Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die belangrikheid van lees vir ons jeug

Geskryf deur Juanmarie Pretorius, projekkoördineerder vir die Skolemark by Akademia.

Gepubliseer op: 15 Junie 2023

Ter viering van Jeugmaand in Junie kyk ons na die belangrikheid van lees vir ons kinders. Verskeie studies het al getoon dat om kinders van ʼn jong ouderdom af bloot te stel aan boeke en lees, veral in hul moedertaal, gunstige gevolge het vir die kind se ontwikkeling op verskeie vlakke.

Lees- en taalvaardighede begin al reeds in die vroeë kinderontwikkelingsfase (0 tot 6 jaar) ontwikkel. Wanneer ʼn kind lees, of selfs wanneer daar hardop vir ʼn kind gelees word, neem dit daardie kind na nuwe hoogtes – letterlik en metafories. Letterlik ten opsigte van die kind se ontwikkeling en metafories in die sin dat dit die verbeeldingswêreld van ʼn kind ontsluit. Lees is ʼn noodsaaklike toegangspoort tot goeie taalvaardighede selfs voor ʼn kind verbaal kan kommunikeer. Hannah Sheldon-Dean van die Child Mind Institute se navorsing wys dat ouers wat vir hul kinders lees daartoe bydra dat die neurologiese grondslag vir effektiewe taalgebruik en geletterdheid vasgelê word.

Volgens Daan Potgieter, hoof- uitvoerende beampte van die Afrikaanse Onderwysnetwerk, het navorsing al keer op keer die voordele van moedertaalonderrig bewys. Kinders wat vir minstens die eerste ses jaar van hul skoolopleiding in hul moedertaal onderrig word se algehele skolastiese prestasie is beter as die kinders wat in ʼn addisionele taal moet leer. Wanneer die beginsels van lees eerstens in die moedertaal aangeleer is, word dit soveel makliker om daardie vaardighede toe te pas op ʼn addisionele taal. Daarom is dit belangrik dat kinders van ʼn jongs ouderdom af blootgestel word aan lees in hul moedertaal.

Navorsing van die Universiteit van Texas het vyf vroeë leesvaardighede geïdentifiseer wat noodsaaklik is vir leer, dit is fonemiese bewustheid, klanke, woordeskat, leesbegrip en vlotheid. Behalwe hierdie leesvaardighede is daar terselfdertyd ook ander vaardighede wat deur lees bevorder word. Om gereeld te lees stel kinders in staat om hul kommunikasievaardighede uit te brei en hul geheue te verbeter. Lees kan selfs ʼn invloed hê op die sielkundige welstand van kinders. Wanneer ouers tyd saam met hul kinders rondom ʼn storieboek spandeer, word die verhoudingsbande versterk en vestig kinders maklik ʼn positiewe verbinding met lees.

Kinders se leesgewoontes reflekteer ten sterkste die ingesteldheid van hul ouers en die waarde wat hulle aan lees heg. Daar is verskeie maniere om kinders te motiveer om ʼn liefde vir lees te ontwikkel. Hier volg ʼn paar:

  • Berei ʼn toegewyde leeshoekie in die huis voor met gemaklike sitplek en genoegsame lig.
  • Doen aktiwiteite wat deur stories geïnspireer is soos ʼn besoek aan ʼn troeteldieretuin of plaas nadat die verhaal van Die Rooi Hennetjie of Die Drie Varkies gelees is.
  • Kies ʼn verhaal soos Die Gestewelde Kat en nadat die boek gelees is, kan die gesin saam die rolprent saam kyk.
  • Begin ʼn boekklub en maak lees ʼn sosiale geleentheid.
  • Moenie boeke met baie visuele voorstellings onderskat nie, hierdie stories bevorder weer ʼn ander vorm van leesbegrip.
  • Identifiseer onderwerpe wat jou kind interesseer. ʼn Boek oor ʼn rekenaarspeletjie is steeds ʼn boek en as dit jou kind aan die lees gaan kry, hoekom dit dan nou nie aanmoedig nie?
  • Dis baie belangrik dat lees nie as ʼn plig of ʼn taak gesien moet word nie maar eerder aangemoedig word as ʼn pret-aktiwiteit of vir ontspanning.

Die kostes van boeke hoef ook nie ouers af te skrik om vir hul kinders goeie leesstof te kry nie. Daar is verskeie platforms waar ouers gehalte en bekostigbare kinderboeke in die hande kan kry, buiten gewone boekwinkels. Voorbeelde hiervan sluit in:

  • ʼn Goeie tweedehandseboekwinkel
  • Jou plaaslike biblioteek
  • Die skool se mediasentrum
  • Aanlyn inkopieplatforms

Akademia het onlangs ʼn Afrikaanse pret-aktiwiteitsboek vir kinders bekendgestel wat baie maklik bekombaar is en gemik is op die graad 4-7-mark. Fontieland kan digitaal afgelaai word of in harde kopie bestel word teen ʼn bekostigbare prys. In die pretboek word daar ook verskillende leesstrategieë toegepas wat kinders help om op ʼn genotvolle manier hul leesvaardighede te ontwikkel.

Nie net is die boekie visueel stimulerend nie, maar dit bevorder ook verskeie vaardighede soos woordherkenning, probleemoplossing en die uitbreiding van kinders se woordeskat deur die bekendstelling van nuwe woorde wat met ʼn hoëronderwysinstelling verband hou. Die aktiwiteite in die pretboekie is so saamgestel dat kinders hul leesvaardighede kan bevorder terwyl hulle speel. Lees en presteer saam met Akademia. Bestel jou Fontieland-pretboekie hier.

Juanmarie Pretorius is die projekkoördineerder van die Skolemark by Akademia.