Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia vier Wêreldakkreditasiedag

Ter viering van Wêreldakkreditasiedag wat vanjaar op 9 Junie plaasvind, deel Akademia antwoorde op gereelde vrae rakende akkreditasie en erkenning van kwalifikasies wat aan die instelling gerig word.

Deur watter instansie word die programme wat Akademia aanbied geakkrediteer?

Akademia is ʼn privaat verskaffer wat geakkrediteerde universiteitsvlakkwalifikasies in Afrikaans aanbied. Die Akkreditasiekomitee van die Raad op Hoër Onderwys is die liggaam wat alle kwalifikasies van openbare universiteite en privaat verskaffers in Suid-Afrika akkrediteer, wat dus beteken dat Akademia se kwalifikasies aan dieselfde standaarde as dié van nasionale universiteite gemeet is.

Word Akademia se kwalifikasies (inter)nasionaal erken?

Geen hoëronderwysinstellings of openbare universiteit kan aandui dat hulle kwalifikasies internasionaal geakkrediteer word nie, aangesien elke land ʼn kwalifikasiereguleerder het wat kwalifikasies vanaf ander lande evalueer. Lande se wetgewing met betrekking tot sekere beroepe verskil ook tot so mate dat daar soms oorbruggende opleiding gedoen moet word. Akademia se kwalifikasies is egter van so gehalte dat van ons studente wat reeds in ander lande verder gaan studeer het of aansoek gedoen het vir werk, geen probleem ervaar het om erkenning te kry vir hulle kwalifikasies nie.

Deur watter professionele liggame word die BCom (Bestuursrekeningkunde)- en BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasies by Akademia erken?

  • CIMA

Die Chartered Institute for Management Accountants (CIMA) is die wêreld se vooraanstaande en grootste professionele liggaam van bestuursrekenmeesters. Indien jy die BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie by Akademia verwerf, ontvang jy ʼn graadkwalifikasie by Akademia wat vrystelling vir agt van die sestien eksamens by CIMA inhou. Lees meer hier.

  • SAIPA

Die South African Institute of Professional Accountants (SAIPA) is ʼn professionele rekeningkundige organisasie wat daartoe verbind is om die openbare belang te dien en te beskerm. Akademia se BCom (Finansiële en Bestuursrekeningkunde)-kwalifikasie is deur SAIPA geakkrediteer. Lees meer hier.

  • SAIBA

Die Southern African Insititute for Business Accountants (SAIBA) is ʼn erkende beheerliggaam en geregistreerde professionele liggaam vir besigheidsrekenmeesters. SAIBA het ʼn unieke inisiatief saam met Akademia van stapel gestuur, naamlik die SAIBA U²Pro-inisiatief wat studente in staat stel om ʼn professionele rekeningkundige benaming met hul kwalifikasie te behaal wanneer hulle gradueer. Lees meer hier.

Deur watter professionele liggame word die BCom (Finansiële Beplanning)-kwalifikasie by Akademia erken?

  • FPI

Akademia se BCom (Finansiële Beplanning)-program is deur die Finansiëlebeplannings-instituut van Suider-Afrika (Financial Planning Institute of Southern Africa – FPI) goedgekeur as ʼn gemagtigde verskaffer van opleiding (Recognised Education Provider) vir die benoeming Finansiëlediensteadviseur (FINANCIAL SERVICES ADVISOR™ – FSA™). Hierdie FPI-akkreditasie is ʼn bevestiging van die hoogstaande opleiding wat deur Akademia gebied word. Lees meer hier.

  • FSCA

Die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor (Financial Sector Conduct Authority – FSCA), voorheen bekend as die Raad op Finansiële Dienste (Financial Services Board – FSB), is die reguleerder vir die markgedrag van finansiële instellings wat finansiële produkte en dienste voorsien en gelisensieerd is ingevolge finansiëlesektor-wetgewing, insluitende banke, versekeraars, aftreefondse en administrateurs en ander finansiëlemark-infrastrukture. Die insluiting van die BCom (Finansiële Beplanning) op die lys van erkende kwalifikasies ingevolge die geskikte en behoorlike vereistes, beteken dat studente wat die kwalifikasie voltooi het, voldoen aan die FAIS-wetlike vereiste vir ʼn kategorie I – IV finansiële diensteverskaffer, verteenwoordiger, sleutelpersoon en voldoeningsbeampte. Dit stel afgestudeerde studente in staat om in die finansiële dienstebedryf ʼn loopbaan te volg. Lees meer hier.

Akademia is trots op die gehalte van ons kwalifikasies en die teoretiese sowel as praktiese kennis en wysheid wat aan studente oorgedra word. Daarom vier Akademia Wêreldakkreditasiedag.