Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-dosent een van sestien kenners wat Multimodaliteit-kollokwium bywoon

Gepubliseer op: 12 Junie 2023

Dr. Nic de Jager, ʼn dosent in die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia, en ʼn kenner op die gebied van multimodale pedagogiek, was een van sestien deelnemers aan die Multimodaliteit-kollokwium wat vanaf 28 tot 31 Mei in Stellenbosch aangebied is.

Hierdie byeenkoms is georganiseer deur die Suid-Afrikaanse Multimodaliteit in Onderwys-navorsingsgroep, wat by die Universiteit van Kaapstad (UK) gesetel is. Die groep fokus op verskeie dissiplines soos toegepaste linguistiek, opvoedkunde, kommunikasiestudies, museumstudies, gesondheidswetenskappe, film en media, Engels en kuns.

Akademici en navorsers wat in Amerika, Taiwan, Indië, Rusland en Kenia grootgeword en voorheen daar gewerk het maar nou by die UK doseer, het ook die kollokwium bygewoon. Die geleentheid het gefokus op die voordele wat multimodale tekste vir verskeie dissiplines, modusse en media in hoër onderwys kan inhou, en strategieë vir die verdere uitbouing van dié veld. Volgens De Jager het multimodaliteit ʼn belangrike rol om te speel in die onderrig- en leerproses. “Dit moedig leerders sowel as opvoeders aan om van verskeie tekste, artefakte en simboolstelsels gebruik te maak. Die wêreld word dan as ʼn samesmelting van verwante stelsels ervaar ‒ eerder as fenomene in isolasie ‒ met die gevolg dat hulle dieper nadink oor hierdie verwantskappe en die betekenisse daaragter.”

Tydens die kollokwium is verskeie aanbiedingsessies gehou, en volgens De Jager is daar onder andere gekyk na belangrike akademiese en dissiplinêre diskoerse, digitale domeine, assesseringspraktyke, multimodale artefakte wat in onderrig en leer gebruik kan word, asook gebeure in die hoër onderwys. Laasgenoemde het spesifiek gefokus op die gesitueerde sosiale praktyke van Suid-Afrikaanse universiteite.

“Die kollokwium was ʼn geleentheid om met navorsers in my spesialiseringsveld te netwerk, en dit het die ideale platform gebied vir terugvoer oor individuele navorsingsuitsette,” sê De Jager. Hy is veral opgewonde oor die moontlikheid om met die ander lede saam te werk aan toekomstige akademiese artikels en projekte.

Deelnemers aan die kollokwium was onder andere, van links na regs: dr. Robert Prince, dr. Zach Simpson, Kate Bernberg, prof. Arlene Archer, dr. Ana Ferreira, dr. Marcelyn Oostendorp, dr. Nic de Jager, Akisha Pearman, dr. Cheng-Wen Huang, Kendi Osano, Tatenda Dandara, Sumaya Gabriels.