Search
Close this search box.

Anargistiese kommunisme – niks meer as ʼn lugkasteel nie

Geskryf deur Edward Blight, ʼn dosent in Ekonomie by Akademia.

Gepubliseer op: 26 Junie 2023

Ambisieuse en idealistiese jongmense wil die wêreld verander en verbeter. Een van die konsepte waarin hierdie jongmense soms glo, is anargistiese kommunisme. ʼn Konsep wat op die oog af lyk of dit die samelewing kan verbeter, maar wat prakties bloot nie werk nie.

Anargistiese kommunisme verteenwoordig ʼn idee waarin die samelewing vry gemaak word van kapitalisme én van regeringsbeheer. Hierdie idee vorm deel van Karl Marx se droomwêreld waarin die regering homself in die latere stadiums van die kommunistiese revolusie ontbind. Hierdie ontbinding vind plaas nadat die regering volle beheer geneem het van alles in die produksieproses en gevolglik alles herverdeel het.

Die ideaal om ʼn samelewing te wil skep waarin die staat en ongelykheid nie meer bestaan nie is ʼn teoretiese droom. Daar bestaan geen bewyse dat dit in die praktyk waargemaak kan word nie.

Daarby is die huidige kapitalistiese stelsel bloot net te gevestig en suksesvol. Dit bestaan om goeie redes reeds vir eeue. Hierdie gevestigde stelsel hef daagliks duisende mense wêreldwyd uit armoede op. Om te verwag dat die mensdom die sekerheid, sekuriteit, en welvaart wat hieraan gekoppel word bloot sal laat vaar, is onrealisties.

Al wat dit sal kan omvergooi, is ʼn kommunistiese revolusie waarin die massas die kapitalistiese stelsel verwerp. Wat is die moontlikheid van ʼn kommunistiese revolusie waarin ons die kapitalistiese stelsel en alles wat daarmee gepaard gaan bloot weggooi? Die antwoord is weereens, myns insiens, dat dit nie in die vooruitsig gestel word nie. Soos reeds verduidelik, skep die huidige stelsel sekerheid, sekuriteit, en welvaart. Hoekom sal ons daarvan onslae wil raak?

Waar die konsep van anargistiese kommunisme in duie stort en gevaarlik raak is in die oorgangsfase vanaf kapitalisme na kommunisme. Eerstens moet daar ʼn kommunistiese revolusie wees waarin die kapitalistiese stelsel omvergegooi word. Volgens kommunistiese denkers moet alle besighede en alle bates onder beheer van die staat geplaas word, wat dan beheer en bestuur van alles sal aanvaar.

Revolusies is ontwrigtend en gevaarlik. Dit skep omgewings waarbinne geweld en hongersnood gedy, terwyl dit baie skade aan mense en die samelewing rig. Mense wat meer het as ander se besittings sal byvoorbeeld gevat moet word om verdeel te word. Volgens kommunistiese denkers sal dié staat aansienlik meer mag kry om die proses van herverdeling te laat geskied. Ironies genoeg skep dit so meer ongelykheid.

Van hierdie punt af beweeg die konsep vanaf onrealisties na belaglik. Sodra die kommunistiese staat alles geneem het en die herverdeling van hulpbronne op kommunistiese lyne verdeel het, moet die staat homself ontbind. Die individue in die staat moet dus hulself uit hul eie magsposisies verwyder en doodgewone burgers word.

Ná die herverdeling van hulpbronne sal die politici die staat ontbind. Hierdie aksie veronderstel dat politici so goedgeaard is dat hulle hulself uit hul magsposisies sal verwyder tot voordeel en verbetering van die samelewing. Indien daar geen staat is nie, sal die samelewing anargisties van aard wees.

Die bogenoemde proses veronderstel iets van die menslike natuur wat totaal onrealisties is. Dit is selfs moeilik om in die geskiedenis voorbeelde te vind van regerings wat self besluit het om van hul mag onslae te raak. Die teoretiese begronding van anargistiese kommunikasie dring nie net in teen die menslike natuur nie, maar skep voorts onrealistiese verwagtinge oor die goeie aard van mense en meer spesifiek van politici.

Wat eerder sal plaasvind, is dat die staat sal herverdeel om die politici te bevredig en bloot vir altyd in bewind sal bly. Iets wat nog meer kommerwekkend is, is dat kommunistiese stelsels politieke opposisies verban, wat beteken dat individue in sulke state geen teenwigte het waarop hulle hulself kan beroep nie. Teenwigte in die politiese stelsel is krities om mense eerlik en verantwoordbaar te hou.

Suid-Afrika se regerende party het baie simpatie vir die kommunisme, en gaan van die uitgangspunt uit dat die staat ʼn indringende rol moet speel in alle landsburgers se lewens. Die probleem hiermee is egter dat bykans alles wat die regerende party aanraak oënskynlik negatief beïnvloed word. Dit is vandag moeilik om ʼn staatsdiens te vind wat nie korrup is, oneffektief is, of bloot net nie funksioneer nie. Wil ons regtig ʼn dinamiese privaat sektor aan so ʼn stelsel blootstel?

Anargistiese kommunisme is bloot net ʼn moderne verskuiling van die ou konsepte van kommunisme self, gegrond op die idee dat mens eerder moet fokus op anargisme as kommunisme. Hierdie konsepte is al voorheen probeer en dit het klaaglik misluk. Kapitalistiese state oorheers hul kommunistiese eweknieë, want hul vermoëns om hulpbronne effektief te allokeer is beter.

Dit word duidelik dat anargistiese kommunisme en die idees ten grondslag daarvan ver verwyderd is van die insig in die menslike sielkunde en die ekonomie. Hierdie stelsel steun voorts op aannames wat onrealisties en selfs belaglik is, en verwag van die mensdom om ʼn werkende stelsel te verruil vir ʼn teoretiese stelsel wat nie in die praktyk haalbaar is nie.

Dit is nie dat die kapitalistiese stelsel perfek is nie, maar op die keper beskou is dit beslis meer voordelig as die kommunisme.

Edward Blight meen dat anargistiese kommunisme en die idees daarrondom nie tred hou met menslike sielkunde en ekonomiese beginsels nie.