Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Twintig pret-aktiwiteite vir gesinne tydens die skoolvakansie

Geskryf deur dr. Maretha Steyn, Elana Kriel en Susan O’Reilly van die Fakulteit Opvoedkunde by Akademia.

Gepubliseer op: 23 Junie 2023

In ʼn besige samelewing is gesinstyd ʼn luukse. Navorsing bewys dat gesinstyd egter belangrik is vir individue om verskillende redes, waarvan die meeste verband hou met persoonlike welstand. Dit bied ʼn geleentheid vir gesinslede om nader aan mekaar te kom, emosioneel te verbind en gesinsbande te versterk.

Vakansie is die ideale geleentheid vir gesinstyd. Vakansietyd is sinoniem met wegbreek van die daaglikse roetine van skool en werk. Dit is tye waarin kinders en volwassenes in die gesin hul fisiese en geestelike gesondheid kan koester en verbeter. Dit bied geleentheid vir lekker dinge, wegbreekdinge en kreatiewe dinge. Dit is omgeetyd – ʼn tyd vir die skep van lewenslange herinneringe deur gedeelde ervarings.

Die skoolvakansie het weer aangebreek. Dit is jagtyd, laatslaaptyd en wildtuintyd vir baie gesinne. Tog is daar dikwels volwassenes wat gedurende die vakansie moet werk. Ouers se beskikbaarheid om in aktiwiteite te deel of kinders na en van aktiwiteite te vervoer is dus beperk. Die finansiële implikasie van vakansiepret en -aktiwiteite kan ook nie uit die oog verloor word nie. Hierdie omstandighede daag gesinne juis uit om self kreatiewe aktiwiteite te beplan.

Hierdie beplanning van vakansie-aktiwiteite kan uitdagings en spanning meebring aangesien die kinders in tipiese gesinne gewoonlik in verskillende ontwikkelingsfases is. Vaardighede in fisiese, emosionele en veral sosiale domeine kan verskil, maar dit mag ons nie daarvan weerhou om gesinsaktiwiteite te beplan waarby al die gesinslede betrek word nie. Het jy al daaraan gedink om ʼn tema-aand te beplan? Die hele gesin kan by die keuse van die tema en die voorbereidings betrek word. Elk op sy of haar ontwikkelingsvlak. Elke gesinslid kan self besluit wat om aan te trek. Ouboet kan verantwoordelik wees vir die musiek wat by die tema pas, terwyl ousus die resep vir die aand se eetgoed vir kleinsus kan lees. Een van die gesinslede kan die uitnodigings ontwerp terwyl ʼn ander vir die versierings verantwoordelik is. Beplan ten minste drie aktiwiteite per week waarby die hele gesin betrokke is. Hier volg slegs ʼn paar idees vir gesinne om daardie kreatiewe denke te stimuleer:

  • Leer as gesin ʼn nuwe stokperdjie aan.
  • Woon ʼn kortkursus by om ʼn nuwe vaardigheid aan te leer of ʼn vaardigheid te verbeter, bv. teken, skilder, pottebakkers- of ander kunsvorm, nuwe taal.
  • Kampeer saam met die gesin. Sommer in die agtertuin!
  • Woon ʼn natuuraktiwiteit by soos lesings oor wildediere of besoek die dieretuin.
  • Besoek as gesin ʼn museum waarin jul belangstel of ʼn akwarium.
  • Probeer ʼn nuwe resep of gebak waarvan jul as gesin hou. Probeer ouma se beskuitresep!
  • Spandeer tyd in die natuur – jul eie tuin, staproetes, fietsry of bergklim in ʼn veilige natuurarea.
  • Pak ʼn piekniekmandjie, bak self die smulhappies en hou piekniek of in die tuin of by ʼn piekniekterrein.
  • Leer die kuns van fotografie aan – neem foto’s met ʼn kamera en leer nuwe verstellings op die kamera om die foto’s te verbeter, of gebruik ʼn selfoon en oefen met ʼn toepassing om die foto’s te verbeter.
  • Maak handwerkprojekte soos verf, klei of papiermaché en gaan deel dit by ʼn ouetehuis uit.
  • Neem jul troeteldiere vir daaglikse stappies.
  • Besoek markte.
  • Reël ʼn fliekaand by die huis, met springmielies en al.
  • Begin ʼn klein groentetuin of kruietuin by die huis.
  • Skryf jul eie gesinsresepteboek waarin al jul gunstelinge opgeneem word. Gee dan aan elke gesinslid ʼn kans om een van hierdie resepte te kies vir ontbyt of aandete! Bak en brou en eet as gesin saam.
  • Skryf jul eie storie en maak ʼn kort fliek met ʼn selfoon.
  • Doen niks nie – letterlik niks nie! Lê op jul rûe op die gras en kyk na die wolke, kyk na die sonsopkoms en sonsondergang met ʼn lekker warmsjokoladebeker in die hand.
  • Doen eenvoudige eksperimente soos ʼn vulkaanuitbarsting.
  • Hou ʼn storieaand. Elke gesinslid kan sy of haar gunstelingstorie voorlees of vertel. Julle kan ook Fontieland saam as gesin aanpak!
  • Bou ʼn fort met jou eetkamertafel, lakens en baie kussings! Kry ʼn spesiale wagwoord en slegs mense met die wagwoord mag die fort binnekom.

Sit dus die televisie en selfoon af, kruip stadig onder die verekombers uit en wees kreatief saam met jou gesin. Vakansietyd is nie ʼn luukse nie, maar wel ʼn noodsaaklikheid vir gesinne.

 

Dr. Maretha Steyn is die programkoördineerder vir die BEd (Grondslagfase-onderwys)-kwalifikasie by Akademia.

 

Elana Kriel is die programkoördineerder van die BEd (Intermediêre Fase-onderwys)-kwalifikasie by Akademia.

 

Susan O’Reilly is die programkoördineerder van die Nagraadse Onderwyssertifikaat vir Senior Fase- en VOO-onderwys by Akademia.