Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Akademia-loopbaanskou ʼn rigtingwyser op studente se loopbaanreis

Gepubliseer op: 25 Julie 2023

Akademia het onlangs ʼn loopbaanskou op die Centurion-kampus aangebied. Verskeie instellings het tydens dié geleentheid, wat van 10 tot 14 Julie plaasgevind het, die kans gehad om hul loopbaangeleenthede aan Akademia-studente, oftewel Fonties, te bemark. Studente kon op hul beurt persoonlik met potensiële werkgewers netwerk, terwyl hulle ook kon kers opsteek by ervare en professionele kenners in hul onderskeie beroepsvelde.

Instellings wat aan dié geleentheid deelgeneem het, sluit onder meer in: Solidariteit, Tutor Doctor, die Akademie vir Dramakuns (ADK), Tubecon Africa (Pty) Ltd, Helpende Hand, Expeditus (Pty) Ltd, Osidon, TWK Agri (Pty) Ltd, CMV Rekenmeesters, Kruger & Kie Finansiële Bestuursdienste, die MMS Groep, Meintjies Vermooten & Vennote, BR Rekenmeesters, Oostelike Personeel Konsultante BK, JZA Advisory & Tax, HandPicked Recruitment, Agile Bridge en Steyn IP.

Volgens Mareli Swanepoel, bestuurder: Projekte by Akademia, was die loopbaanskou ʼn reusesukses en is sy opgewonde oor die toekomstige loopbaangeleenthede wat hierdeur vir studente ontsluit is. Sy noem voorts dat die instelling in die toekoms ook sulke geleenthede by die onderskeie sentrums sal aanbied.

“’n Loopbaanskou dien as ʼn belangrike rigtingwyser op ʼn student se loopbaanreis omdat dit as ʼn platform vir persoonlike én professionele groei dien,” verduidelik Swanepoel. Sy voeg by dat met die regte ingesteldheid en voorbereiding – soos om ʼn goed gestruktureerde CV gereed te hê, asook weldeurdagte loopbaanvrae te stel – ʼn student baie by so ʼn geleentheid kan baat. Voordele wat verband hou met die bywoning en aktiewe deelname aan ʼn loopbaanskou sluit in:

  • Netwerkgeleenthede soos internskappe, mentorskappe en werkaanbiedinge.
  • Blootstelling aan ʼn wye verskeidenheid industrieë en instellings.
  • ʼn Eerstehandse kennis van die verwagte werksvereistes en nuutste neigings in hul gekose velde.
  • Intydse terugvoer oor aspekte soos posbeskrywings en -verwagtinge.
  • Advies en praktiese wenke vir CV’s en optredes tydens ʼn werksonderhoud.
  • Die ontwikkeling van sagte vaardighede soos interpersoonlike kommunikasie, aanpasbaarheid en probleemoplossing.
  • Die bevordering van ʼn goeie selfbewustheid, veral in terme van ʼn student se belangstellings, sterkpunte en areas vir verbetering.
  • Die kweek ʼn gevoel van professionaliteit.
  • Die bevordering van ʼn student se kennis van nuwe bedryfsneigings en -verwagtinge.

In die lig hiervan moedig Swanepoel studente uit om geleenthede soos hierdie aan te gryp ten einde sinvolle loopbaanbesluite te kan neem.

Mareli Swanepoel, bestuurder: Projekte by Akademia, meen geleenthede soos Akademia se loopbaanskou bied aan studente ʼn gulde geleentheid om hulself te vergewis van die vereistes en moontlikhede van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark.