Search
Close this search box.

Beraders word sepieslim en leer meer oor verhoudings by Akademia-dosent

Gepubliseer op: 19 Junie 2023

Daar word gesê dat om na sepies te kyk, óf te luister, is soos om by jarelange geliefde vriende te kuier. Om die waarheid te sê, dit is juis hierdie gehegtheid tussen die karakters en sepievolgelinge wat dié genre een van die gewildste produkte in die vermaaklikheidsindustrie maak.

Interessant genoeg bied sepies soveel meer as net ure se kyk- en luistergenot. Volgens Johann Smith, ʼn dosent in Statistiek en Sakeberekeninge by Akademia én gesoute sepieskrywer, kan volgelinge baie lewenslesse uit die lief en leed van hul gunstelingkarakters put. In die lig hiervan het Smith in Junie ʼn eiesoortige werkswinkel oor verhoudings vir Hoërskool Zwartkop in Centurion se beraderspan aangebied.

“Ons almal het grootgeword met sepies in ons televisiekamers,” meen Smith en sê dat Egoli, wat in April 1992 vir die eerste keer gebeeldsend is, as ʼn baanbreker in die Suid-Afrikaanse sepiebedryf beskou word. Dié tweetalige sepie het die baan geweg vir ander gewilde sepies soos 7de Laan en Binnelanders. Hy verduidelik dat sepiekarakters met groot omsigtigheid geskep word, ten einde te verseker dat hulle verteenwoordigend is van Jan en San Alleman. “As jy mooi daaroor nadink, ken ons almal ʼn Elsa en ʼn Nenna, ʼn tannie Hilda en ʼn oom Oubaas. Ons ken ook At Kosters of Mariaan Welmans wat ons nie voor ons oë kan verdra nie.”

Op die vraag wat hierdie karakters so gewild maak, antwoord Smith dat konflik ʼn sentrale tema is. Volgens Smith word konflik in sepies met ʼn duidelike doel voor oë geskep. Nie net hou dit volgelinge vasgenael voor hul televisies en radio’s nie, maar dit beeld ook menslike gedrag uit. Laasgenoemde is die “gom” wat, uit ʼn skrywersoogpunt, die verhouding tussen die karakters en kykers en luisteraars versterk, juis vanweë die uiteenlopende universele emosies wat ter sprake is.

“Ons mag dalk niks van die antagonis in ʼn sepie hou nie, maar as sy byvoorbeeld tronk toe gaan, put ons net vir ʼn rukkie lekkerte uit haar omstandighede. Omdat sy ook ʼn ma is, wat regtig lief is vir haar kinders, kry ons haar jammer en kan ons met haar vereenselwig,” illustreer Smith die wisselwerking tussen die verskillende emosies.

Skrywers gebruik verskeie meganismes om karakters en konflik te skep, en tydens die werkswinkel het Smith aan die hand van diesulke meganismes ʼn paar verhoudingsinsigte met die beraders gedeel. Hierdie meganismes is teenwoordig in alle verhoudings en het ʼn groot impak op gedrag. Tipiese voorbeelde uit sepies, sluit in: Karakter A en Karakter B is beide verlief op Karakter C. Karakter X probeer praat, maar Karakter Y wil nie luister nie. Smith verduidelik dat deur krities na hierdie situasies te kyk, beraders beter toegerus kan word om die oorsprong van konflik te identifiseer en daarop te reageer.

As deel van die werkswinkel, moes deelnemende beraders ʼn karakterskets skryf van ʼn persoon met wie hulle glad nie oor die weg kom nie. Hierdie karakter kon die vorm van ʼn onderwyser, ʼn ouer, ʼn voormalige vriend of vriendin, of enigiemand anders wees. Die karakterskets, wat van kritiese belang is in ʼn sepiereeks, word ontwikkel aan die hand van indringende vrae soos: “Wat is die karakter se grootste behoefte?”, “Wat is die slegste ding wat nog met die karakter gebeur het?” of “Wat maak hierdie karakter regtig gelukkig?” Volgens Smith veroorsaak die eerlike beantwoording van dié kernvrae dat dit baie moeilik is om die karakter te veroordeel, want begrip en deernis word gekweek. Hierdie onderskeidingsvermoë is van kardinale belang vir beraders.

Smit meen dat werkswinkels soos hierdie tot Akademia se visie spreek om beide denke én die hart te vorm.

Johann Smith, dosent by Akademia, meen dat daar belangrike verhoudingswyshede opgesluit lê in die konflik wat karakters in sepies ervaar.
Kennisgewing web