Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Oos, wes, Akademia bes vir Roets-susters

Niné, Kayla en Cathleen Roets is méér as net susters, hulle is mekaar se beste vriendinne, jarelange vertrouelinge, passievolle ondersteuners én met die ingang van 2024 ook almal klasdrafmaats by Akademia se kampus in Centurion.

Die oudste twee Roets-sussies, Niné (20) en Kayla (18), studeer reeds by Akademia en volg die voltydse kampusmodel. Niné is ʼn derdejaarstudent in BCom (Finansiële en Bestuurswetenskappe), terwyl Kayla ʼn eerstejaarstudent in BA (Kommunikasie en Joernalistiek) is. Hul jongste sussie, Cathleen (17), wat tans in graad 12 is, is opgewonde oor die moontlikheid om volgende jaar by haar sussies aan te sluit en oorweeg dit om ʼn BSc-rigting na te volg. Sy het tydens vanjaar se kampusopedag besluit om ook by Akademia te studeer.

Niné vertel dat sedert Kayla ook by Akademia aangesluit het, haar lewe besiger as óóit is. “Ek en Kayla verken studentwees saam-saam! Ons maak ʼn gedugte span – ek as introvert en sy as ekstrovert, en danksy haar neem ek vanjaar aan ʼn rits sosiale studenteaktiwiteite deel.” Op haar beurt is Kayla dankbaar vir haar ousus se voorbeeld en raad, en reken sy dat hierdie “vooraf-kennis” oor studentwees haar die selfvertroue gegee het om voluit Fontie te wees.

Die sussies is albei lede van Akademia se daghuis Huis Valorem, en hul dien ook as bemarkingskomiteelede. Laasgenoemde is ʼn liggaam onder die vaandel van die studenteraad. Niné is betrokke in die beplanningsportefeulje en Kayla in ʼn kommunikasie- en skakelingshoedanigheid. Kayla is ook ʼn lid van die Fontiepos-redaksie.

Op die vraag wat vir hulle die lekkerste is van Fontiewees, sê Niné dat Akademia se omgee-omgewing haar na aan die hart lê. Dit is ook vir haar lekker om student te wees in Afrikaans en om omring te wees deur mense wat dieselfde waardes en belangstellings as sy het. Vir Kayla is die bruisende studentelewe ʼn hoogtepunt en, soos in die geval van haar ousus, is dit vir haar lekker om haar jonkwees in Afrikaans uit te leef. Beide Niné en Kayla stem saam dat hul gedeelde studentwees-ervaring hul nader aan mekaar gebring het, en hulle is opgewonde om ook hierdie spesiale avontuur saam met Cathleen aan te pak.

Gedagtig aan die feit dat hul jongste sussie na alle waarskynlikheid in 2024 by hulle gaan aansluit, is die sussies opgewonde om haar aan Akademia se studentelewe bekend te stel. Hulle vertel dat Cathleen reeds verskriklik opgewonde is en dat sy behoorlik die maande aftel totdat sy as eerstejaarstudent die kampus kan betree.

Niné se boodskap aan haar sussie, en ander voornemende eerstejaarstudente, is om nooit toe te laat dat die vlammetjie van passie verdof nie. “Gee jou beste en plaas jou drome in God se veilige vaderhand. Jy kan en moet ʼn verskil maak.” Kayla stem hiermee saam en voeg by dat drome ʼn werklikheid kan word, ongeag wat ander mag sê of dink. Haar raad aan Cathleen en ander skoolverlaters is om hard te werk en te wéét dat inspanning beloon word.

Die sussies se ma, Yollanda Roets, sê dit is vir haar ʼn riem onder die hart om te sien hoe haar dogters hul studenteavontuur saam aanpak en geniet. Sy sê ook dat Akademia nie net ʼn studietuiste vir haar dogters is nie, maar ook ʼn veilige hawe vir hul gesin. “Ons is regtig tuis by Akademia, en ervaar ʼn diepe rustigheid oor die omgewing waarbinne ons kinders hul toekomsdrome nastreef. Danksy dié hoëronderwysinstelling kan ons ons kinders in hul moedertaal laat onderrig terwyl hulle terselfdertyd deel is van ʼn groter en gekoesterde Christen-gemeenskap,” sluit sy af.

Niné, Kayla en Cathleen Roets is nie net susters nie, hulle is ook trotse Fonties.