Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Die jeug as dienaars vir hul tuistes

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia.

Gepubliseer op: 21 Junie 2023

Ter viering van Jeugmaand in Junie kyk ons na die jeug as dienaars vir hul tuistes. Daar is die ideologiese tendens onder hedendaagse universiteite wat aanspraak daarop maak dat universiteite die jeug moet voorberei om hul loopbaan weg van hul tuistes af na te jaag. Jack Baker en Jeffrey Bilbro konfronteer in die hart van hulle boek oor Wendell Berry, Amerikaanse digter en denker, juis hierdie ideologiese tendens. Ná hul studies aan hedendaagse universiteite, verduidelik Baker en Bilbro, moet die jeug beter lewens op beter plekke gaan soek omdat dit nie by hul eie tuistes te vinde is nie.

Universiteite is veronderstel om die vooruitgang van hul plaaslike tuistes en gemeenskappe na te jaag. Een van die maniere is om deugsame jeug en grootprentjie-denkers te laat afstudeer wat hul kennis en vaardighede tot die diens van hul plaaslike tuistes stel. Daar het egter ʼn beheptheid met die globale konteks ingetree wat uiteindelik ten koste van die plaaslike tuistes funksioneer.

Hierdie ideologiese tendens kweek sogenaamde “boomers”. Dit is gegradueerde jeug wat konstant op die uitkyk is vir beter loopbaangeleenthede op beter plekke. Hulle is vasgevang in aanhoudende, en ironies genoeg, onbevredigende pogings tot “opwaartse mobiliteit”. Ná genoeg pogings om “opwaarts” te beweeg in hul loopbaanreis verdwyn hul vermoë om tevrede te wees met wat hulle in die gegewe oomblik het. Daarmee saam is daar ook ʼn geweldige verlies aan enige sin van roeping en lojaliteit teenoor hul tuistes.

Volgens Baker en Bilbro kan hierdie verskynsel onder gegradueerde jeug as ʼn definitiewe tragedie van hoëronderwys bestempel word. Die manier hoe hierdie tendens egter onder hedendaagse universiteite hanteer kan word, is om hoëronderwys se funksie en doel ernstig te herbesin. So ’n herbesinning kan slegs waardevol wees indien die universiteit weer in die proses oop is vir die groot bronne van die klassieke universiteitswese wat die waarheid, goedheid en skoonheid van die werklikheid voor oë hou.

Akademia, as ʼn hoëronderwysinstelling, wil juis studente aanmoedig om die toekoms in te gaan saam met die bronne van ouds. Deur goeie opleiding wil Akademia die verbeelding van studente so vorm dat hul nie “opwaartse mobiliteit” bo alles najaag nie. Die instelling wil eerder ruimte maak vir ʼn verbeeldingryke visie van gesonde en deugsame tuistes. Deur diepgaande vorming ontwikkel studente ʼn toegeneentheid om hul tuistes lief te hê en te bewaar eerder as om deur geld, eiendom, status en mag gemotiveer word. In kort wil Akademia ʼn verhaal vir sy studente vertel wat hul toelaat om dienend om te sien na die tuistes wat vir hulle gegee is.

Dr. Daniël Maritz is die bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia.