Nuwe program vir 2025 | BA (Taalstudies)

Search
Close this search box.

Akademia-alumnus maak ʼn daadwerklike bydrae tot die bevordering van vroueregte

Daniélle Hayward, Akademia-alumnus in BCom (Ekonomie en Regte), glo dat om ʼn verskil in die wêreld te sien, jy self ʼn verskilmaker moet wees. Getrou aan dié lewensfilosofie, kyk sy doelbewus anders na die omgewing waarin sy haar bevind, asook na die kwessies waarmee sy daagliks gekonfronteer word.

Ongeregtigheid is vir dié 24-jarige ʼn bittere pil om te sluk, en sy fokus gevolglik baie van haar energie daarop om kwesbare Suid-Afrikaners met regskennis toe te rus. Sy verduidelik dat dit belangrik is dat die publiek bewus sal wees van hul basiese regte en verantwoordelikhede omdat almal op ʼn stadium met die regstelsel gekonfronteer word. Laasgenoemde sluit eenvoudige raakvlakke in, soos byvoorbeeld wanneer  ʼn verkeersbeampte jou stop, wanneer jy die werksomgewing betree, en wanneer jy ʼn kontrak met iemand sluit.

Hierdie ingesteldheid kom Hayward goed te pas in haar rol as besigheidsvisieleier en hoof van gratis inhoudskepping by ʼn regsfirma in Johannesburg. Dié firma spesialiseer in egskeidingsgedinge en familiereg, en stel eersdaags ʼn reeks aanlyn kursusse bekend wat daarop gefokus is om persone midde-in ʼn egskeidingsgeding in te lig oor hul regte. Hierdie inisiatief is die eerste van sy soort vir die regsbedryf in Suid-Afrika.

Hayward voeg by dat afgesien van spesialisregsadvies, die firma verder die etos van verantwoordelike korporatiewe burgerskap uitleef deur onder meer die daarstelling van gratis regsverwante inligting via verskeie sosialemediaplatforms. Gemeenskapslede kan ook, sonder enige koste, by die firma se digitale ondersteuningsgroep aansluit.

In haar persoonlike hoedanigheid beywer Hayward haar om vroue in staat te stel om vir hulself op te staan en daarom het sy in April 2023 haar podsending-reeks Justice in Heels, bekendgestel. Die doel van hierdie reeks is drieledig: om die verskil wat vroue in die regsberoep maak te beklemtoon, om die omgee-aard van regspraktisyns te illustreer en om Suid-Afrikaanse vroue in te lig oor hul basiese regte.

Hayward meen dat dit belangrik is dat vroulike regslui se stories wyd vertel word omdat daar steeds ʼn wanpersepsie bestaan dat die regsveld hoofsaaklik vir mans geoormerk is. Deur Justice in Heels poog sy om nog ʼn wanpersepsie oor die regsveld reg te stel, naamlik dat regslui net op winsmarges fokus en nie altyd vir hul kliënte omgee nie. “Dit is vir my belangrik om kliënte met my brein (intellek en regskennis), sowel as my hart te dien,” sê Hayward. Sy voeg by dat hierdie omgee-aard ʼn goeie regspraktisyn van ʼn alledaagse regspraktisyn onderskei.

Van die onderwerpe waarop Hayward en haar gaste in die podsending fokus, sluit in huishoudelike geweld, regsoplossings vir kuberboelie-voorvalle, surrogaatskap-ooreenkomste in Suid-Afrika, onderhoud vir kinders, huweliksvoorwaardekontrakte, werknemersregte en nog vele meer.

Hayward dien ook as ʼn regsvrywilliger by twee organisasies sonder winsoogmerk, naamlik Silent Rights SA en Rise Above Domestic Violence. “Ek is betrokke by hierdie organisasies omdat ek met ʼn skok tot die besef gekom het dat baie min Suid-Afrikaners weet wat hulle regte is as dit kom by aspekte soos egskeidings, beskermingsbevele, huweliksvoorwaardekontrakte en voorvalle van huishoudelike geweld,” verduidelik Hayward. Sy sê dat sy as vrywilliger raad gee en vrae beantwoord via telefoonoproepe, WhatsApp-boodskappe of e-pos.

Vir Hayward, wat vanaf 2017 tot 2019 Akademia se nauurse afstandsmodel gevolg het, was dit “bevrydend” om nie net in Afrikaans te kan studeer nie, maar ook om voltyds te werk en sodoende vir haar eie studie te betaal. Dié onderrigmodel het haar ook toegelaat om tyd in te ruim vir liefdadigheidswerk.

Sy onthou haar eerste klas nog baie goed. Dit was Familiereg en is aangebied deur Felicia du Toit. “Ná daardie klas was ek onmiddellik verlief op die regte en dit het as ’t ware gevoel asof iets binne my net gekliek het!”. Hayward was tydens haar studie aktief by Akademia se georganiseerde studentelewe betrokke en sy het onder meer as kultuurvoorsitter en later as ondervoorsitter van die studenteraad gedien.

Hayward droom van ʼn toekoms waar sy haar LLD-kwalifikasie wil voltooi, wil klasgee by ʼn universiteit en ʼn kinderboek wil skryf.

Dit is vir Akademia ʼn riem onder die hart om te sien hoe sy oudstudente hul passie, kennis en vaardighede gebruik om ʼn daadwerklike verskil in hul gemeenskappe te maak. Ons hou Hayward se blink toekoms met afwagting dop.

Daniélle Hayward is ʼn Akademia-alumnus wat groot dink en droom. Sy is ʼn regsadviseur, ʼn inhoudskepper, ʼn beyweraar vir vroueregte én ʼn voorstander van die filosofie van lewenslange leer.