Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-paneelgesprek bespreek vertaling van Plato-werke

Die Afrikaanse vertaling vanuit Grieks van die boek, Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates, is onlangs deur die Akademia Uitgewery gepubliseer. In refleksie hiervan het Akademia ʼn bekendstellingsfunksie op Vrydag 2 Junie by Leriba in Centurion aangebied. ʼn Latere paneelgesprek het gevolg en het ten doel gehad om dieper in Plato en Sokrates se leefwêreld te delf en die lesse daaruit prakties na die moderne wêreld van vandag te bring. Die dag is bygewoon deur verskeie akademici, personeel en vriende van Akademia.

Die paneel het bestaan uit die volgende kenners:

  • Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe
  • Karien Brits van die Akademia Uitgewery
  • Danie Goosen, akademiese hoof by Akademia
  • Piet Boshoff, vertaler van Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates
  • Hercules Boshoff, vakhoof in Filosofie by Akademia

Die oggend se verrigtinge is deur Duvenage geopen wat ook die gaste en ander paneellede verwelkom het. “Die boek, Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates, spreek tot die hart van Akademia en beeld uit wie ons is. Ons is baie opgewonde om die boek in sy nuwe baadjie bekend te stel,” het hy gesê. “Plato het oor verskeie temas nagedink wat in hierdie werke vasgevang is. Ons is vandag nog met hierdie denke besig, veral by Akademia.”

Goosen het ʼn opsomming gegee oor die ooreenkomste van Plato se Akademie en Akademia as hoëronderwysinstelling. Hy het vertel dat Akademia se naam direk afgelei is van Plato se denkskool wat in 387 v.C. in antieke Athene op die been gebring is. “By Akademia glo ons om uit die ou klassieke bronne te neem vir die toekoms. Dit is wat ons met hierdie vertaling gedoen het. Die Afrikaanse weergawe het ons in staat gestel om hierdie bronne op ʼn nuwe manier aan die woord te stel,” het Goosen genoem.

Piet Boshoff het agtergrond gegee het oor die boek, Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates, se vertaling. Hy het genoem dat ʼn vertaler homself in die teks moet verdiep om die ware betekenis te kan oordra. “Mens moet dus na die konteks van die hele teks kyk om te bepaal wat die betekenis is wat mens wil oordra. Dit gebeur maklik dat wanneer jy begin vertaal daar twee tot drie ure verbygaan, maar jy het nog net een of twee sinne vertaal,” het hy gesê. “In die vertaling vanaf Grieks na Afrikaans is daar baie klein woordjies wat betekenis dra en ek het probeer om die betekenis daarvan reg te laat geskied.”

Die paneelgesprek het afgeskop met die vraag oor hoekom daar besluit is om hierdie werke in Afrikaans te vertaal. Brits het hierop geantwoord dat die Akademia Uitgewery bestaan om bronne in Afrikaans bekend te stel “Ons wou in hierdie geval die belangrike werk van die Griekse filosoof, Plato, in Afrikaans bekendstel. Die boek lees baie maklik en Akademia se studente, maar ook die breër Afrikaanse gemeenskap sal daarby aanklank kan vind,” het sy genoem.

Hercules Boshoff het genoem dat die werke, en die dialoog daarin, Sokrates en die filosofiese denke die helderste na vore bring. Hy het Sokrates beskryf as ʼn patriot van Athene wat ʼn duidelike boodskap aan die jeug gee dat mens verwag dat die goeie sal manifesteer en dat mens jouself wil koppel aan mense en instellings wat die goeie nastreef.

Volgens Goosen is Sokrates in Plato se werke die een wat mens aanmoedig om die vanselfsprekende uit te daag. “Hy het die regte en die moeilike vrae gevra en hy was ten gunste van die oop gesprek.”

Hierdie stelling het gelei tot die vraag oor hoe die openbare gesprek by Akademia aangemoedig word. Goosen het gesê dat die openbare gesprek onder andere deur die vormingsideaal van die instelling na vore gebring word. “Die vormingsideaal se rasionaal is die soeke na die goeie, die ware en die skone. Dit moedig ons studente en personeel uit om krities te dink en te praat oor dit wat mens na hierdie ideale lei.”

Hercules Boshoff het hier ook genoem dat ʼn mens tyd nodig het om deel te neem aan die openbare gesprek. “Om ʼn skool of universiteit by te woon is om tyd beskikbaar te stel om te kan nadink. Die groot vraag van vandag is tyd en tot ʼn mate is dit ʼn bedreiging, of geleentheid, oor hoe tyd ingedeel word in die akademie. Die goeie, ware en skone hou ook verband met die reëlmaat van tyd.”

Duvenage het aangevoer dat die openbare gesprek gevul moet word met die geheelbeeld. “Daar is ʼn gevaar in die Weste dat ons moeilike sake rasioneel en tegnies wil oplos wat nie genoegsaam ons klassieke bronne in ag neem nie. Ons by Akademia het die verantwoordelikheid om die openbare daarmee te vul.”

Brits het hierby aangesluit en verskeie platforms genoem waar die openbare gesprek nie net vir Akademia-studente aangemoedig word nie, maar vir die breër gemeenskap. “By die Akademia Uitgewery moedig ons die groter openbare gesprek in Afrikaans aan. Ons wil ʼn stukkie van die Westerse wêreld oopbreek en in ons moedertaal die Platoniese skool se denke voorsit deur die publikasie van verskeie bronne wat die openbare gesprek na vore bring.”

Sy het ook bygevoeg dat die NP van Wyk Louw-sentrum, Akademia se denkforum wat die vormingsideaal uitbou, openbare lesings aanbied wat die openbare gesprek verder aanmoedig. “ʼn Opsomming van elke gesprek is ook op die NP van Wyk Louw-sentrum se webblad beskikbaar om dit nog meer toeganklik vir die gemeenskap te maak om verder oor die gesprekke na te dink en te bespreek.”

Lees meer oor die vertaling van Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates hier. Om jou kopie te bestel, klik hier.

Karien Brits, dr. Hercules Boshoff, dr. Piet Boshoff, prof. Danie Goosen en prof. Pieter Duvenage by die paneelgesprek oor Plato se dialoogtrilogie uit die laaste dae van Sokrates.