Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia stel NP van Wyk Louw-sentrum bekend

Die NP van Wyk Louw-sentrum is op 25 Mei 2023 tydens ʼn funksie by Akademia se Centurion-kampus bekendgestel. Die gaste by die bekendstelling is toegespreek deur prof. Danie Goosen, Akademia se akademiese hoof, dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum en dr. Carel Boshoff wat dié sentrum se ereleerstoel beklee. Esté Gross het as seremoniemeester vir die aand opgetree.

Die doel van die NP van Wyk Louw-sentrum is om toe te sien dat die klassieke universiteitsidee, oftewel die vormingsideaal, aan Akademia gevestig, uitgebou en ook aan die breër wêreld uitgedra word. Die vormingsideaal behels die vorming van studente se denke sowel as harte sodat hulle uiteindelik ʼn volwaardige, gelukkige en roepingsbewuste lewe kan voer.

Volgens Akademia akademiese hoof, prof. Danie Goosen, het die instelling die afgelope paar jaar besef dat daar ʼn groot behoefte is aan ʼn sentrum wat die vormingsideaal op alle vlakke van die tersiêre onderwys kan uitbou. “Ons is dankbaar om te kan sê dat hierdie diepgevoelde ideaal met die stigting van die NP van Wyk Louw-sentrum ʼn werklikheid geword het.”

Hy beklemtoon dat studente in vandag se wêreld voor groot uitdagings staan met betrekking tot hul beroepslewe, maar ook met betrekking tot ʼn groot hoeveelheid geestelike, lewensbeskoulike of ideële vrae. “Dit is vir Akademia belangrik om studente in hul toekomstige beroepslewe te versterk deur gehalte opleiding maar ook om ons studente in staat te stel om op ʼn volwaardige wyse die genoemde vrae te kan beantwoord.”

Goosen noem dat Akademia by uitstek ʼn hoëronderwysinstelling is wat vanuit en vir die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap gebore is. “Ons by Akademia gaan van die gedagte uit dat studente wat kwalifikasies by ons voltooi ʼn verrykende, verdiepende en vreugdevolle invloed om ons gemeenskap sal uitoefen,” sê hy. “Enige vrye en gelukkige gemeenskap is van goed opgeleide en gevormde studente afhanklik. Die NP van Wyk Louw-sentrum sal hierin ʼn onontbeerlike rol speel.”

Goosen benadruk dat die naam van die sentrum afgelei is van die gevierde digter en uitsonderlike denker, NP van Wyk Louw. “Louw verteenwoordig in die geskiedenis van die Afrikaanse kulturele lewe ʼn intellektuele hoogtepunt. Hy het homself in sy werk tot die strewe na waarheid, goedheid en skoonheid, asook die sentrale klem op die belangrikheid van insig in die geheel verbind. Met die naam ‘NP van Wyk Louw-sentrum’ verbind Akademia homself tot ʼn erkenning en uitbouing van die intellektuele hoogtepunte wat Louw in die Afrikaanse intellektuele landskap verteenwoordig.”

Die eerste openbare lesing vanuit die NP van Wyk Louw-sentrum het reeds op 9 Mei plaasgevind. Die lesing is deur prof. Reitze Rodseth gelewer met die titel: “Geslagsidentiteit: ʼn metafisiese en wetenskaplike benadering”.

Volgens dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum, is hy opgewonde oor die volgende geleenthede wat vir die sentrum in die pyplyn is. “Daar word verskeie openbare lesings, konferensies en oop gesprekke beplan. In Julie sal die eerste jaarlikse Teologie en Filosofie-konferensie plaasvind en daar word uitgesien na ʼn besoek van die Amerikaanse universiteit, Hillsdale College, met wie Akademia bande het.”

Maritz noem verder dat die NP van Wyk Louw-sentrum weer die ryk erfenis van Athene, Rome en Jerusalem as klassieke bronne vir die universiteitswese wil herwin. “Dit maak die sentrum uniek in sy poging om weer erns te maak met die klassieke ideale van die waarheid, goedheid en skoonheid wat onderliggend aan die geskape werklikheid is. Ons streef daarna om studente te vorm sodat hulle in hul beroepslewe as onderwysers, rekenmeesters, advokate, ekonome, joernaliste, ensovoorts, hierdie ideale sal najaag.”

Maritz nooi lede van die publiek uit om by die sentrum betrokke te raak en die bogenoemde openbare geleenthede by te woon en daardeur verryk te word. “Die NP van Wyk Louw-sentrum wil die gemeenskap dien. Ons nooi elkeen uit om deel te neem aan die soeke na en die geleidelike ontdekking van alles wat waar, goed en skoon is,” sluit hy af.

Besoek gerus die NP van Wyk Louw-sentrum se webblad of stuur ʼn e-pos na npvw@akademia.ac.za vir meer inligting.

Carel Boshoff, bekleër van die NP van Wyk Louw-ereleerstoel, dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum en prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia.