Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

KI en kletsbotte, ʼn bedreiging of geleentheid vir joernalistiek?

Geskryf deur Yolandi Groenewald, ʼn dosent in Joernalistiek by Akademia.

Gepubliseer op: 19 Junie 2023

Kunsmatige intelligensie (KI), die gonsterm van 2023, het ook sy tentakels in nuuskantore dwarsoor die wêreld ingeslaan. Dit word duidelik dat joernaliste algoritmes en KI-instrumente, soos byvoorbeeld kletsbotte, onder die knie sal moet kry om by te bly. Terselfdertyd het KI reeds gewys dat dit ʼn bedreiging kan wees vir geloofwaardige joernalistiek as kletsbotte voorgehou word as joernaliste.

Die rooi ligte het geflikker toe Die Aktuelle, ʼn poniepers-tydskrif in Duitsland, op 15 April vanjaar aangekondig dat hulle ʼn eksklusiewe onderhoud met die wêreldbekende renjaer, Michael Shumacher, gevoer het – ʼn eerste sedert sy ski-ongeluk in Desember 2013. “Das erste Interview” kondig hulle voorblad kordaat aan, en inderdaad kon duisende Duitse lesers nie wag om die tydskrif op te raap nie.

Amper as naskrif op die voorblad skryf die tydskrif “Dit klink bedrieglik eg.” Dit was die eerste leidraad dat alles nie pluis is nie. Die onderhoud was toe nié met Schumacher self gevoer nie, maar met ʼn kletsbot wat deur KI antwoorde namens Schumacher gegee het en hom dus nageboots het.

Daar was dadelik moeilikheid. Die Aktuelle se gehoor het dit duidelik gemaak dat hulle misbruik en mislei voel. Schumacher se familie het gedreig met regsaksie. Die reaksie het die uitgewers gedwing om die redakteur af te dank en ook die familie van die Formule Een-legende om verskoning te vra.

Hierdie foponderhoud het opnuut die rol van KI in die joernalistiekbedryf in die kollig geplaas en getoon dat die bedryf homself in troebel waters bevind. As ʼn kletsbot Michael Schumacher se toon en persoonlikheid kan namaak, kan hy mos ook diep delf om belangrike wêreldleiers te na-aap en só fopnuus sonder veel moeite die wêreld in stuur? Die gevolge kan katastrofies wees, veral tydens verkiesings waar leiers se gedrag onder die vergrootglas is.

Die grondslag van goeie joernalistiek bly steeds om die waarheid te vertel. Uitstekende joernaliste bly vasberade om die regte feite te rapporteer en dié in magsposisies aanspreeklik te hou. Die ontwikkeling van KI bring egter hierdie rol in gedrang omdat gehore begin twyfel oor wat eg is en wat versin is.

Die slimme kletsbot se vermoë om ʼn uitstekend geskrewe leuen te genereer, ondermyn so joernalistiek se geloofwaardigheid. Die gevolg is dat openbare vertroue in gedrang kom, en die idee van billikheid en onpartydigheid in joernaliste se omgang met die waarheid word in twyfel getrek.

In die Schumacher-onderhoud was dit eintlik kinderspeletjies vir vaardige gebruikers om die leuen raak te sien. Hoekom sal Schumacher sy eerste onderhoud sedert die ongeluk aan ʼn ponietydskrif gee wat nie juis bekend is vir sy hoë etiese standaarde nie? Dit gaan egter nie altyd so maklik wees om die spreekwoordelike kaf van die koring te skei nie.

Namate KI-algoritmes toenemend gesofistikeerd raak, neem die risiko toe dat KI-gegenereerde inhoud as werklike joernalistiek voorgehou kan word. Gevorderde kletsbotte gaan die voorkoms van fopnuus na ʼn hoër rat oorskakel en joernalistieke etiek uitdaag soos nog nooit tevore nie.

Dit bring ons by die vraag: Hoe kan deursigtigheid en aanspreeklikheid verseker word wanneer KI-stelsels betrokke is by inhoudskepping? Is dit moontlik om etiese riglyne daar te stel? Sonder stewige etiese standaarde is die risiko van verkeerde inligting, manipulasie en bevooroordeelde artikels groot. Om steeds as geloofwaardig gesien te word, sal mediahuise etiese reëls moet opstel oor hoe hulle joernaliste met KI en kletsbotte omgaan. Hierdie reëls moet sorg dat feite steeds deur mense nagegaan word en aanspreeklikheid beklemtoon word.

Boonop moet joernaliste en nuusorganisasies die koestering van hul unieke aanbieding en etiese posisie prioritiseer. Dit beteken om stories te lewer wat die menslike ervaring uitlig en die wat mag het tot verantwoording te roep. Kletsbot-gegenereerde artikels kan dit eenvoudig nie doen nie. Dis belangrik om te onthou dat KI-algoritmes nie ʼn morele kompas, empatie en kontekstuele begrip van wat noodsaaklik is om verantwoordelike joernalistiek te pleeg het nie.

Deursigtigheid by mediahuise is krities om gehore se vertroue te wen en te behou. Mediahuise moet oop kaarte speel oor die betrokkenheid van KI by inhoudskepping om te verseker dat lesers ten volle ingelig is. Nog meer – gehore moet opgevoed word. Mediakenners en -praktisyns moet ʼn kultuur van kritiese mediageletterdheid bevorder wat gehore toerus met die gereedskap om te onderskei tussen KI-gegenereerde inhoud en geloofwaardige menslike joernalistiek. Dit is juis hierdie etos van geloofwaardige joernalistiek wat, in die geval van Akademia, by studente in BA (Kommunikasie en Joernalistiek) aangewakker en bevorder word. Studente word opgelei om te midde van ʼn etiese moeras, waarin KI en kletsbotte gedy, as kampioene na vore te tree vir die joernalistieke waardes van waarheid, akkuraatheid en billikheid.

Nuusgebruikers gaan in hierdie tye mooi moet kyk of artikels geloofwaardig is en of daar nie eintlik ʼn kletsbot daaragter skuil, met teks wat spesiaal ontwerp is om te mislei, nie. Mediahuise aan die anderkant moet verantwoordelikheid neem en etiese joernalistiek aan die dag lê. Andersins gaan fopnuus floreer, terwyl joernalistiek krepeer.

Yolandi Groenewald meen die onus is op mediahuise om te verseker dat hul inhoud geloofwaardig is en dat daar aan etiese joernalistieke beginsels voldoen word.