Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

BCom (Finansiële Beplanning)

Die Baccalaureusgraad in Finansiële Beplanning stel die student in staat om die beginsels van ekonomie, beleggingsbestuur en finansiële beplanning te verstaan en om dié beginsels in die praktyk toe te pas. Dit rus studente toe met kennis en vaardighede in die beginsels en praktyk van ekonomie, finansiële bestuur, finansiële rekeningkunde, verskillende aspekte van sake- en beleggingsbestuur en aanverwante dissiplines. Die student word ook voorberei vir verdere studies in ekonomie of finansiële bestuur.

WAT KAN MET BCOM (FINANSIËLE BEPLANNING) DOEN?

Tipiese rigtings waarin studente kan gaan werk sluit in lang- en korttermynversekeringswese, finansiële beplanning, ekonomie of finansiële bestuur.

WAT BEHELS DIE KWALIFIKASIE?

NKR-vlak 7

385 krediete

SAKO-nommer: 99642

ONDERRIGLEERMODEL: Nauurse afstandsmodel

AKKREDITASIES

Akademia se BCom (Finansiële Beplanning)-program is deur die Finansiëlebeplannings-instituut van Suider-Afrika (Financial Planning Institute of Southern Africa – FPI) goedgekeur as ʼn gemagtigde verskaffer van opleiding (Recognised Education Provider) vir die benoeming Finansiëlediensteadviseur (FINANCIAL SERVICES ADVISOR™ – FSA™).

Die FPI is deur die Suid-Afrikaanse Kwalifikasieowerheid (South African Qualification Authority – SAQA) erken as ʼn professionele liggaam vir Finansiële Beplanners in Suid-Afrika. Die FPI word ook deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens as ʼn erkende beherende liggaam (Recognised Controlling Body – RCB) goedgekeur.

Om by die FPI te registreer as ʼn FSA™ moet die volgende stappe gevolg word:

  1. Verwerf ʼn toepaslike voorgraadse kwalifikasie op NKR-vlak 7
  2. Voltooi die professionele vaardigheidseksamen (Professional Competency Examinations) by die FPI
  3. Verkry twee jaar toepaslike werkservaring
  4. Voldoen aan die etiese gedragskode van die FPI

Die voordeel van verkryging van jou kwalifikasie vir die FSA™-benoeming by ʼn gemagtigde verskaffer van opleiding is dat jy vrygestel word van die professionele vaardigheidseksamen by die FPI. Studente wat BCom (Finansiële Beplanning) by Akademia studeer, kan hul twee jaar toepaslike werkservaring opdoen terwyl hulle studeer en hul pad na ʼn professionele loopbaan in finansiële beplanning versnel.

Hierdie FPI-akkreditasie is ʼn bevestiging van die hoogstaande opleiding wat deur Akademia gebied word.

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (Financial Sector Conduct Authority – FSCA), voorheen bekend as die Raad op Finansiële Dienste (Financial Services BoardFSB), is die reguleerder vir die markgedrag van finansiële instellings wat finansiële produkte en dienste voorsien en gelisensieerd is ingevolge finansiëlesektor-wetgewing, insluitende banke, versekeraars, aftreefondse en administrateurs en ander finansiëlemark-infrastrukture. Die FSCA poog om die doeltreffendheid en integriteit van finansiële markte te verbeter en te ondersteun, en om finansiële klante te beskerm deur hul billike behandeling deur finansiële instellings te bevorder, asook om finansiële klante finansiële opvoeding te gee. Die FSCA help verder met die handhawing van finansiële stabiliteit in Suid-Afrika.

Finansiële diensteverskaffers, hulle sleutelpersone, verteenwoordigers en voldoeningsbeamptes moet voldoen aan die geskikte en behoorlike vereistes (fit and proper) volgens die FAIS-wet (Financial Advisory and Intermediary Services Act). Een van die vereistes is ʼn goedgekeurde minimum kwalifikasie wat aan die kandidaat die relevante kennis en vaardighede besorg om verantwoordelikhede ingevolge die FAIS-wet uit te voer. Die registrateur van die FSCA erken verskillende soorte kwalifikasies as toepaslik vir verskillende kategorieë van finansiële diensteverskaffers, verteenwoordigers en sleutelpersone, asook vir verskillende soorte finansiële dienste en produkte.

Die insluiting van die BCom (Finansiële Beplanning) op die lys van erkende kwalifikasies ingevolge die geskikte en behoorlike vereistes, beteken dat studente wat die kwalifikasie voltooi het, voldoen aan die FAIS-wetlike vereiste vir ʼn kategorie I – IV finansiële diensteverskaffer, verteenwoordiger, sleutelpersoon en voldoeningsbeampte.

Dit stel afgestudeerde studente in staat om in die finansiële dienstebedryf ʼn loopbaan te volg.

KWALIFISEER EK OM BCOM (FINANSIËLE BEPLANNING) TE STUDEER?

MODULES

Die module behandel die ekonomiese konteks van sakeondernemings en hoe mededinging, beweging van finansiële markte en regerings se ekonomiese beleid ’n onderneming kan beïnvloed. Dit behandel ook die belangrikste mikro-ekonomiese tegnieke wat onderliggend tot prysvasstellings en winsmaksimaliseringsbesluite is. Die sillabus fokus daarop om aan studente ’n begrip vir die ekonomiese aktiwiteite relevant tot ’n organisasie se besluitneming te bied.

Die module bied aan student ’n deeglike begrip vir die basiese beginsels en praktyke op die gebied van finansiële beplanning en beleggingsbestuur. Die module verduidelik konsepte soos die finansiële beplanningsproses, persoonlike finansiële bestuur en tydwaarde van geld in verhouding tot die beleggingsbestuursproses en sekuriteitsmarkte. ’n Begrip vir hierdie konsepte is noodsaaklik om meer gevorderde finansiële beplanning en beleggingsbestuurtegnieke en -teorieë toe te pas en te kombineer.

Die module weerspieël die wetlike raamwerk vir sakeondernemings en behandel die grondslag van kommersiële aktiwiteit. Dit sluit wetlike aspekte oor kontrakte en indiensneming in, asook die finansiering, administrasie en bestuur van maatskappye.

Hierdie module behandel die voorbereiding van finansiële verslae vir enkel entiteite. Die verslae word binne ’n konseptuele en regulatoriese raamwerk saamgestel, met ’n begrip vir die verskeie alternatiewe wat waardering betref, asook die rol van wetgewing en van rekeningkundige standaarde. Deur rekeningkundige tegnieke en stelsels toe te pas, kan rekeninge vir verskillende bedrywe en vir spesifieke transaksies voorberei word. Die meting van finansiële prestasie deur die berekening van basiese verhoudings word behandel, asook die noodsaaklikheid om die nodige beheermeganismes vir rekeningkundige stelsels te verstaan en toe te pas deur na interne beheer en die aard van foute en bedrog te kyk.

Die module bied ʼn oorsig oor die bestuur van sakeondernemings in die Suid-Afrikaanse sakeomgewing. Dit behandel die beginsels waarvolgens organisasies hulpbronne en aktiwiteite vir maksimale winsgewendheid kan bestuur. Die module bied ook ’n inleiding tot die verskeie gespesialiseerde areas van bestuur, naamlik menslikehulpbronne, bemarking, openbare betrekkinge, finansies, prosesse, aankope en verskaffing.

Die doel van hierdie module is om studente toe te rus met ʼn oorsig van statistiek en die tegnieke vir die aanwending daarvan.

Hierdie module het ten doel om die student se begrip van ekonomie te verdiep deur te demonstreer hoe en hoekom gebeurtenisse in die ekonomiese sisteem plaasvind. Hierdie module fokus op beide die intermediêre makro- en mikro-ekonomie.

Die module bied aan studente ‘n deeglike begrip vir die regulatoriese omgewing en fokus op etiek en wetgewing wat relevant en van toepassing op die finansiële beplanningsbedryf is. Konsepte soos versekeringsbeplanning en risikobestuur word behandel en die gesondheidsorgbedryf in Suid-Afrika word geanaliseer. ‘n Begrip vir hierdie konsepte is noodsaaklik vir die lewering van kwaliteit finansiële beplanningsdienste en help met die opstel van ‘n optimale finansiële plan.

Die module rus studente toe met kennis oor belasting in die sakewêreld.

Die module bied ‘n deeglike begrip vir die ekwiteitsproses en die verbandwaarderingsproses. Die gebruik van afgeleide instrumente binne die beleggingsparadigma word ook in besonderheid bespreek. ‘n Begrip hiervoor is noodsaaklik met die opstel van ‘n optimale beleggingsportefeulje en om goeie beleggingsbesluite te neem.

Hierdie module fokus op die voorbereiding van ’n volledige stel finansiële state vir ’n enkele maatskappy en die gekonsolideerde finansiële verslae vir ’n klein groep. ’n Wye reeks van internasionale standaarde word gedek. ’n Begrip vir die regulatoriese en etiese konteks van finansiële verslaggewing, wat van groot belang is om te verseker dat finansiële verslae aan gebruikers se behoeftes voldoen, word ook behandel. Belastingbeginsels word bespreek, aangesien dit ’n rol in finansiële verslae speel en om ’n grondslag te vorm vanwaar die rol van belasting in finansiële analises en besluitneming bestudeer kan word.

Ekonomie 3 bou voort op die beginsels van mikro-ekonomie en makro-ekonomie wat in Ekonomie 2 behandel is. Die module bespreek arbeidsekonomie met ʼn fokus op mededingende verduidelikings van onlangse verwikkelinge in loon- en salarisverspreiding en in belangrike instellings en organisasies. Spesiale aandag word aan teorieë oor werkers se motivering en optrede gegee, asook die vasstelling van lone, tegnologie, maatskaplike stratifikasie en vakbondoptrede. Internasionale ekonomie word ook behandel, aangesien dit lig werp op fundamentele instellings en verhoudings wat lewenskwaliteit bepaal en ʼn raamwerk bied waarbinne ʼn begrip vir die besluitnemingsproses oor internasionale handel, beleggings en kapitaalvloei – veral in ontluikende markte – gevorm kan word. Die module analiseer ook huidige debatte oor die toepassing van ekonomiese teorie en probleme rondom ekonomiese ontwikkeling. Studente word bemagtig om teorie en beleid toe te pas en om ekonomiese uitdagings op te los sodat internasionale handel bevorder word, ekonomiese ontwikkeling versnel en arbeidsverhoudings verbeter.

Die module bied aan studente ʼn deeglike begrip vir al die komponente wat nodig is vir die beplanningsproses rondom ʼn testament, aftrede en beleggings. ʼn Begrip vir hierdie konsepte is noodsaaklik met die opstel van ʼn effektiewe en optimale finansiële plan.

Die module bespreek die analise en bestuur van beleggingsportefeuljes deur op konsepte soos effektiewe kapitaalmarkte, batewaardasiemodelle en modelle vir risiko en omset – wat verskeie faktore in ag neem – te fokus. Die module fokus ook op verskeie bestuurstrategieë vir ekwiteite en verbande en oorweeg evalueringsmetodes vir portefeuljeprestasie. Alternatiewe bates as beleggingsopsie word ook behandel en etiek binne die bedryf word oorweeg. Studente sal met voltooiing van die vak in staat wees om ʼn optimale beleggingsportefeulje op te stel deur die relevante teorieë en strategieë te kombineer.

Hierdie bied aan studente kennis oor ingewikkelde belastingkwessies vir individue en ingewikkelde belastingkwessies in die sake-omgewing in Suid-Afrika.

Die module stel studente in staat om konsepte oor ekonomie, belasting, finansiële beplanning en beleggingsbestuur te integreer om sodoende ʼn omvattende finansiële plan op te stel wat in die werklike lewe toegepas kan word. Die finansiële plan bestaan uit ʼn paar stappe. As eerste stap moet ʼn verhouding met die kliënt gevorm en gedefinieer word. Tweedens moet al die relevante inligting oor die kliënt ingesamel word, waarna die kliënt se finansiële status bepaal kan word. Derdens sal aanbevelings rakend finansiële beplanning aan die kliënt gemaak word. Wanneer dit goedgekeur is, sal die aanbevelings geïmplementeer word en die kliënt se situasie sal op ʼn gereëlde basis hersien word.

ANDER INLIGTING

Die program kan in ’n minimum tydsduur van drie jaar voltooi word. Die maksimum toelaatbare tyd vir voltooiing is sewe jaar.

Toelatingsvereistes

  • Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) wat graadstudies spesifiseer, asook:
    • Afrikaans 50%
    • Wiskunde 50%
    • Rekeningkunde 50%
  • Rekeningkunde in graad 12 word vereis, maar die onderstaande prestasie word ook oorweeg in gevalle waar studente nie Rekeningkunde as skoolvak geneem het nie:
    • ʼn Minimum van 60% vir Wiskunde sal oorweeg word, mits die voornemende student ʼn algehele goeie akademiese profiel het.
  • Sertifikaat van vrystelling uitgereik deur USAf indien ʼn ander skoolverlater kwalifikasie as NSS behaal is.
  • ʼn Hoër Sertifikaat in ʼn ooreenstemmende studieveld.

Programkoste vir 2024

Jaar een: Vanaf R53 500 | Jaar twee: Vanaf R52 000 | Jaar drie: Vanaf R52 000

Handboeklyste word na suksesvolle registrasie aan studente gekommunikeer.

Nauurse afstandsmodel: Semester 1

Nauurse afstandsmodel: Semester 2

ENGELSE PROGRAMINLIGTING | PROGRAMME INFORMATION

DOEN NOU AANSOEK OM ‘N BCOM  (FINANSIËLE BEPLANNING)-GRAAD TE STUDEER