Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die Feesbundel neem Afrikaanse navorsing by Akademia na nuwe hoogtes

Gepubliseer op: 21 Junie 2023

Die Feesbundel is vanjaar op 4 April by Akademia se akademiese prestigefunksie by Atterbury Teater bekendgestel. Hierdie bundel is ʼn spesiale multidissiplinêre publikasie met die tema “Dekade van pionierswerk” ter viering van Akademia se tiende jaar van klasgee in 2022. Die Feesbundel bevat twaalf ewekniebeoordeelde en afgeronde artikels wat 200 bladsye beslaan.

Volgens prof. Pieter Duvenage, een van die redakteurs van die Feesbundel, is navorsing een van die belangrikste aspekte van ʼn akademiese instelling. “Een van die maniere waarop ons Afrikaanse navorsing aan die breër akademiese publiek bekend kan stel is deur artikels. Die Feesbundel bevat daarom ʼn verskeidenheid akademiese artikels en bied ʼn blik op die navorsingsaktiwiteite by Akademia in die feesjaar,” sê hy. “Ons hoop dat die bundel as aansporing van verdere navorsing in Afrikaans binne en buite Akademia sal dien.”

Duvenage sê dat die Feesbundel ook direk by Akademia se leuse, Ad futurum per fontes, aansluit. “Afrikaans is al die afgelope honderd jaar tot ʼn sterk wetenskapstaal uitgebou en die Feesbundel neem vanuit hierdie wetenskapstaal en bou verder daarop deur die publikasie van akademiese artikels oor verskeie onderwerpe.”

Met die publikasie van die Feesbundel sluit die Akademia Uitgewery by ʼn eeue lange tradisie in die Westerse wêreld aan waar die universiteituitgewerye ook verantwoordelik is vir die uitgee van akademiese publikasies soos vaktydskrifte, meen Karien Brits van die Akademia Uitgewery. “Dit beteken dat die Uitgewery hiermee ook toetree tot die groter akademiese diskoers in die Afrikaanse wêreld.”

Sy beklemtoon egter dat die Feesbundel wel ʼn sterk akademiese aard het, maar nie net vir vakkundiges is nie. “Uit die aard van die verskeidenheid onderwerpe is die Feesbundel vir enigeen is wat hul horisonne wil verbreed en ʼn kykie in die navorsing by Akademia wil kry.”

Volgens Brits, ook een van die redakteurs, is dié bundel uniek weens die verskeidenheid temas wat in die bundel vervat word – van die diep filosofiese tot die praktiese. Die temas dek onder andere die filosofie, regte, taal, opvoedkunde, onderrig en leer, akademiese vaardighede en selfs studente se ervaring oor Akademia se elektroniese biblioteek.

Sy sê verder dat die Feesbundel beslis ʼn versamelaarsitem is vir Afrikaanse navorsing. “Dit is nie net gehalte inhoud wat deur ʼn streng keuringsproses met eweknie-evaluering gegaan het nie. Dit is ook ʼn plesier vir die oog met mooi en sinvolle uitleg van die artikels. Die Parthenon in Griekeland pryk ook op die voorblad wat die klassieke ontwerpstyl beklemtoon.”

Prof. Bert Olivier, een van die outeurs in die bundel, voeg by dat dit uitleg waarlik besonders van aard is. “Ek moet eerlikwaar erken dat hierdie die besversorgde stuk is – wat teksuitleg betref – wat ek nog ooit van ʼn uitgewer ontvang het […] dis feitlik volmaak.”

Volgens Brits is daar ʼn sterk moontlikheid dat daar in die toekoms weer ʼn soortgelyke publikasie die lig kan sien weens die toenemende fokus op navorsing in Afrikaans. “Dit was ʼn wonderlike avontuur om hierdie pionierswerk by Akademia te kon aanpak en dit met die Afrikaanse leserpubliek te kon deel,” sluit Brits af. “Die Feesbundel baan as’t ware die weg vir ʼn volwaardige vaktydskrif in die toekoms.”

Die Feesbundel kan gratis op die Akademia Uitgewery se webblad afgelaai word, maar diegene wat dit graag as ʼn versamelaarsitem wil aanskaf, sal dit binnekort op Die Winkel as harde kopie kan bestel.

Karien Brits van die Akademia Uitgewery tydens die bekendstelling van die Feesbundel by Akademia se prestigefunksie op 4 April.