Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Opwindende eerste semester vir BComHons-studente by Akademia

Die BComHons (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie is vanjaar vir die eerste keer by Akademia aangebied met die inname wat uit negentien studente bestaan. ʼn Aanlyn oriënteringsessie het die eerste semester vir die studente op 27 Februarie afgeskop waarna die studente mekaar van aangesig tot aangesig kon ontmoet by sessies in onderskeidelik Gauteng of die Wes-Kaap.

Tydens hierdie sessie is die studente se verwagtinge vir die jaar bestuur en is hulle wenke meegedeel oor hoe om ʼn honneurskwalifikasie aan te pak. Hulle kon ook met mekaar, hul dosente en studieleiers kennis maak vir hul gekose navorsingstema. Elke BComHons-student moes vooraf ʼn navorsingstema kies uit die volgende temas: Verbruikerservaring; Innovasiebetrokkenheid; Voorsieningsketting; Risikobestuur; Kunsmatige Intelligensie; Strategiese Leierskap en Besluitnemingstyle.

Volgens Elize-Mari Coetzer, programkoördineerder: BComHons (Ondernemingsbestuur), was dit ʼn besige maar leersame semester vir die studente wat nou ten einde staan. Die groep het ook in hierdie semester deelgeneem aan ʼn opwindende tweedagsimulasieprogram waar die studente in groepe fiktiewe maatskappye moes stig en met mekaar moes meeding. “Die groepe moes ʼn voorlegging doen oor hul fiktiewe maatskappy se missie, visie en strategie. Urban Tours het as wenners uit die stryd getree met die hoogste aandeelhouerswaarde aan die einde van die simulasie,” noem Monique Visser, dosent in Strategiese Bestuur.. “Hierdie simulasie het insig gebied oor strategiese bestuurskonsepte en -teorieë uit verskeie besigheidsdissiplines.”

Coetzer beklemtoon dat ʼn honneurskwalifikasie oor die verdieping van kennis gaan, maar ook die koppeling van teorie aan die praktyk. “Kontaksessies en assesserings volg die benadering waar studente die teorie en praktiese scenario’s met mekaar moet versoen en krities daarop moet reflekteer. In die werkplek is kritiese denke van kardinale belang en dit is wat ʼn Akademia-honneursstudent van ander sal onderskei, tesame met die karaktervorming wat die instelling aan studente bied.”

Dié honneurskwalifikasie word op Akademia se nauurse afstandsmodel aangebied. Hierdie model is ideaal vir studente wat steeds wil studeer terwyl hul bedags werk of ander belangstellings najaag. “Die studente geniet die buigbaarheid wat die model bied sodat hulle hul tyd meer effektief kan bestuur en ʼn balans kan vind tussen werk, studies en ander persoonlike verantwoordelikhede,” sê Coetzer.

Uit meningsopnames wat onder die groep studente gedoen is, kan daar bevestig word dat die eerste semester vir hulle insiggewend was en dat hul die aanbieding en duidelike voorbeelde en verduidelikings van hul dosente waardeer.

Volgens die dosente is die eerste groep BComHons-studente gretig om te leer. “Daar het geweldige groei plaasgevind vanaf hul eerste kontaksessies tot en met die einde van die eerste semester. Hulle vra nou belangrike vrae en hul kritiese denke begin goed vorm,” noem hulle. “Elke student het iets om by te dra vanuit hul eie oogpunt en hulle leer by mekaar danksy hul verskillende ouderdomme en lewenservaring.”

Coetzer wens vir die BComHons-studente ʼn voorspoedige tweede semester toe. “Wees ten volle teenwoordig waar jy jouself bevind en maak jouself ontvanklik vir leer en groei om plaas te vind,” sluit sy af.

Studieaansoeke vir 2024 se BComHons (Ondernemingsbestuur)-kwalifikasie is reeds oop. Klik gerus hier vir meer inligting oor die kwalifikasie. Akademia – jou Afrikaanse studietuiste!

BComHons-studente tydens die groet-en-ontmoetsessie in die Wes-Kaap.
BComHons-studente tydens die groet-en-ontmoetsessie in Gauteng.
Elize-Mari Coetzer, programkoördineerder, gesels met die BComHons-studente tydens die groet-en-ontmoetsessie in Gauteng.
Die BComHons-studente het aan ʼn aanlyn tweedagsimulasie-aktiwiteit deelgeneem.