te hou van uitgawes, sal patrone in ʼn mens se bestedingsgedrag ontbloot. Om jou kontantvloei deeglik te bestuur, verminder algehele spanning en dit stel jou in staat om te weet of jy ja kan sê vir daardie uitnodiging om na-kantoordrankies of ander sosiale geleenthede oor naweke by te woon. Klik hier om gebruik te maak van Akademia se begrotingstemplaat.

  • Skep verskillende begrotingskategorieë

Die grens tussen “behoeftes” en “begeertes” kan vaag wees, veral as mens vir die eerste keer ʼn inkomste ontvang. Tipiese kategorieë sluit in: behuising, vervoer, kos, medies, internet, foonkostes, pensioenfonds en belonings. Hierdie kategorieë help met finansiële selfdissipline.

  • Begin om doelbewustelik te spandeer en te spaar

Deur te verstaan waarom jy geld spaar help jou om by jou spaargewoontes te hou. Jy kan byvoorbeeld 20% van jou inkomste aan spesifieke spaardoelwitte toewys deur die volgende strategie te volg: 5% vir aftrede, 2% vir opvoedkunde, 3% vir ontspanning en 10% vir ʼn noodgeval.

  • Kredietkaarte is gerieflik en kan help om ʼn goeie kredietrekord op te bou. Kredietinstansies het ook dikwels voordelige belonings vir kliente wat versigtig omgaan met hul kredietkaarte. Hierdie voordele sluit byvoorbeeld in kontantterug (cash back) vir verantwoordelike besteding. Verder kan ʼn kredietkaart gebruik word om bestedingstransaksies te monitor. Die goue reël vir kredietkaartbesteding bly egter finansiële selfdissipline. Betaal jou kredietkaartrekening ten volle en betyds om rente te vermy. Dit word aanbeveel dat jy 30% of minder van jou kredietkaartlimiet spandeer.

  • Om slim met jou salaris te werk is ʼn vorm van selfversorging

Die handhawing van ʼn begroting gee jou die gemoedsrus om jouself sonder skuldgevoelens te geniet. Danksy dié handhawing kan jy prioriteite uitklaar en besluitneming makliker maak. Doen ʼn maandelikse oorsig om te verseker dat jou begroting jou maandelikse behoeftes weerspieël.

Die BCom (Finansiële Beplanning)-program het dit ten doel om tot die uitbouing van die finansiële beplanningssektor by te dra. Dié kwalifikasie geniet akkreditasie vanaf die Finansiëlebeplannings-instituut van Suider-Afrika (FPI) en die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (FSCA). Klik hier om meer van dié dinamiese studierigting te wete te kom. Studieaansoeke vir 2024 is reeds oop.

Mariska Wannenburg, programkoördineerder vir die BCom (Finansiële Beplanning)-program by Akademia, meen finansiële beplanning moet vroeër eerder as later plaasvind.