Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Op die spoor van die klassieke Europese filosowe

Prof. Pieter Duvenage, dekaan van die Fakulteit Geesteswetenskappe by Akademia, het gedurende Meimaand besoek aan Europa afgelê. Hierdie besoek het aan hom die geleentheid gebied om as reisende filosoof in die voetspore van verskeie klassieke filosowe soos Fichte, Schelling, Hegel, Goethe en Schiller te volg.

Tydens sy reis na Europa het Duvenage verskeie historiese en ryk filosofiese bestemmings in Nederland, Duitsland en Tsjeggië besoek. Hy het ook ʼn akademiese referaat by ʼn internasionale konferensie oor filosofie en sosiale wetenskappe in Praag gelewer, en aan ʼn uitsending van De Nieuwe Wereld TV deelgeneem. Laasgenoemde het ʼn gespreksformaat aangeneem tussen Duvenage en die welbekende Nederlandse openbare intellektueel, Ad Verbrugge.

Die fokus van die De Nieuwe Wereld-platform is om kundiges vanuit verskillende dissiplines byeen te bring om gedagtes uit te ruil oor veranderinge wat teweeggebring word deur ʼn kombinasie van snel tegnologiese ontwikkeling en globalisering. Volgens Duvenage was die gesprek met Verbrugge, ʼn jarelange vriend en kollega, ʼn hoogtepunt van sy besoek en was dit verfrissend om op hierdie manier ʼn gesprek tussen kontinente te voer.

Terugskouend verduidelik Duvenage dat reise soos hierdie ʼn persoon, en veral ʼn filosoof, die geleentheid bied om dieper te kyk en om aspekte soos kultuur, verskillende tongvalle en die organisasie van stede vanuit ʼn nuwe ervaringsperspektief te beleef. “As ʼn denker bly dit vir my interessant om die beweging van idees na te volg en eerstehands te ervaar hoe idees wat byvoorbeeld in Europa begin het, elders in die wêreld – en ook in Suid-Afrika – wortel skiet,” sê hy.

Hy sluit af deur te sê dat hy graag die lesse wat hy tydens sy Europese toer geleer het in Akademia en die groter Afrikaanse gemeenskap wil terugploeg.

Duvenage en Ad Verbrugge, ʼn Nederlandse filosoof, in gesprek tydens ʼn opname vir Nieuwe Wereld TV.