Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia se Krugersdorp-sentrum reik uit na kwesbare kinders

Gepubliseer op: 19 Junie 2023

Nauurse afstandstudente verbonde aan Akademia se Krugersdorp-sentrum het gedurende Meimaand vir ʼn wyle hul handboeke en kontaksessies verruil vir ʼn uitstappie na die Baba Moses-kinderhuis, ʼn plaaslike tuiste vir kwesbare kinders.

Die doel van die besoek was tweeledig. Eerstens het dit aan Fonties die geleentheid gebied om ʼn daadwerklike verskil te maak deur hande te vat en items soos niebederfbare voedsel, toiletware, komberse en sagte speelgoed bymekaar te maak, en tweedens het dit opnuut die fokus laat val op die behoeftes van kwesbare kinders.

Volgens Stephan Pretorius, koördineerder van die Krugersdorp-sentrum, streef dié kinderhuis daarna om deur die daarstelling van ʼn stabiele en veilige omgewing die kinders in sy sorg te help om trauma effektief te verwerk ten einde hul pad na genesing en aanpassing te vergemaklik. Pretorius verduidelik dat die kinderhuis nie net naby aan Akademia se sentrum geleë is nie maar ook belyn is met Akademia se Afrikaanse en Christelike waardes.

“Akademia se visie is om ʼn akademiese tuiste te wees waar die denke sowel as die hart gevorm word,” sê Pretorius en verduidelik dat gemeenskapswerk, soos die uitreik-aksie na die Baba Moses-kinderhuis, juis gestalte gee aan hierdie visie. Hy voeg by dat gemeenskapswerk aan Fonties die geleentheid bied om verantwoordelikheid vir die toekoms te aanvaar en te help verseker dat die jeug kan uitsien na ʼn “skitterblink dag van môre”.

Douard d’Assonville, bestuurder: Studentelewe en koshuise by Akademia, sê hy is baie trots om te sien hoe studente eie inisiatief neem met gemeenskapaksies soos hierdie. Hy meen voorts dat dit belangrik is dat Fonties ʼn verskil maak en hul Godgegewe talente opbouend aanwend.

Op haar beurt het Lanie de Klerk, medestigter van die kinderhuis, haar dank teenoor Akademia en die sentrum uitgespreek. Volgens De Klerk maak skenkings, soos dié deur die sentrum, dit vir hulle moontlik om nie net met hul dagtaak voort te gaan nie, maar ook om by wyse van ander projekte – soos byvoorbeeld hul naweekkospakkie-projek, ʼn verskil in ander kwesbare kinders se lewens te maak. Die naweekkospakkie-projek verskaf ontbyt en ʼn voedsame gekookte middagete aan kinders in die buitewyke van Krugersdorp.

“Die impak van julle skenking strek verder as bloot die materiële items wat julle gegee het. Dit maak ʼn verskil in die lewens van jong kinders en help om ons om nie net ʼn gevoel van waardigheid te kweek nie, maar motiveer ons ook om sonder huiwer voort te gaan met ons missie om ʼn toekoms vir kwesbare kinders te help verseker,” sê De Klerk.

*Die Krugersdorp-studiesentrum beplan ʼn omgeeweek in Julie. Mede-Fonties kan met Pretorius in aanraking kom indien hulle aan dié inisiatief wil deelneem.

Drijke Wessels en Stephan Pretorius, beide van die Krugersdorp-sentrum, tydens hul besoek aan die Baba Moses-kinderhuis.