Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Openbare lesing oor Houellebecq en Girard by Akademia aangebied

Gepubliseer op: 3 Augustus 2023

Geskryf deur dr. Daniël Maritz, bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum

Op 20 Julie het die NP van Wyk Louw-sentrum vir prof. Johann Rossouw van die Universiteit van die Vrystaat (UV) ontvang om ʼn openbare lesing te lewer. Rossouw is hoof van die Departement Filosofie en Klassieke Studies. Hy fokus in sy navorsing onder meer op die vraag van die verhouding tussen die moderniteit en tradisie, asook op ʼn teologies-filosofiese kritiek op die moderniteit.

In sy openbare lesing genaamd “Girard, Houellebecq en mimetiese wedywering in die liberale verbruikersamelewing” het Rossouw gewys op die belangrikheid van die Franse denker, René Girard. Dié denke van Girard help ons om ons eie tyd beter te verstaan.

Volgens Rossouw het Girard reeds van sy vroegste werke af daarop gewys dat ons begeerte op ʼn mimetiese wyse gestruktureer is. Girard het met ander woorde bedoel dat wat ons begeer (soos ʼn mooi motor) nie soseer bepaal word deur die skoonheid van die motor self nie, maar omdat ander mense (veral mense wat in ons eie oë belangrik is) dit as mooi beskou. Dit wil sê mense soos ʼn bekende akteur, sportster of die hoof van die staat. In aansluiting by Girard het Rossouw aangetoon dat die mimetiese begeerte in die moderne wêreld dikwels tot intense vorme van mededinging en selfs vyandskap tussen mense lei.

Tegelyk het hy bespreek hoe spore van Girard se mimetiese opvatting van begeerte ʼn sentrale tema in die jongste roman van die toonaangewende Franse skrywer, Michel Houellebecq, is. Ondanks die feit dat Houellebecq krities oor Girard se teorie is, getuig sy eie roman van die belangrikheid daarvan.

Rossouw het sy lesing afgesluit deur ook die relevansie van die mimetiese begeerte vir ons in Suid-Afrika aan te toon. Ons kan kwalik ons eie toestand daarsonder begryp.

Met die reël van maandelikse openbare lesings wil die NP van Wyk Louw-sentrum van Akademia weer ʼn kultuur skep wat getuig van ʼn gewilligheid om te leer, te luister, uitgedaag te word en dialoog te voer. Saam met hierdie dinge is openbare lesings natuurlik ook een van Akademia se maniere om diensbaar tot die breër gemeenskap te staan op ʼn intellektueel verantwoordelike vlak. Wees daarom op die uitkyk vir Augustus-maand se openbare lesings wat deur die NP van Wyk Louw-sentrum aangebied sal word.

Dr. Daniël Maritz is die bestuurder van die NP van Wyk Louw-sentrum by Akademia.