Kampusopedag op 10 en 11 Mei is oor

Dae
Ure
Minute
Sekondes
Search
Close this search box.

Leierskap in die werkplek: invloed, integriteit en identiteit

Gepubliseer op: 25 Julie 2023

Geskryf deur Paul Smit, Akademia-studentesake: Strategiese ontwikkeling

Leierskap kan op verskeie maniere gedefinieer word en as sodanig het hierdie artikel dit nie ten doel om diesulke definisies te bespreek nie. Inteendeel, ek wil by wyse van hierdie skrywe graag die aard van leierskap blootlê deur op invloed, integriteit en identiteit te fokus.

Leierskap is baie dinge, maar dit is ook onder andere invloed. Die vraag is nie wat jou posisie in die werkplek is nie of wat jou persoonlike definisie van leierskap mag wees nie, maar eerder of jy invloed uitoefen in jou werksomgewing.

Hier is ʼn paar voorbeelde van invloed in die werkomgewing:

  • ʼn Sekretaresse met ʼn hoë werksetiek (altyd betyds, hardwerkend, goeie menseverhoudinge) sal raakgesien word.
  • ʼn Bestuurder wat regverdig, ferm en doelgerig die organisasie se belange op die hart dra sal goeie terugvoer vanaf sy/haar medewerkers kry.
  • ʼn Afdelingshoof wat nie sy/haar eie belange voorop stel nie, wat opbouende gesprekke met sy/haar bestuurders inisieer, bou ʼn gesonde afdeling waarbinne gesonde verhoudinge deel van ʼn gesonde werkkultuur word.
  • ʼn Uitvoerende hoof wat met nederigheid, regverdigheid, goeie oordeel en goeie besluitneming ander raadpleeg en visionêr leiding neem sal die invloed van sy/haar leierskapsgroep in ʼn ontwikkelende organisasie ervaar.

Invloed word nou gekoppel aan integriteit. Wanneer ons met integriteit optree, het ons invloed. Integriteit beteken dat wie ons aan die binnekant is, akkuraat weerspieël word aan die buitekant. Eenvoudiger gestel is dit die manier waarop ander mense ons in alle omstandighede beleef. In die lig hiervan is ʼn dieper betekenis van integriteit om ʼn heel mens te wees (to integrate).

Integriteit is die kwaliteit om eerlik te wees met jouself en ander en om sterk morele waardes te bou. Dit beteken om eg te wees en om ʼn goeie karakter te ontwikkel. Wanneer ons met integriteit lewe, sal ons geïntegreerd leef met ons identiteit, ons unieke persoonlikheid, ons karakter, ons talente, ons geestelike lewe, ons verhoudinge asook ons denke en dade.

Integriteit beteken nie volmaaktheid nie, maar verwys na ʼn strewe om voortdurend te groei. Invloed en Integriteit is deel van ʼn sterk identiteit. Wie jy is, is baie belangriker as wat jy doen. Totdat jy weet wie jy is, kan jy nie doen wat jy geroep is om te doen nie. Om jou identiteit te vind veronderstel ʼn voortdurende proses, maar dit sal jou lei op ʼn reis van diepe selfontdekking:

  • Jy weet hoekom jy doen wat jy doen.
  • Jy weet jy is geskape om ander mense se lewens te verbeter.
  • Jy weet jy is geroep vir iets groter as jyself.

Psalm 78:70-72 bied aan ons ʼn goeie beskrywing van leierskap in die werkplek aan die hand van koning Dawid, as ʼn voorbeeld: “God het Dawid as sy dienaar gekies en hom van die skaapkrale af weggeneem. Agter die lammerooie het Hy hom weggehaal om sy volk te versorg. Dawid het die volk met toewyding versorg en hulle met oorleg gelei”.  (So He shepherded them according to the integrity of his heart …)

Vir Paul Smit is die eienskappe van invloed, integriteit en identiteit baie belangrik vir impakvolle leierskap in die werkplek.