Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Bevry jouself só van skuldstrik

Geskryf deur Monique Brasler, deeltydse dosent in Finansiële Beplanning by Akademia.

Gepubliseer op: 13 Junie 2023

As dit kom by persoonlike geldsake dan trek menige Suid-Afrikaner swaar aan stygende lewenskostes. Om die waarheid te sê, dit raak al hoe moeiliker vir Jan en San Alleman om nie skuld aan te gaan om hul maandelikse basiese uitgawes te dek nie.

Behalwe vir hoë rentekoerse, verhogings in kragtariewe, kos- en brandstofpryse, het landsburgers ook te kampe met voortslepende beurtkrag – ʼn realiteit wat niks goeds vir persoonlike geldsake voorspel nie. Voeg hierby verhoogde huis- en motorpaaiemente, en dit is te verstane waarom krediet en lenings na ʼn maklike oorlewingstrategie mag lyk.

Effektiewe skuldbestuur verwys na ʼn proses wat jou toelaat om presies te weet wat in jou persoonlike finansies aangaan. Dit gaan gepaard met selfdissipline en ʼn deurlopende fokus op goeie besteding en toekomsbeplanning.

Hiermee ʼn paar wenke om jouself uit ʼn versmorende skuldstrik te bevry, en om daaruit te bly:

  • Gaan jou bank- en kredietkaartstate gereeld na om te kyk hoe jou begroting vergelyk met jou spanderingsgewoontes. Jy sal ook kan sien presies waaraan jy geld spandeer en of dit enigsins moontlik is om op hierdie besteding terug te sny. Dit is raadsaam om in die korter termyn op uitgawes te besny sodat jy oor die langer termyn die voordele van ʼn skuldvrye bestaan kan geniet.
  • As jy jouself reeds in die spreekwoordelike gat van slegte skuld bevind, hou dadelik op om verder te grawe. Probeer om sover dit moontlik is om nie nog addisionele skuld aan te gaan nie.
  • Betaal jou duurste skuld (met die hoogste rentekoers) eerste af. Voorbeelde hiervan is winkelrekeninge en kredietkaarte. Hierna kan jy jou motorlening afbetaal en laastens jou huisverband.
  • Oorweeg dit om jou skuld te konsolideer. Wat baie verbruikers doen is om hulle skuld te konsolideer in ʼn ander lening teen ’n laer rentekoers. Hierdie ingryping laat jou toe om nie net jou skuld vinniger af te betaal nie, maar ook om te spaar op rente.
  • Skuldberading kan help. Indien jy ʼn situasie bereik waar dit onbekostigbaar raak om jou skuld te diens, is dit raadsaam om vroeër eerder as later vir skuldberading aansoek te doen. Op hierdie manier kan jy voorkom dat jou kredietrekord negatief geaffekteer word of dat jy op die swartlys geplaas word.
  • Wanneer jy jou skuld suksesvol afbetaal het, begin dadelik opbou aan ʼn noodfonds, want dit is gewoonlik die noodgevalle wat skuldbalanse opjaag. Vir só ʼn fonds behoort tussen drie en ses maande se uitgawes as riglyn voldoende te wees.

 

Dit neem baie selfdissipline en opoffering om uit ʼn skuldstrik te kom, maar die voordele verbonde daaraan om skuldvry te wees, veral in die huidige ekonomiese toestande, is van onskatbare belang.

Monique Brasler meen dat doeltreffende skuldbestuur die sleutel is om beheer oor persoonlike geldsake te neem. Dit is nie altyd maklik nie, maar dit is doenbaar.