Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se vormingsideaal voer ook die opdrag van die kerk uit

Geskryf deur Henk Schalekamp, voorsitter van Akademia se direksie

Johannes 21:15-18 (2020-vertaling)

15 Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon Petrus: “Simon, seun van Johannes het jy My baie lief, meer as hulle?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir hom: “Laat my lammers wei.”

16 Hy vra hom weet ʼn tweede keer: “Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief?” Hy sê vir Hom: “Ja, Here, U weet dat ek U liefhet.” Hy sê vir Hom: “Pas my skape op.”

17 Hy vra hom die derde keer: “Simon, seun van Johannes het jy My lief?” Petrus het bedroef geword omdat Hy hom ʼn derde keer gevra het, “Het jy My lief?” en hy antwoord Hom: “Here, U weet alles. U weet dat ek U liefhet.” Jesus sê vir hom “Laat my skape wei.”

Jesus verwys na Petrus in Matteus 16:18 as die rots waarop Hy sy kerk sal bou. Ons aanvaar dus die drie opdragte aan Petrus in Johannes 21:15-18 naamlik “Laat my lammers wei”, “Pas my skape op” en “Laat my skape wei” ook as opdrag aan sy kerk.

Die vraag ontstaan of dit dan ook Akademia se opdrag is?

As Akademia as universiteit geanker word op die ware, die goeie en die skone en die Woord van die Here as dié bron aanvaar waarop en waaruit Akademia die skepping leer en verstaan, kan daar inderdaad “ja” op die vraag geantwoord word. Weliswaar nie as kerklike instelling nie, maar Akademia as hoëronderwysinstelling voer ook op unieke wyse die opdrag van Christus se kerk uit.

Hoe voer Akademia dan die opdrag uit?

Eerstens is dit opmerklik dat Jesus nie aan Petrus die opdrag gee om sy lammers op te pas nie. Dit is omdat die opdrag om kinders op te pas aan ouers toevertrou word, dit is ouers se verantwoordelikheid om hul kinders op te pas, lief te hê en groot te maak tot hulle uit die huis gaan en self ʼn volwasse lewe begin. Ouers staan dus wat die oppas van hulle kinders betref primêr in verbondenheid met die Vader. Dit is wel so dat wanneer studente by Akademia aankom hulle in die oorgang staan van hul kinderlewe na die van volwassenheid. Akademia staan dus hier ook in ʼn unieke verhouding met ouers, want baie van die kinders verlaat hul huise, maar is nog in oorgang na volwassenheid. Ouers het dus ʼn besondere belang by die oppas van hulle kinders deur Akademia, en Akademia moet met groot verantwoordelikheid omsien na die besondere voorreg en taak.

Lammers oftewel kinders wat so in die oorgang staan van kind na volwassene is ʼn besondere klomp. Wanneer ʼn boer sy lammers van die ooie skei om hulle te speen is daar ook ʼn kort oorgang, die lammers is nie gelukkig met hierdie oorgang nie en daag die status uit. So daag kinders ook gedurende hierdie oorgang hulle status van oorgang uit op verskillende wyses. Party wil voortdurend terug na hulle ouers en deins terug van hierdie status van volwassenheid wat vir hulle wink. Ander is ongeduldig met die tyd wat die oorgang neem en wil sommer dadelik as volwassenes die lewe tegemoet storm en dan is daar die spannetjie wat altyd die nuutgevonde vryheid geniet en die grense toets en selfs soms breek. Dit vra vir wysheid om met hierdie jong energie en toestand van oorgang te werk.

“Laat my lammers wei” word wel spesifiek genoem as rol van die kerk. Terwyl kinders primêr deur ouers opgepas word, is dit so dat die onderrig van kinders ook deel van die kerk se werk is. Die kerk hier verteenwoordig dit wat Akademia doen, maar so ook ander onderriginstellings oor die spektrum van wat ons ken, van kleuterskool tot universiteit word deel waar die instellings hulle in die Christelike tradisie sien. As die instelling se uitgangspunte Christelik is, word hierdie verantwoordelikheid van onderrig in wese ʼn opdrag.

Hierdie begrip van Akademia se rol en plek teenoor die jeug wat op die punt staan van die begin van hul volwasse lewe bepaal dat Akademia dan nie net ʼn plek kan wees waar kennis op ʼn bepaalde gebied vir ʼn toekomstige loopbaan bekom kan word nie. Dit is inderdaad ook ʼn plek waar die soeke na wysheid begin, ʼn begrip van hoe die dele en die geheel van die skepping in samehang staan en te verstaan wat die mens se opdrag is in hierdie verband. Daar staan so mooi in Spreuke 2:6-7 (1983-vertaling) “Dit is die Here wat die wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en insig. Hy laat eerlike mense sukses behaal en Hy beskerm die wat onberispelik lewe”. Wysheid as tema staan baie prominent in die Woord en telkens pertinent as ʼn gawe wat van God kom. Dit beteken nie dat Akademia moet katkiseer of een of ander Sondagskool moet bedryf nie, maar dat Akademia soos hy dit sien die studente moet opvoed deur ʼn goed geïntegreerde vormingsideaal. Net soos die kennis en opleidingstaak aan die een kant prominent sy plek moet, vul staan die vormingsideaal in samehang daarmee. Beide formeel deur die Kuns van Studentwees-program sowel as deur die studentelewe moet hierdie ideaal tot sy reg kom en kinders voorberei om volwassenes te word met beide kennis en wysheid.

Die opdrag in die teks om Jesus se skape op te pas en sy skape te laat wei beteken dat die opdrag wyer strek as net by die jeug. Akademia het daarom ook ʼn belangrike rol te speel teenoor die volwassenes van sy gemeenskap. As gemeenskapsuniversiteit is dit ʼn voor die hand liggende helder taak. Die opdrag om op te pas beteken dat daar toesig gehou moet word oor die geestelike veiligheid van lede van Akademia se gemeenskap. Akademia kan ʼn groot rol speel in die manier hoe volwassenes van die gemeenskap hulleself sien en oor hulleself dink en so ʼn bydrae lewer dat hierdie besondere gemeenskap deur hulle denke veilig bly. Eerlike inhoud gebaseer op Akademia se beginsels behoort volwassenes te lei tot ʼn vry en betekenisvolle en derhalwe veilige toekoms.

Wie is hierdie volwassenes teenoor wie Akademia die opdrag het? Eerstens is dit die volwasse deel van die gemeenskap wat Akademia as sy gemeenskap sien. Dit is spesifiek studente wat aan Akademia studeer het en alumni van die instelling is. Dit is volwasse studente wat by Akademia ingeskryf is, dit is personeel en dit is die mense werksaam in die Solidariteit Beweging waarvan Akademia ook deel is en ʼn verbintenis mee het.

Terwyl Akademia voortdurend werk om die ware, die goeie en die skone te bestudeer en daardeur die heerlikheid van God se skepping te bly ontdek, kan ons ook dit met dankbaarheid doen, want as kinders van Hom het ons reeds die genadegawe van Jesus Christus ontvang. Dit is waarom Akademia sonder om self kerk te wees uit dankbaarheid die opdrag van die kerk met vreugde en liefde uitvoer.

Henk Schalekamp is die voorsitter van Akademia se direksie.